SA skrywer wen gesogte internasionale boekprys

Damon Galgut (Foto: Tolga Akmen/AFP)

Die gesogte Booker-prys is aan die Suid-Afrikaanse skrywer Damon Galgut vir sy roman The Promise toegeken.

“Ek is regtig innig, nederig dankbaar hiervoor,” het die 57-jarige Galgut gesê toe hy die gesogte Britse toekenning by ʼn seremonie in Londen ontvang het.

“Dit het ʼn lang ruk gevat om hier te kom en noudat ek dit reggekry het, voel dit eintlik of ek nie hier moet wees nie,” het Galgut, wat sy eerste roman op 17 jaar geskryf het, bygevoeg.

The Promise handel oor ʼn wit gesin wat op ʼn plaas buite Pretoria woon. Dit strek oor ʼn paar dekades en toon die gesin se groeiende disintegrasie namate die land na demokrasie vorder.

Volgens Galgut wou hy met The Promise wys hoe “die verloop van tyd” ʼn uitwerking het op ʼn gesin, ʼn land, sy politiek en “begrippe van geregtigheid” terwyl sterflikheid ook ondersoek word.

“Dit was ʼn wonderlike jaar vir skryfwerk uit Afrika. Ek wil graag die toekenning aanvaar namens al die stories wat vertel en onvertel is én die bekende en onbekende skrywers van die merkwaardige kontinent waarvan ek deel is,” het Galgut gesê.

Galgut het skrywers van onder meer Sri Lanka, Brittanje en die VSA uitgestof om met die toekenning weg te stap.

Maya Jasanoff, voorsitter van vanjaar se beoordelaarspaneel, het The Promise uitgesonder vir “ongelooflike oorspronklikheid” en ʼn roman met “historiese en metaforiese betekenis”.

The New Yorker het The Promise as “merkwaardig” bestempel terwyl die Suid-Afrikaanse Sunday Times gesê het “dit is verstommend hoeveel geskiedenis Galgut in hierdie kort roman inpak”.

Die enigste ander Suid-Afrikaners wat die prys al gewen het, is Nadine Gordimer en JM Coetzee wat dit al twee keer gewen het.

Galgut is al twee keer vantevore vir die prys benoem – in 2003 vir The Good Doctor en in 2010 vir In a Strange Room.

Die Booker-prys is een van die gesogste literêre toekennings vir romans wat in Engels geskryf is. Die wenner ontvang prysgeld van £50 000, asook ʼn reusehupstoot rakende verkope en sy of haar openbare profiel.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Belinda ·

Ek is nie een wat boek lees nie maar hierdie storie klink baie interessant.
Wel gedaan, mag jy nog vele ander boeke skryf en toekennings soos dié inpalm.
Wie weet, miskien sal ek die boek koop…

groenboer ·

Ek het nog net een van sy boeke gelees, naamlik die roman wat hy op 17 -jarige ouderdom geskryf het. Dit is ‘n heel uitstaande boek, veral as mens in ag neem hoe jonk die skrywer was. Hy’s ‘n man van groot talent, so dalk is dit hoog tyd dat ek meer van sy werk onder oë kry.

Elize ·

Moet dit lees!! Klink of dit ook ‘n goeie fliek sal maak.

Andries ·

Pas net op dat hierdie boek aangeprys word omdat daar ‘n verlekkering (schadenfreude) of leedvermaak is oor Afrikaner teëspoed nie.

Pampoen ·

Sou baie graag wil hoor wat sê (ons) mense wat dit al gelees het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.