SA sendelinge in Wes-Afrika smeek om hulp

Pastoor John Dachada (links) en die leraar Ryan Muller (regs) (Foto: South Africans Locked-Down in Ivory Coast, Facebook)

Twee Suid-Afrikaanse sendelinge is al ʼn maand lank in die Ivoorkus in Wes-Afrika gestrand weens die landwye afsondering in dié land. Hul families en kerk in Suid-Afrika werk onverpoos om hulle weer so gou as moontlik veilig by die huis te kry.

Hul enigste hoop om ʼn vlug van Ghana na Suid-Afrika te haal is boonop verpletter toe Ghana hulle toegang tot die land geweier het.

Pastoor John Dachada en die leraar Ryan Muller het meer as ʼn week voor die instel van die landwye afsondering na die Ivoorkus vertrek om ʼn groep van 24 kerkleiers oor die Bybel te onderrig.

“Toe ons op 15 Maart na die Ivoorkus vertrek het, was daar minder as 50 gevalle van die virus in Suid-Afrika en minder as 15 in Ivoorkus aangemeld. In ons oë was dit nog veilig om te reis. Ons is onkant gevang toe Ivoorkus se president op die 23 Maart die land in kwarantyn geplaas het. Drie dae daarna is Suid-Afrika se landwye afsondering ingestel. Ons het vasgevang gevoel,” vertel Muller.

Muller sê nadat hulle van die afsondering uitgevind het, het hulle na die Suid-Afrikaanse ambassade in Abidjan gegaan en versoek dat hulle na Suid-Afrika teruggevlieg word. Die ambassade kon hulle egter nie help nie.

Dié twee sendelinge kommunikeer sedert 2 April met die departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco) om te onderhandel oor hul repatriasie. Hulle is egter op 4 April per e-pos in kennis gestel dat hulle nie sal kan terugkeer na Suid-Afrika nie, weens die landwye afsondering.

“Ons het al alles in ons vermoë gedoen en verskillende kanale gevolg om gerepatrieer te word, maar dit was tot dusver onsuksesvol,” sê Muller.

Net toe dié twee begin hoop verloor het die ambassade in Abidjan hulle verlede Woensdag gekontak en meegedeel dat ʼn repatriasievlug van SAL Sondag uit Frankfurt in Duitsland na Suid-Afrika vertrek en Ghana gaan aandoen om Suid-Afrikaners daar op te laai.

Die families en kerk in Suid-Afrika werk onverpoos om hulle weer so gou as moontlik veilig by die huis te kry (Foto: South Africans Locked-down in Ivory Coast, Facebook)

Die ambassade was in kontak met die regering van Ghana om die nodige grenspasse vir die twee sendelinge te reël om van Ivoorkus na Ghana deur die grenspos te reis.

Muller vertel hulle het Vrydag R14 000 (R7000 per persoon) aan SAL oorbetaal vir hul vlugkaartjies huis toe. Die Ivoorkus se papierwerk was op daardie stadium gereed en hulle het net vir Ghana gewag om hul reis oor die grens van Ivoorkus na Ghana goed te keur.

“Later die dag het Ghana se regering laat weet dat hul nie die grensposte vir ons gaan oopmaak nie. Hulle het ons ook verwittig dat die repatriasievlug wat van Accra sou vertrek het, nie meer gaan plaasvind nie.”

“Hierdie valse hoop het ons emosioneel hard getref.”

Muller en Dachada het ʼn Facebook-blad geskep, “South Africans Locked-down in Ivory Coast,” waar hulle hul noodkreet uiter met die hoop dat iemand dit raaksien.

Dachada en Muller saam met die kerkleiers (Foto: South Africans Locked-down in Ivory Coast, Facebook)

“Ons hou vas aan elke stukkie hoop om huis toe te kan gaan,” sê Muller.

In ʼn video sê ʼn emosionele Muller dat hy sy dogter se 21ste verjaardag gemis het. “Ek het haar gelukgewens met ʼn video-oproep wat na vyf minute weens die onstabiele netwerk onderbreek is. Ek het een van die belangrikste dae in haar volwasse lewe gemis.”

Muller sê hy verlang sy familie. “Al gesels ons oor die foon is daar steeds ’n skeiding tussen ons. Jy kan steeds nie mekaar in lewende lywe sien of omhels nie. Ek mis dit om my kinders te hoor lag en soms te hoor stry. Ek verloor kosbare tyd saam met my gesin. Dit is waar wat hulle sê: Jy besef nie wat jy het totdat dit van jou weggeneem word nie.”

