SA ‘speel Russiese roulette’ met handelsvennote

Vraghouerskepe in die Durbanse hawe bloot ter illustrasie. (Foto: Transnet)

Suid-Afrika se knus verhouding met Rusland beteken die land speel (ironies genoeg) Russiese roulette met veel belangriker handelsvennote.

Ekonomiese kenners is benoud oor wat die onlangse bewerings van ʼn wapentransaksie tussen Suid-Afrika en Rusland vir die handelsvennootskap tussen Suid-Afrika en die VSA gaan inhou aangesien Suid-Afrikaners veel meer baat by sy handelsbande met die Amerikaners as die Russe.

Die VSA was verlede jaar, naas China, Suid-Afrika se tweede grootste uitvoermark en is verantwoordelik vir 9% van Suid-Afrika se algehele uitvoere. Dit terwyl Rusland verlede jaar maar ʼn skamele 0,2% van Suid-Afrika se uitvoere in 2022 uitgemaak het.

Sommige rolspelers in die landboubedryf vrees dat die sektor die Amerikaners se ongelukkigheid oor die beweerde wapentransaksie gaan ontgeld.

Byna die helfte van al die produkte wat Suid-Afrika uitvoer is landbou-uitvoerprodukte wat ʼn atronomiese $12,8 miljard beloop het.

Christo van der Rheede, uitvoerende direkteur van Agri SA, sê die Suid-Afrikaanse landboubedryf se  totale uitvoere na die VSA beloop sowat R275 miljard per jaar, terwyl invoere R123 miljard beloop met ʼn handelsurplus van R152 miljard.

Die landbousakekamer Agbiz se data toon dat mielies, wyn, druiwe, sitrus, bessies, neute, appels, pere, suiker, avokado’s en wol verlede jaar van die topuitvoerprodukte was. Rusland is egter ʼn klein mark vir dié produkte en was die afgelope vyf jaar maar verantwoordelik vir 2% van Suid-Afrika se landbou-uitvoere.

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Clem Onojeghuo/Unsplash)

Dit terwyl die Amerikas-streek op sy beurt verantwoordelik was vir 7% en as Suid-Afrika se vierde grootste landboumark beskou word.

Die VSA alleen was verantwoordelik vir ʼn gemiddeld van 4% van Suid-Afrika se landbou-uitvoere oor die afgelope vyf jaar. Dit sluit in die uitvoer van vrugte, neute, verwerkte groente, wyn, suiwelprodukte, industriële alkohol en vrugte- en groentesap na die VSA.

“Die VSA en Suid-Afrika spog met een van die grootste handelsverhoudinge ter wêreld, met bilaterale beleggings en handel wat jaarliks $1,6 triljoen beloop,” sê Van der Rheede.

Hy sê dat ongeveer 600 Amerikaanse ondernemings tans in Suid-Afrika sake doen. Baie van dié ondernemings gebruik Suid-Afrika as ʼn streekshoofkwartier.

Die Suid-Afrikaanse landbousektor is boonop aangewese op tegnologie vanuit die VSA. Maatskappye soos John Deere, Corteva, Pioneer, Monsanto, Land O’ Lakes, CHS, Pepsico en Wallmart verkoop tegnologie én doen aankope by Suid-Afrikaanse boere op groot skaal, sê Van der Rheede.

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Om die kroon te span is slegs 3% van Suid-Afrikaanse produkte wat na die VSA uitgevoer word ingevolge die ooreenkoms met die VSA, geskoei op dié land se wet op groei en geleenthede in Afrika (Agoa), aan tariewe onderworpe.

Agoa bied aan kwalifiserende Afrika-lande suid van die Sahara belastingvrye toegang tot die Amerikaanse mark vir meer as 1 800 produkte. Dit is benewens die meer as 5 000 produkte wat in aanmerking kom vir belastingvrye toegang onder die algemene stelsel van voorkeure- program.

Dié ooreenkoms verval in 2025.

Die VSA sal dan moet besluit of hy die ooreenkoms in die huidige formaat gaan voortsit, wysigings maak of in die geheel wil skrap.

