SA sendelinge ‘geroep’ om in Oekraïne te help

Rooies en Andrus Strauss. (Foto: Verskaf)

Hoop en die boodskap van Jesus se liefde.

Dít is wat sendelinge Rooies en Andrus Strauss vir inwoners van die oorloggeteisterde Oekraïne wil bring.

Pa en seun, albei pastore van Upington in die Noord-Kaap, is al byna ʼn maand in dié land waar hulle saam met ʼn klein groepie Suid-Afrikaners van Spear International help om onder meer brandstof, kos, mediese voorraad en ander benodigdhede aan inwoners te verskaf. Deel van hul span is die Suid-Afrikaanse sendeling Michele Potgieter wat al jare lank saam met haar gesin in Reni in Odesa woon.

Hulle werk ook nou saam met plaaslike dominees en pastore en reis deur verskeie dorpe – waaronder Charkif, Lwif en die hoofstad Kiëf – om slagoffers van die Russiese oorlog te bereik.

Die span maak hoofsaaklik op skenkings staat en kon daarmee ook al geld aan skuilings en veilige hawes skenk om hul kragrekening te betaal.

Bejaardes in Oekraïne ontvang benodigdhede. (Foto: Verskaf / Andrus Strauss)

Baie inwoners, waarvan meeste vroue en kinders, woon al maande lank in skuilings terwyl ander kampplek in ondergrondse spoorwegtonnels opgeslaan het. Sommiges is te bang om hul huise of woonstelle te verlaat of is weens verskeie redes nie in staat om dit te doen nie.

Andrus sê sommige bejaardes is basies in hul woonstelle vasgekeer aangesien hulle nie die trappe by hul woonstelblokke kan klim waar hysbakke nou buite werking is nie.

“Hier is baie vrees en baie seer. Hierdie mense het alles verloor. Die emosies loop maar hoog en baie mense weet nie eers waar hulle geliefdes is en of hulle veilig is nie. Al wat ons kan doen is vir hulle bid en ʼn stywe drukkie gee.”

Die sendelinge kan slegs tussen sekere tye van die dag rondbeweeg weens aandklokreëls in die onderskeie gebiede. Enkele winkels, supermarkte, banke en vulstasies is steeds bedags oop terwyl honderde ondernemings verwoes is of hul deure moes sluit.

Die verwoesting wat in van die Oekraïnse dorpe gesaai is. (Foto: Verskaf / Andrus Strauss)

“Die bomme val sommer so om ʼn mens. Ons het dit al baie ervaar vandat ons hier is. Die mense staan en bewe sommer so terwyl ons kos uitdeel.”

Rooies skerts en sê dat ʼn mens maar leer om “met oop oë te bid”.

“Drie maande gelede het hierdie mense se lewens heel anders gelyk. Daar is ook nie meer skeiding tussen klas, ryk en arm nie. Smart karre staan buite skuilings. Ek het ʼn jong vrou gesien wat met haar Louis Vuitton-handsak op ʼn matrassie tussen honderde ander mense in ʼn bunker sit,” sê Andrus.

Tog meen die Strausse dat die Oekraïners ondanks hul swaarkry, nie uit hul land wil vlug nie.

“Hulle weet die oorlog gaan nie noodwendig binnekort ophou nie, maar hulle verloor nie moed nie. Die algemene gevoel onder die mense is dat hulle as die wenners uit dié oorlog gaan stap.”

Kommer oor misbruik van kinders

Die verwoesting wat in van die Oekraïnse dorpe gesaai is. (Foto: Verskaf / Andrus Strauss)

Volgens Rooies is daar ʼn baie groot behoefte aan kos – veral onder mense wat in plattelandse, afgeleë gebiede woon en nie by winkels kan uitkom nie. “Die ander probleem is dat baie mense hul werk verloor het en nie geld het om kos te koop nie. Dus is hulle van skenkings afhanklik. In die groter stede en dorpe staan pakhuise wel vol kos wat onder mense versprei kan word.”

Behalwe vir die tekort aan kos, word oorloggeteisterde gebiede ook deur verskeie ander ernstige maatskaplike krisisse in die gesig gestaar. Die verkragting en seksuele misbruik van vroue en kinders – onder andere deur Russiese soldate – is iets wat dié sendelinge meen ʼn baie ernstige krisis is.

Andrus Strauss, Michele Potgieter, JD Booyse, Rooies Strauss, Arno Janse van Rensburg en Leon Schelhase. (Foto: Verskaf)

Kinders word ook aan seksuele dade en aktiwiteite in skuilings blootgestel en loop die risiko om slagoffers van molestering en verkragting in dié skuilings te word, waar massas mense saam gegroepeer is.

“Soveel verskillende mense – slegtes én goeies – bly saam in hierdie skuilings. Ons vrees wat met hierdie kinders kan gebeur of wat hulle alles moet aanskou,” sê Rooies.

Die pa en seun sê daar is ʼn ernstige behoefte aan trauma- en oorlogberading in Oekraïne.

“Ons beplan om oor ʼn paar maande met beraders terug te keer.”

Rooies sê daar is ook ʼn behoefte aan mediese behandeling.

“Hierdie mense word siek en steek mekaar aan. Baie van hulle is ook te bang om uit hul skuilings te gaan en doen dan allerlei siektes op. Hier is mense wat maande laas son gesien het.”

Die Strausse doen ʼn beroep op vrywillige Suid-Afrikaners om saam met hulle na Oekraïne te gaan – veral mense met ʼn agtergrond in noodhulp of paramedici, asook mense wat berading kan of wil doen. Die Strausse bied ook opleiding in berading aan.

En ja, ʼn mens is bang, sê Rooies.

Die verwoesting wat in van die Oekraïnse dorpe gesaai is. (Foto: Verskaf / Andrus Strauss)

“Dis menslik om bang te wees, maar jy moet jou vrees kan bestuur en beheer.

“Ons is hier omdat Jesus ons geroep het om te kom help en Hy het reeds soveel deure vir ons oopgemaak.”

Mense wat belangstel om deel van die span te vorm, kan Rooies ná 24 Mei op 082 789 9550 kontak.

Andrus en Rooies deel gereeld foto’s, video’s en inligting van hul ervarings in Oekraïne op Facebook.

Rooies het pas ook sy eie Twitter-profiel geskep vir dié doeleindes geskep.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Jason ·

Wow, baie respek vir die Strausse. Hulle praat nie net nie, hulle doen !

Misky ·

Ek het ‘n program oor die Rooies gesien. Ek het my bedenkinge oor die man, sy geloof en hoe hy preek.

Grens ·

Jy hoef nie bedenkinge oor hom te he nie, ek ken hom persoonlik, baie reguit ja, maar sy hart is om mense te red.

Helgard ·

Julle het nou van Oekraine gehoor en emosioneel op die wa gespring. Kom preek nou bietjie van ‘God se liefde’ op die Kaap se vlakte…

Grens ·

Dries, nou begin jy solank die voortou neem, dan kan ek jou kom help.

Kobus ·

Dankie hul onbaatsugtige diens, hoop die Putin ondersteuners kan saam gaan om te Sien dat daar werklik lyding plaas vind en dit nie net westerse propoganda is en Hollywood special effects nie.

Gerhard ·

Geen oorlog is sonder lyding nie en my hart gaan uit na elke persoon wat ly aan beide kante van die geveg. Ek wens net dat die afgelope 15 jaar se lyding in die 2 republieke dieselfde empatie kan geniet as wat westerse propoganda aan Oekraiene verleen. Gaan vergewis julleself asb op grondvlak wat is die werklike feite wat verswyg word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.