Een soldaat van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag is dood en een beseer tydens ʼn hinderlaag in die noorde van Darfoer in Soedan.
Brig.genl. Xolani Mabanga van die SANW het Saterdag bevestig korporaal Mxolisi Edward Mnyipika is Woensdag in die hinderlaag doodgeskiet. Besonderhede van sy gedenkdiens en begrafnisreëlings sal bekend gemaak word sodra die SANW se interne prosesse afgehandel is en sy familie die reëlings afgehandel het. Hy word deur sy vrou oorleef.
Skutter Cebo Excellent Gumede is gewond. Hy is in ʼn stabiele toestand in die hospitaal in El Fasjir.
Albei soldate was gebaseer by 8 Suid-Afrikaanse Infanteriebataljon in Upington in die Noord-Kaap, het Mabanga gesê.
Die SANW het gesê ʼn militêre konvooi wat as veiligheidsbegeleiding opgetree het vir vragmotors wat humanitêre hulp bied, is Woensdagaand omstreeks 20:00 in Darfoer in ʼn hinderlaag gelei. Hulle was op pad na ʼn uitruilpunt tussen die SANW en Rwandese soldate.
“Dit was ʼn roetinebegeleiding om die Wêreldvoedselprogram (WFP)-vragmotors te beskerm,” het die SANW gesê. “Die SANW-bataljon sou in hierdie geval die konvooi tot ʼn punt begelei waar ʼn Rwandese bataljon sou oorneem. Ongeveer 25 km van die uitruilpunt is daar egter op die konvooi geskiet. Die SANW-soldate het die konvooi verdedig en die WFP-vragmotors beskerm. Een van die soldate is ongelukkig noodlottig gewond en ʼn tweede is raakgeskiet.”
Die Suid-Afrikaanse soldate is deel van ʼn vredesmag vir die Verenigde Nasies in Darfoer.
Nog sò jonk.. Innige simpatie aan sy eggenote & naasbestaandes. Wees versker dat hy niè gevra het om dààr te gaan diens doen nie…
Bring al SA soldate terug en ontplooi hul op Kaapse vlakte waar meer mense daagliks sterf en ons is nie eens in n oorlog nie!!!
Stem 100% hiermee saam
Bring alle SA soldate huistoe en ontplooi hul op die Kaapse vlakte waar bendegeweld meer lewens eis as oorlog in Darfoer.
wat soek hul in elk geval daar, hier plaaslik is meer probleme om op te los
Zuma het seker belange daar