SA skort inenting met J&J tydelik op

(Argieffoto: GCIS)

Die Suid-Afrikaanse regering het besluit om die inenting van gesondheidswerkers met die Johnson & Johnson-entstof tydelik te staak.

Dit ná enkele gevalle aangemeld is van mense in die VSA wat bloedklonte ontwikkel het ná hulle met dié entstof ingeënt is.

“Na aanleiding van berigte uit die VSA het ons besluit om as voorsorgmaatreël die toedien van Johnson & Johnson-entstof tydelik te staak. Ons het reeds verskeie vergaderings met belangegroepe oor die kwessie gehad en hoop om binne die volgende paar dae meer antwoorde te hê,” het dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, Dinsdagaand tydens ʼn nuuskonferensie gesê.

Die minister het benadruk dat daar nog geen direkte verband is tussen die vorm van bloedklonte en die entstof nie en dat geen van die meer as 290 000 gesondheidswerkers wat tot dusver in Suid-Afrika hiermee ingeënt is, enigsins tekens van bloedklonte getoon het nie.

Dr. Zweli Mkhize kry die Covid-19-inenting by die Khayelitsha distrikshospitaal in die Wes-Kaap. (Foto: Siyabulela Duda/GCIS)

“Ons is vol vertroue dat ons binnekort met die inenting van gesondheidswerkers met die Johnson & Johnson-entstof sal kan voortgaan.”

Maroela Media het vroeër Dinsdag berig die VSA se Food and Drug Administration (FDA) en die Amerikaanse sentrums vir siektebeheer evalueer tans die “potensiële betekenis” van die voorkoms van serebrale veneuse sinustrombose (CVST), ʼn soort bloedklont in die brein, tesame met ʼn gebrek aan bloedplaatjies (trombositopenie) wat by ses pasiënte aangemeld is. Die pasiënte is almal vroue tussen 18 en 48 jaar oud, wat 14 dae ná inenting simptome begin toon het.

ʼn Bykomende miljoen dosisse van die Johnson & Johnson-entstof word teen einde volgende week in Suid-Afrika verwag vir die regering om die tweede been van sy inentingsplan af te skop. “Ons hoop en glo dat hierdie kwessie in ʼn baie kort tyd opgelos sal word en glo daarom nie dat dit ʼn groot invloed op die instelling van ons entstofplan sal hê nie.”

Prof. Helen Rees, raadsvoorsitter van die Suid-Afrikaanse Reguleringsowerheid vir Gesondheidsprodukte (Sahpra), het ook gesê die aantal gevalle waar bloedklonte by pasiënte gevorm het, is in dié stadium uiters min en dat ondersoek onmiddellik ingestel sal word indien enige Suid-Afrikaner wat met die betrokke entstof ingeënt is, tekens van soortgelyke komplikasies toon. Sy sê in gevalle waar ʼn entstof op een slag aan miljoene mense toegedien word, sal daar uiteraard by sommige mense komplikasies ontstaan.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Jaco ·

6 uit 7 miljoen en al 6 word behandel ek is gelukkig met daardie odds. Van die 300 000 in SA nog niks

Karen ·

Ek praat onder korreksie, sover my kennis strek het 6 mense bloedklonte in SA gekry of meer en 6 is oorlede? So iets

Juls ·

6 mense in die VSA het bloedklonte ontwikkel. Een is dood, een is in intensief.

Jack ·

Die een wat sahpra goedgekeur as proefstof. Vergeet de entstof wat in elk geval nog nie behoorlik getoets is nie en gebruik ivermektien wanneer nodig. Dit is veilig en na 30’jaar bewys.

Andre ·

Glo enige persoon regtig hulle gaan dit stop oor net 6 mense iets oorgekom het? Regtig?

Juls ·

Ek hoop nie hulle stop dit nie, ek is gebook om myne vrydag te kry

Regverdigheid ·

Dankie maar nee dankie vir daai inspuiting… dit moet eers bewys dat dit wel werk .

Karina ·

Entstof is nog nie behoorlik getoets nie, daarom sal ek dit nie kry nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.