SA sokkerster gevonnis vir aanranding

Thembinkosi Lorch (Foto: Phill Magakoe/AFP)

Een van die Orlando Pirates-sokkerklub se spelers is Dinsdag gevonnis nadat hy skuldig bevind is aan die aanranding van sy eksvriendin.

Thembinkosi Lorch het in die Randburg-landdroshof verskyn waar hy drie jaar tronkstraf opgelê is vir aanranding met die doel om ernstig te beseer.

Phindi Mjonondwane, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in Gauteng, sê die vonnis is wel vir vyf jaar opgeskort.

“Hy is ook aangesê om ʼn boete van R100 000 aan die nieregeringsorganisasie People Against Woman Abuse (POWA) te betaal,” sê Mjonondwane.

“R50 000 is dadelik betaalbaar en die res van die boete sal in paaiemente betaal word.”

Lorch se gewese vriendin het in September 2020 ʼn aanrandingsaak teen hom aanhangig gemaak wat tot sy inhegtenisneming gelei het.

Sy het aangevoer dat sy Lorch die betrokke dag besoek het terwyl hy saam met ʼn vriend gekuier het. Sy het hom vir haar motorsleutels gevra.

“Met sy aankoms terug by sy huis het Lorch en die eksvriendin in ʼn woordewisseling betrokke geraak en hy het haar gewurg, rondgeruk en geslaan,” sê Mjonondwane.

“Die meisie het om hulp geroep, waarna Lorch se vriend tot haar redding gekom het.”

Michele Hart, die staatsaanklaer in die saak, het in die hof bewys dat die mediese ondersoeke met die slagoffer se getuienis ooreengestem het.

“Lorch het geen beserings gehad nie, wat daarop gedui het dat hy die aggressor was,” het Hart gesê.

“Die beskuldigde en sy getuie het boonop nie ʼn goeie indruk in die hof gewek nie, en as sodanig is hulle nie as geloofwaardige getuies geag nie.”

Die NVG het die vonnis verwelkom en onderneem om voort te gaan met sy stryd teen geslagsgebaseerde geweld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.