SA slagoffer van mensehandel terug op eie bodem

Argieffoto

Die Suid-Afrikaanse meisie wat die afgelope naweek uit die greep van mensehandel in Maleisië gered is, is veilig terug in die land.

Maroela Media het vroeër berig dié meisie is saam met ʼn groep meisies van sowat 14 ander lande buite Suid-Afrika gered danksy samewerking tussen Interpol, die Valke, die Suid-Afrikaanse Polisiediens en die Suid-Afrikaanse ambassade in Maleisië.

Fikile Mbalula, minister van polisie, het gesê taakspanne het verlede week opdrag gekry om die meisies te bevry ná ʼn wenk aan sy kantoor.

Mbalula het Maandag in ʼn verklaring gesê die meisie, wat Sondag op die Internasionale Lughawe OR Tambo geland het, is nou buite gevaar.

“Ek wil ʼn paar belangrike opmerkings maak. Sy was ʼn ware slagoffer van mensehandel en verdien ons onvoorwaardelike liefde en versorging. Die media moet haar nie van voor af ʼn slagoffer maak nie, sy het absoluut niks verkeerds gedoen nie. Sy was die slagoffer van ʼn ernstige misdaad,” sê Mbalula.

Hy sê in sy verklaring mensehandel moet baie ernstig opgeneem word, en dat selfs net een slagoffer van dié misdaad reeds te veel is.

Mbalula sê meisies van onder meer die VSA, Filippyne, Haiti, Rwanda, Zimbabwe, Indië, Denemarke, Meksiko, Peru en Barbados is met die sogenaamde “Miss United Countries”-skoonheidskompetisie na Maleisië gelok. Hy sê die meisies is almal deur middel van Facebook in die lokval betrek.

“Ek is dankbaar dat al die ander meisies saam met ons Suid-Afrikaanse meisie gered is. Dit is ʼn ernstige saak en die skuldige sal beslis vervolg word.”

ʼn Zambiese man is in Maleisië in verband met die voorval in hegtenis geneem. Mbalula sê nog verdagtes, wat deel van ʼn mensehandel-netwerk vorm, sal in die volgende paar dae ook in hegtenis geneem word.

Enigiemand wat al voorheen by onder meer die skoonheidskompetisies Mej. United Countries, Mej. Face of Limerick, Mnr. en Mej. Lakewood, Mej. Teen Heritage, Mej. Catarman, Mej. High School World, Mej. Heritage South Africa International, Mej. Varsity Free State en Mej. Supreme Queen International betrokke was of daarvoor gewerk het, moet die polisie bel met meer inligting oor dié kompetisies.

“Families met vermiste geliefdes wat aan dié kompetisies deelgeneem het, moet ook die polisie of die Valke bel,” het hy gesê.

Mbalula het ook ʼn beroep op jong meisies gedoen om versigtiger op sosiale media te wees. “Jong mense moet alles eers nagaan en nie sommer net iemand blindelings vertrou nie – selfs al lyk dit ook eg. Hulle moet ook altyd vir ʼn volwassene of vriend sê waarmee hulle besig is en waarheen hulle gaan.”

Volgens die internasionale organisasie vir migrasie in Pretoria is mensehandel algemeen in lande soos Ierland, Zimbabwe, Israel, Switserland, Macau en Nederland. Mbalula sê Suid-Afrikaners moet hulle egter nie blind staar daarteen nie, aangesien dié misdaad baie gereeld ook in Suid-Afrika gebeur.

Slagoffers van mensehandel word in baie gevalle vir slawerny of as prostitute gebruik, of vir orgaanhandel en in baie gevalle ook vir moetie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

WAAAAR IS DIE OUERS? ·

Verseker kan ons nie die blaam op die meisies pak nie. 12 – 13 – 14dis nog KINDERS.
Wat ek nie verstaan nie is WAAROM het hierdie kinders Sosiale Media Rekeninge? Hoe kry die kriminele hulle in die hande?
Waar is die Ouers wat hyl kinders moet oppas en beskerm….

#NoSosialMediaBefore18

Verkeerd gelees.... ·

…ai tog… dis wat gebeur as mens net scan deur n berig. Ek sien 14 toe neem ek aan dis die ouderdomme. Oeps
Maar ek neem aan die meisies is seker nog minderjarig..? So my punt bly nogsteeds dieselfde.
…OUERS moet begin om hul ouerlike pligte meer ernstig toe te pas!

D. ·

Die meisie was 24 jaar oud, so sy is nie minderjarig nie, en sy’t nogsteeds Maleisië toe gegaan nadat haar agentskap laat weet het die kompetisie is gekanselleer. Het vanoggend die berig op Morning Live gevolg.

magda ·

Bly sy is veilig – en JA mense handel is n werklikheid en bitter tragies.

Suzie ·

Ek is baie bly vir haar en haar ouers – ook vir die res wat veilig is – dit is rof daarbuite en ongelukkig is dit so dat al sou die ouers hul kinders waarsku dat jy tog die eiewyses kry. Ek wil net graag bevestig…. is dit regtig Meksiko? of moet dit dalk Mexiko wees?

Dalene de Vente ·

Dagsê Suzie

Dankie vir jou boodskap. Die spelling “Meksiko” en “Mexiko” word beide in Afrikaans erken.

Groetnis
Dalene nms. Maroela Media

Carolyn Botha ·

I see the “organiser” is living in South Africa. Would love to give the police this info!! Who do I contact?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.