SA se transitorooftog-epidemie ‘ontbloot’

Die polisie se forensiese-eenheid op die toneel by ’n transitorooftog naby Polokwane. Foto: Verskaf

Bheki Cele, die minister van polisie, het Dinsdag tydens sy besoek aan die polisie se misdaadintelligensiehoofkwartier in Pretoria gesê transito-rooftogte is een van vier misdrywe waarop daar nou gefokus moet word.

Dit volg nadat daar Woensdagoggend nóg ʼn gefnuikte poging van transitorowers was om ʼn geldwa in die Oos-Kaap te teiken. Sewe rowers is ook Dinsdag in Limpopo aangekeer nadat hulle Maandagoggend op ʼn geldwa buite Polokwane in die provinsie toegeslaan het. Later Maandag het nog ʼn transitorooftog in Heuweloord in Centurion, Gauteng plaasgevind.

Die Suid-Afrikaanse bankwese-risiko-inligtingsentrum (Sabric) het vroeër verlede week kommerwekkende statistiek oor die rooftogte bekendgemaak. Daarvolgens was daar landwyd reeds 141 van dié soort voorvalle sedert die begin van hierdie jaar. In Gauteng was daar toe al reeds 57 transitorooftogte, met Mpumalanga en die Oos-Kaap wat ook onder 18 rooftogte elke deurgeloop het.

anneliese-burgess

Anneliese Burgess die skrywer van ‘n boek wat transitorooftogte onder die loep neem. Foto: Anneliese Burgess/Twitter.

Beslis nie ʼn nuwe misdaad nie

Anneliese Burgess, skrywer van die boek Heist! South Africa’s cash-in-transit epidemic uncovered sê dit is belangrik om te verstaan dat hierdie misdaad al lank ʼn probleem in Suid-Afrika is.

“In 2014 was daar 180 gevalle van transitorooftogte en aan die einde van 2017 het ons 378 gevalle gehad.”

Wat maak hierdie misdaad so uitsonderlik? Burgess meen dit is ʼn gewelddadige misdaad en dit is skrikwekkend om te sien hoe dit nou al nader aan dorpe en stede kruip.

“In die verlede het die rowers te minste probeer om geldwaens op stiller en meer afgeleë paaie te teiken, maar dit is deesdae nie meer die geval nie. Die misdaad word gewetenloos gepleeg en muteer behoorlik soos ʼn virus omdat dit aanpas soos wat die omstandighede verander. Ons sien dit nou waar die rowers springstof gebruik om die geldwaens oop te blaas.”

Dan is daar ook die gevalle waar die veiligheidswagte wat geld vervoer, sommer aangeval word terwyl hulle tussen banke in winkelsentrums en hul geldwa beweeg om geld op of af te laai.

“Ons praat nie op die oomblik hieroor nie, want ons staar onsself blind teen die traumatiese voorvalle van geldwaens wat ontplof en die beeldmateriaal daarvan wat so vinnig en wyd op sosiale media versprei word.”

Burgess sê dit is eintlik hier waar die grootste toename in transitorooftogte was met ʼn 50% toename van dié soort rooftogte in 2017 alleen.

Die transitorooftog op Atlasweg in Gauteng in Maartmaand. Foto: Twitter via @TrafficSA.

Die rowers wat by die misdaad betrokke is, beskou dit boonop ook nog as uiters winsgewend. Sy het vir haar boek na tien spesifieke voorvalle gaan kyk uit die duisende rooftogte wat in die laaste twintig jaar voorgekom het.

“In die tien gevalle is meer as R245 miljoen gebuit. Net R30 miljoen van daardie geld is ooit teruggevind en R14 miljoen daarvan is weer gesteel uit die polisie se kluise.

“Dit is vir my skrikwekkend hoe baie geld gebuit word, hoe winsgewend dit is vir hierdie misdadigers en net hoe min van die geld ooit weer teruggekry word.”

Volgens Burgess was 2006 die jaar waarin die grootste hoeveelheid transito-rooftogte plaasgevind het – 460 gevalle om presies te wees.

In die jare daarna het transitorooftogte skerp afgeneem omdat die polisie dit ’n prioriteitsmisdaad gemaak het. Verder het die polisie ook nou met sekerheidsmaatskappye, wat kontant vervoer, begin saamwerk.

“Die polisie en die maatskappye het hul intelligensie bymekaargesit en op ʼn gevorder manier die misdaad bekamp. So het die polisie talle suksesse en ʼn paar groot hofsake gehad waarna misdadigers opgesluit is.”

Burgess reken transitorooftogte het weer stelselmatig begin toeneem en almal effens onkant gevang.

