SA soldate staan hul man teen Darfoer-milisie

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Groep Suid-Afrikaanse soldate in Soedan het tydens ʼn vredesending “onwrikbare dapperheid” getoon toe gewapende milisie hulle op patrollie gekonfronteer het, het die Suid-Afrikaanse Weermag Vrydag in ʼn verklaring gesê.

Die peleton, onder leiding van lt. Phiri van 8 Infanterie-bataljon, het op 18 Augustus ʼn span van die Verenigde Nasies begelei op ʼn langafstandpatrollie na Selibilo, 51 km noord van die SANW-basis in Darfoer.

Die milisie het die voertuie voorgekeer en die soldate aangesê om hul wapens te oorhandig.

“Sommige lede van die gewapende groep het hul tenkafweer-wapen (wat op ʼn Land Cruiser gemonteer was) en 12.7 mm-masjiengewere wat op nog voertuie gemonteer was, op die konvooi gerig,” het kapt. Jaco Theunissen (operasionele kommunikasie), gesê. “In die westelike rigting was nog gewapende lede wat op ʼn klein koppie stelling ingeneem het. Die milisie het geëis om die pelotonbevelvoerder te sien en hulle het hom [Phiri] beveel om oor te gee en al hul wapens te oorhandig, anders sal hulle almal doodmaak.”

Phiri het egter geweier ondanks verskeie dreigemente om die groep te skiet, aldus die SANW-verklaring. Ná twee ure se onderhandelinge, het Phiri die soldate in ʼn strydformasie geplaas toe die milisie ʼn aanvalsposisie ingeneem het.

“Lt. Phiri het die situasie opgesom en sy soldate aangesê dat hulle uit die gebied sal beweeg deur langs die voertuie te stap,” het Theunissen bygevoeg. “Die milisie het hul wapens op lt. Phiri en sy soldate gerig terwyl hulle vorentoe beweeg het, en die SANW-lede het ook hul wapens op die milisie gerig gehou.”

Een van die lede van die milisie het ʼn band van die VN-voertuig stukkend gesteek, maar ʼn soldaat het hom weggestamp en Phiri het opdrag gegee dat die voertuig verder gesleep word.

Die konvooi het aanbeweeg na die basis.

“Nie een enkele skoot is geskiet tydens die konfrontasie nie,” lui die verklaring.

“Die lede wat hul man gestaan het, sal op ʼn gepaste wyse geëer word vir hul dapperheid,” het Theunissen bygevoeg.

© RDM News Wire

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Gerhard Bezuidenhout ·

Die sg. dapperheid is niksseggend en die is soos twee honde wat langs n heining vir mekaar knor. Die ” dapper ” lt. Phiri wat wolf beteken as jy dit direk na Afrikaans vertaal moet eers sy staal in n ware skermutseling bewys voordat hy en sy troepe aangeprys word. Wanneer ek n ander ou met bekpraatjies bangmaak het ek nognie die fisiese geveg gewen nie.

Vic ·

Gee gerus maar krediet waar dit krediet toekom, Gerhard. Die Lt het sy plig gedoen en meer. N bang man sou sy peleton beveel het om hulle wapens te oorhandig, en sodoende die VN span blootgestel het aan moord of besering. Soms verg dit meer dapperheid om nie te skiet nie as om te skiet. Hy verdien lof.

Rudi ·

Miskien, maar dis tog goed dat die situasie hanteer kon word op ‘n manier wat verseker het dat geen van die Suid-Afrikaners in ‘n kis moes huis toe kom nie. Net jammer die terroriste het ook skotvry daarvan afgekom.

Gerhard Bezuidenhout ·

Vic ek verskil met jou maar elke man het sy mening . Jy heul nie met die vyand nie jy elimineer hom want more verras hy jou. Ons het nooit maar nooit voor die vyand geswig deurdat ons vir hulle gewys het dat ons bang was nie . Wat soek die troepe dan daar. Indien daardie vyand hulle vorentoe in n lokval lei, sal hulle spyt wees want jy het net een kans dit is julle of hulle.

Gjorg ·

Gerhard, vir iemand wat klink asof hy al in so situasie was wys jy bitter min insig…”jy elimineer die vyand..” sê jy, nee, jy doen wat jy beveel word om te doen want jy ken nie die hele storie nie. As jy nou chaos wil sien moet elke jan-rap en sy maat Rambo probeer speel. Die SA magte is deel van ‘n VREDESMAG met sekere pligte. Hulle is nie daar om voor die voet net te skiet nie.

Dup ·

Wat is die rol wat SA daar speel, is hulle n vredesmag of n ofensiewe mag. Die bevelvoerder het bloot sy werk gedoen om vrede te bewaar. Ek sien geen helde daad daarin as jy die werk doen waar voor jy getaak is nie.
Wat verwag julle, ons lewe in n land waar helde agter elke moontlike bos gesoek word om die regering se beeld te polish!

PraatSaam ·

So baie te se oor of dit ‘n helde daad was of nie, ek sien nie een van julle daar staan nie.. Maar laat ek raai dit is mos maklik om net te kom en ‘n ‘no-good’ comment te maak net omdat julle te verveeld is om die goed hierin te sin. Ek kon dit nie beter gestel het as Vic nie. Gee krediet waar dit verdien word en die Lt verdien dit. Mag die Lt sy troepe nog lank veilig vorentoe lui, maak nie saak vir watse rede hulle daar is nie. Die feit bly staan HULLE is daar, en die ‘no-good’ comments wat natuurlik gemik sal word op politiek…ai Dup.. Dis ouens soos jy wat in jou sitkamer sit en stupid comments maak in plaas van daar te gaan staan en dit ‘beter’ te kan doen ne…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.