SA sokkerlegende sterf

Phil Masinga het Sondag, 13 Januarie 2019, gesterf. Hy was 49 jaar oud. Foto: Twitter

Die Suid-Afrikaanse sokkerlegende Phil Masinga het Sondagoggend op die ouderdom van 49 gesterf.

Masinga, wat 58 keer vir Bafana Bafana uitgedraf het, is volgens berigte in ʼn hospitaal in Parktown oorlede ná ʼn lang siekbed.

Bafana Bafana het op sy amptelike Twitter-rekening Masinga se dood bevestig. “’n Hartseer dag vir Suid-Afrikaanse sokker. ʼn Lojale dienaar van die sport, op en van die veld af,” het Danny Jordaan, president van die Suid-Afrikaanse Sokkerfederasie (Safa), gesê.

Buddha Mathathe, president van die South African Masters and Legend Football Association, het aan TimesLIVE gesê dit is ʼn tragiese verlies nie net vir Masinga se familie nie, maar vir die hele land. “Hy is weg. Ons legende is weg. Dit is nie reg nie,” het ʼn emosionele Mathathe gesê.

Ook die Inkatha Vryheidsparty het op sosiale media hulde aan Masinga gebring en gesê sy dood is ʼn reuseverlies vir Suid-Afrikaanse sokker.

Die Leeds United-sokkerklub het op sy amptelike Twitter-kanaal gesê hy het met hartseer verneem van Masinga, ʼn voormalige doelskieter vir die klub, se dood. “Almal by Leeds United se gedagtes is by sy familie en vriende,” lui die twiet.

Die Premier Sokkerliga (PSL) het in ʼn verklaring gesê hy sal vandag by al sy Absa Premiership‑, Nasionale Eerste Divisie‑ en MultiChoice Diski Challenge-wedstryde ʼn oomblik van stilte hou ter ere van “Chippa” Masinga.

“Die liga sluit vandag by die res van Afrika aan om oor Masinga se afsterwe te treur, ʼn man wat ingrypend tot die geskiedenis van sokker bygedra het.”

Masinga het Bafana Bafana gehelp om die Afrika Nasies-beker in 1996 te wen en het ook in 1998 die bekende doelskop teen die Kongo aangeteken wat Suid-Afrika gehelp het om vir die Wêreldbeker te kwalifiseer. Volgens The Guardian het hy in 2006 ʼn kontrak by die St. Gallen-sokkerklub in Switserland geteken en later vir Salernitana en Bari in Italië gespeel.

Die presiese oorsaak van sy dood is nie bekend nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

TS ·

Sjoe , nog so jonk. Dis baie hartseer. Sterkte aan die familie.

Fredrik 'Chinees' Zhang ·

Oy wat ‘n verlies vir die land! Ons sal jou mis. R.I.V

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.