“Die polisie en die transitomaatskappye het gevoel hierdie ding is nou onder beheer. Toe ek my boek begin skryf het, het mense my selfs gevra hoekom skryf ek nou hieroor, want die misdaad is nie regtig meer ‘n kwessie nie. Nou sien ons dit is weer besig om sy tentakels uit te steek en dit is weer eens ʼn misdaadepidemie wat bekamp moet word.”

Sy reken ook daar moet gekyk word na wat die navorsing sê oor hoekom misdadigers by transitorooftogte betrokke raak.

“Sowat 70 misdadigers wat by transitorooftogte betrokke is, is vir die navorsing ondervra. Hulle sê hulle het geldwaens geteiken omdat dit maklik is, dit uiters winsgewend en ‘n lae risiko is. Hulle sê die kanse dat hulle in hegtenis geneem sal word, is klein en die kanse dat hulle uiteindelik vervolg sal word, is nog kleiner.”

Burgess meen die vlaag transitorooftogte kan net hokgeslaan word as dit ʼn hoërisiko-misdaad vir misdadigers word en sy reken dit is wat die polisie nou probeer doen. “Hulle wil sorg dat dié misdadigers vinniger gevang en vervolg word.”

“Generaal Johan Booysen, voormalige hoof van die Valke in KwaZulu-Natal en nou deel van die Fidelity-veiligheidsgroep, het op ʼn geleentheid gesê hy meen daar is sowat vyftig meesterbreine wat die transitorooftogte in Suid-Afrika dryf.

“Die klein groepie ervare transitorowers stig bendes om die misdaad te pleeg. Sommige splinter dan weer af en onderneem later weer hul eie rooftogte, dit is hoe die misdaad groei en muteer.”

Transitorooftog in Johannesburg (17 Maart 2018). Foto verskaf aan Maroela Media.

Wat van die samesweringsteorieë?

Sodra Suid-Afrika ’n vlaag van ’n sekere misdaad beleef, is daar ook vinnig talle teorieë wat daaroor opduik. ‘n Mens hoor nou op geselsradiostasies en sosialemediaplatforms bespiegelinge dat politieke betrokkenheid moontlik vir die oplewing in transitorooftogte blameer kan word, maar Burgess waarsku dat mense eerder nie jou ore moet uitleen vir dié soort praatjies nie.

“Hierdie is ’n misdaad wat gepleeg word omdat misdadigers maklik kan geld buit. Dit is, volgens my, waarop ons moet fokus. Ek hoor ook al hierdie teorieë en daar is absoluut geen getuienis om dit te ondersteun nie.”

Slaan transitorooftogte só hok

Burgess reken die plan om taakspanne aan te stel met ervare ondersoekbeamptes wat weet hoe om hierdie misdaad te ondersoek, en wat net op die misdaad kan fokus, sal ver gaan om die vlaag

transitorooftogte te bekamp.

“Natuurlik weet ons misdaadintelligensie is ’n probleem en met die nuwe hoof van misdaadintelligensie (genl.maj. Peter Jacobs) is ek positief dat daar weer ʼn fokus sal wees om proaktief teen die misdaad op te tree en dit in sy spoor te stuit voor dit nog plaasvind. Goeie misdaadintelligensie is ook belangrik vir die vervolging van die misdadigers.”

Skade aan die veiligheidsvoertuig na ‘n transitorooftog in Johannesburg in Mei 2018. Foto: Verskaf

Dit moet jy van transitorooftogte weet

Burgess sê ’n mens moet besef transitorowers is nie misdadigers wat sommer net een aand besluit hulle wil op ’n geldwa toeslaan nie.

“Hierdie is hoogs georganiseerde misdaad. Dit is professionele en ervare rowers wat waarskynlik vir dekades in transitorooftogte spesialiseer.

“Ons weet ook as hierdie bendes saamgestel word, soek hulle spesifiek vir mense wat die regte voertuie sal kan steel om die rooftogte te pleeg. Hulle soek ook spesifiek na vuurwapenspesialiste en intelligensieoperateurs. Die misdadigers spandeer ook baie geld aan beplanning en koop ook ongelukkig polisielede om om hulle met die misdaad te help.

“Die enigste manier vir ons om transitorooftogte hok te slaan, is om met dieselfde vlak van professionaliteit terug te kap.”

  • Luister ook boaan hierdie berig na die podsending waar Anneliese Burgess, die skrywer van die boek Heist! South Africa’s cash-in-transit epidemic uncovered telefonies van Johannesburg met Esté Meyer Jansen oor die vlaag van transito-rooftogte gesels het. Burgess verduidelik hoekom misdadigers hierdie rooftogte pleeg, hoekom die misdaad skielik weer so skerp toegeneem het en wat gedoen kan word om dit hok te slaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

20 Kommentare

Johan du Toit ·

Dis verkiesing volgende jaar. Iemand maak geld by mekaar.

