SA skaatsplank-ster mik na Olimpiese Spele

Brandon Valjalo hoop om Suid-Afrika by die Olimpiese Spele te verteenwoordig. (Foto: Wikus de Wet/AFP)

Terwyl ander skaatsplankryers ʼn oomblik geneem het om hul asem terug te kry, het Suid-Afrika se Brandon Valjalo net weer teen die volgende helling afgejaag, teen ʼn reling verbygegly en in die lug getol.

Hy land grasieus op sy voete, maar die 22-jarige is ooglopend ontevrede met sy tegniek en gaan terug vir nóg ʼn ronde.

By die skaatsplankpark in Sandton, Johannesburg, skiet jong atlete hulself in die lug in, tol en tref die beton terwyl ʼn klein skare van agter die heining juig.

Valjalo is die grootste trekpleister.

Net twee byeenkomste lê tussen hom en sy verteenwoordiging van Suid-Afrika by die Olimpiese Spele in Tokio, waar skaatsplankry vir die eerste keer as ʼn medaljesport aangebied word.

Die kwalifseringsproses, wat vir ʼn jaar lank uitgestel is weens die Covid-19-pandemie, word vandeesmaand hervat. Die wêreld se 20 topskaatsplankryers kwalifiseer, en Valjalo – in die 49ste plek – het nog baie werk wat voorlê. Hy is egter vol vertroue dat hy die paal gaan haal.

In die no. 1-posisie in Afrika gaan hy waarskynlik kwalifiseer as die vasteland se verteenwoordiger, ongeag sy plek op die wêreldranglys.

Droom bewaarheid

Valjalo het as driejarige die eerste keer sy voete op ʼn skaatsplank gesit toe hy sy broer se ou plank in die motorhuis gevind het. Op nege het hy ʼn passie vir die sport ontwikkel wat sedert die 1960’s op Amerikaanse en Europese sypaadjies gedy het.

Skaatsplankry is die “vryheid om enigiets te doen wat jy wil,” sê Valjalo.

Valjalo het in 2013 vir sy eerste professionele kompetisie ingeskryf – hy was toe 14 jaar oud – en het sy eerste kampioenskap ʼn jaar later gewen.

Beker ná beker het Valjalo sy pad oopgeskaats totdat hy in 2017 as wenner by die Afrika-kampioenskap gekroon is – ʼn titel wat hom uitnodigings besorg het om teen Europa se elite te gaan kragte meet.

Om Suid-Afrika by die Olimpiese Spele te verteenwoordig sal ʼn “eer” wees, sê hy.

“Van kindsbeen wou ek die hoogste sport van mededingende skaatsplankry bereik. Dit is ʼn droom wat bewaarheid word.”

Valjalo is Afrika se voorste skaatsplankryer. (Foto: Wikus de Wet/AFP)

Valjalo het al wêreldwyd in skaatsplankparke geoefen, van Kalifornië tot in sy eie agterplaas. Maar dit is die stowwerige Suid-Afrikaanse strate waar sy vaardighede werklik geslyp is.

Valjalo is gebore en getoë in Johannesburg en onthou die ure lank rondry in die strate van die stad om te midde van die groot voorkoms van straatmisdaad, ʼn geskikte plek te kry om te oefen. Hy vergelyk dit met oefen op sand om vinniger op gras te hardloop.

Skaatsplankryers is dit nie eens oor die vraag of die sport mededingend moet wees of eerder op die strate moet bly waar dit aanvanklik begin het nie. Valjalo glo egter die sport op die strate en dié in kompetisies is albei belangrik, en dat die Olimpiese Spele dit boonop veel groter blootstelling gaan gee.

“Hulle het gesien dit het soveel toeskouerwaarde en is geweldig lekker vir mense om na te kyk,” sê Valjalo wat 28 000 volgelinge op Instagram het.

Die Spele gaan die beeld van skaatsplankryers as “uitgeworpenes wat daarvan hou om in parke uit te hand en dagga te rook” uitwis en dit goedkeuring gee as ʼn “regte werk”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.