Ten spyte van die hartseer en spanning gaan Muller en Dachada steeds blymoedig met die Bybelonderrig voort.

Muller sê die geld wat hulle aan SAL betaal het, was hul laaste noodkontant. Hulle reserwefondse is ook byna al uitgeput.

Suid-Afrikaner in Suid-Soedan

ʼn Man wat sedert Januarie vir ʼn niewinsgewende organisasie in Juba in Suid-Soedan werk, is daar gestrand daar sedert Suid-Afrika en Suid-Soedan grense vir passasiersvlugte gesluit het. Hy verkies om anoniem te bly.

Die man vertel hy sou ʼn vlug na Suid-Afrika haal voor die instel van die landwye afsondering op 26 Maart. Die vlug is egter gekanselleer omdat Suid-Soedan se regering besluit het om die grense vir alle passasiersvlugte te sluit.

“Daar was wel al twee passasiersvlugte sedertdien wat tot in Addis Abeba gevlieg het, maar nie van daar tot in Suid-Afrika nie,” vertel hy.

Hy het die Suid-Afrikaanse ambassade daar probeer kontak en eers ná ʼn gesukkel iemand in die hande gekry. Hulle het vir hom gesê daar is niks spesifiek wat hulle kan doen nie.

Gestrande ingenieur in Mongolië

ʼn Suid-Afrikaanse ingenieur wat sedert Februarie in Mongolië aan ʼn projek werk, sit met sy hande in die hare nadat sy vlug ʼn dag voordat hy sou terug vertrek na Suid-Afrika, gekanselleer is. Hy sou op 10 Maart terugkeer huis toe.

Hy wag nou terwyl een na die ander vlug huis toe gekanselleer word.

Ondanks al die onsekerheid probeer dié ingenieur die silwer randjie in die situasie vind.

“Mongolië is ’n besonderse land. Die mense is vriendelik, hulpvaardig en hardwerkend.”

Die ingenieur vertel hulle het baie goeie verblyf en kry goeie kos. Mediese ondersteuning is in baie goed toegeruste fasiliteite beskikbaar.

“ʼn Mens mis natuurlik jou familie en daardie eenvoudige alledaagse goed wat ons as vanselfsprekend by die huis aanvaar. Goed soos biltong en beskuit.”

SA’ners in Brittanje kan huis toe kom

Intussen het die Suid-Afrikaanse hoëkommissariaat in Brittanje aangekondig dat gestrande Suid-Afrikaners Saterdag deur SAL gerepatrieer sal word. Die vlug vertrek Saterdag omstreeks 18:25 van Frankfurt in Duitsland en land Sondagoggend omstreeks 05:05 in Johannesburg.

Die kommissariaat het gesê reisigers in Brittanje word aangeraai om hul eie reëlings met betrekking tot die reis na Duitsland te tref.

Kaartjies vir dié vlug kos R11 994 (612€) per passasier, wat vooraf betaalbaar is. Geen kredietkaarte word aanvaar nie.

Suid-Afrikaners wat wil aansoek doen vir dié vlug kan ʼn e-pos na [email protected] stuur.

Besoek die kommissariaat se Twitter-rekening en SAL se webblad vir nog inligting.

A Heartbreaking message from Ryan Muller #bringthemhome please help by sharing this page, liking this post and commenting #bringthemhomePlease see Joburg City Church link below to see if you can help…https://m.facebook.com/JoburgCityChurch/photos/a.451330262297220/675932996503611/?type=3

Posted by South Africans Locked-Down in Ivory Coast on Monday, April 13, 2020


Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Johan ·

Ek was baie daar al wat jou kan help is ongelukig die moslem gemeenskap.Hulle het n hele paar ouens indieselfde posisie in kornekey gehelp.Daar is ng goeies

Jaco ·

Net 2 woorde is die rede waarom hulle so sukkel:
Verkeerde Velkleur

Gawie ·

Met SAL in die verknorsing kan hulle seker maar ook daardie geld groet.
Maar dis wonderlik dat hulle ten minste aangaan met die opleiding – hulle is nou daar, gebruik die tyd vrugbaar.

Emily ·

Maar hoe verstaan ek dit nou, Vorige berig se dat daar na Miami en Ghana gevlieg gaan word om mense te kry.
Ons verstaan julle penaries, maar ek hoop eerlik almal wat nou aangevlieg word, gaan eers in kwarantyn gaan.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.