D P J ·

Ek stem volmondig saam Johan du Toit.
Moet geld bymekaar maak vir omkopery.
Net voor die verkiesing neem die tipe Rooftogte toe!

MCS ·

Stem saam Johan du Toit, daar is beslis meer wat agter ‘n transito roof sit. Die ouers wat die werk doen werk net vir ‘n groter bron. Die geld word beslis aangewend vir befondsing van iets. As jy maar sien dan verskyn daar ‘n nuwe my steenkool myntjie langs die pad, sommer oornag. Dit kos geld om ‘n myn te begin. Wie weet wat als word befonds met die maklike bekom van geld. Wonder net tot wie se voordeel dit geskiet ( Mens of regering)?

Michael ·

Nie n wonder dat van die polisiemanne met sulke blink sport moters rond ry nie

Willie ·

Korrupsie in SA so diep, met soveel vingers in die koekieblik, ek dink ons regtig groot skrik as ons die omvang van alles moet weet…

Priscilla ·

Interesting to watch violent movies and then see copycat crimes out there…..

Ryan ·

Dis binnekort verkiesingtyd, sekeres het geld nodig om hul veldtogte te kan finansier, en diegene wat betrokke is by roof, voel heeltemal onskuldig. Die versekering betaal mos maar. Dit is amper ‘n Robin Hood tipe beweging.

Boela ·

JANEE TRANSITOROWE is nou baie belangrike as PLAASMOORDE< vreemd as daar GELD by betrokke is hoe vinnig almal in aksie kom maar waar witmense (mans, vrouens en kinders) wreed gemartel en vermoor word op plase dit afgemaak word as gewone misdaad en gewone moord op gewone mense "want dit gebeur oral". WEL wel . alweer dubbele standarde Bheki?

Francois ·

Nou maak dit sin.
Hoekom sal jy diep in n gevaarlike myn gaan goud uitgrawe vir kleingeld jou hele lewe lank soos n tonnel rot…..as jy eerder n cashvan kan opblaas en 10m buit. Maklik.
Dink ek is in verkeerde lyn.

Ralph ·

Hoekom het hier tipe misdaad nooit in die ou bedeling plaasgevind nie?. Nou ‘n nuwe ding met die huidige regering aanbewind en laat n mens vra as die altyd baie toeneem voor verkiesings, ook dat daar geen of bitter min van die geroofde geld teruggevind word.

J ·

1 vraag. waar kry die rowers hulle plofstof vandaan om geld waens en kitsbanke mee op te blaas. ?Wonder maar net.

Eish ·

Ek het nie meer enige hoop vir die helhool nie. Die Ramaforia sal stil-stil in die verrotting wegsink.

Daan ·

Plaas eenvoudig onuitwisbare ink in die geldhouer wat vrygestel word indien daar ‘n ontploffing plaasvind of indien die houer oopforseer word,wat dan die geldnote kleur en waardeloos maak.Die geldhouer word met ‘n kode gesluit,en met ‘n ander kode en elektroniese “token” ontsluit wat net aan die ontvanger bekend is.Die koste om nuwe note te druk kan deur premiebesparings betaal word.

snoefie ·

baie misleidende opskrif. niks is ontbloot nie. net bespiegelinge op die tafel gelê. as daar geen sameswering is of was nie, hoekom was n leë heldwa nog nooit geteiken nie?

Stephen Namibia ·

Die oplossing is baie eenvoudig.
Vervoer die geld in n eenvoudige ongemerkte motor. Met onopsigtelike begeleiding van ander ongemerkte voertuie. Wissel die voertuie gereeld.
Vriende van my in die Diamant bedryf loop met miljoene se diamante in hulle kortbroeksakke en t hemde en seilskoene in JNB se strate. Ver verwyder van die 3 stuk Pierre Gardin pakke en akte tassies van die 80’s. Hulle word nie geteiken nie!

Haat kontant ·

Ek stem 100% saam! Kontant moet net doodeenvoudig nie meer aanvaar word nie. Enige bankkaart kan deesdae gebruik word vir betaling of EFT’s kan via jou foon gedoen word. Hoekom gebruik mense nog ENIGSINS kontant? As die aanvraag na kontant afneem, sal kontant in omloop ook afneem en sal die vervoer van kontant nie eers nodig wees nie. Andersins stem ek ook saam met jou idee van ongemerkte motors.

Louis ·

Kyk na die verband tussen verkiessings en transito rooftogte. Iemand het geld nodig om die komende verkiessing te finansier Vinnige bron van geld

Vegter ·

Hierdie firmas weet hulle word dopgehou en is n risiko hoekom vir almal wys jy vervoer tonne geld?
Hoekom is daar nie 2 voertuie saam om trok te beman nie?hulle kry te maklik geld terug van versekerings. Dis verseker

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.