Marius Croucamp, adjunkhoofsekretaris vir strategie van die Solidariteit Strategiese Instituut, vermoed dat dit voortgesit gaan word, maar dat die Amerikaanse regering moontlik gaan heroorweeg wie daaruit voordeel trek.

Niks minder nie as 66 000 mense in Suid-Afrika het vandag regstreeks werk danksy die Agoa-ooreenkoms. Die ooreenkoms is ook indirek verantwoordelik vir 425 000 werksgeleenthede in Suid-Afrika. Dit sluit in werksgeleenthede in die landboubedryf.

Croucamp dink nié ’n tussentydse skorsing van Suid-Afrika uit Agoa is op hande nie aangesien dit “’n omslagtige proses” van die Amerikaanse wetgewer sal vereis.

Hy dink op die lang termyn is Agoa wel in gedrang.

“Ons moet onthou dat daar baie beleggers en ondernemings in Suid-Afrika is wat hulle stil-stil kan onttrek. Hulle het nie nodig dat Agoa opgehef word om dit te doen nie.”

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Rinson Chory/Unsplash)

Skaar jou elders, SA

Wandile Sihlobo, hoofekonoom van Agbiz, sê Suid-Afrika behoort in die huidige onsekerheid in die internasionale geopolitieke omgewing ideaal gesproke sy verhoudings met lande te verstewig wat die land se ekonomiese belange dien en plaaslike indiensneming steun.

“Suid-Afrika is ʼn klein, oop ekonomie wat hoogs geïntegreer is met die wêreldwye ekonomie deur baie komplekse kanale. Dit beteken dat die politieke leierskap die land op ʼn aantreklike manier moet posisioneer vir beleggings en die verkryging van marktoegang tot die wêreld se groeiende ekonomieë.

“Spanning met die VSA kan beduidende ekonomiese nadeel vir Suid-Afrika inhou,” waarsku Sihlobo.

Van der Rheede het ʼn beroep op die Suid-Afrikaanse regering gedoen “om die ekonomiese voordele en ontwikkelingshulp wat miljarde beloop op te weeg teenoor dit wat Suid-Afrika in ruil kry vir sy steun aan Rusland.”

Croucamp beaam die belang van gunstige handelsooreenkomste met die VSA.

“Dit sal ʼn groot terugslag wees vir Suid-Afrika indien hy sy handelsvennote en tariefvrye toegang verloor. Suid-Afrika speel Russiese roulette. Ons hoop maar vir die beste en dit is dat Suid-Afrika sy voordele binne Agoa behou.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Sakkie ·

Deel van ANC se plan om boere van hul plase te kry. Sny die boere se inkomste af sodat hulle nie meer kan boer nie.

Pierre ·

Die enigste manier om van die onbeholpie regering ontsale te raak is om die land ekonomies te smoor, ironies genoeg is die regering besig om dit self te doen, hulle is nie net op tuis bodem onpopuler nie maar die wereld se muishond, die ware kleure kom baie gou te verskuin.

Hendrik ·

Dit is tragies en n verleentheid dat kundiges van buite hd waarheid by die regering moet tuisbring. n Regering is immers veromderstel om self oor hierdie insig en wysheid te beskik.

TruthDealer ·

En daar is die probleem met handelsbelange met Amerika. America never does anything for you if it it doesn’t involve their jackboot on your neck. Val Rusland vir Amerika aan? Nee geensins. Hul konflik is daar in hul hoekie vd wêreld. America just wants to regulate the affairs of every country on the planet, as usual.

Fontein Tannie ·

“United States of America” lyk meer na die “United Empire of Earth”. Jy is reg daar. Dis steeds maar n fyn lyn waaroor die Regering mooi moet besin.

Andre ·

Amerika en sy bondgenote is die kommuniste en die agressors in die oorlog tussen die dwelm verslafde Ukraniene en Rusland

Andre ·

Moet die hele land nou boet om 9% van alle uitvoere te beskerm na so ‘n land toe?

Jaco ·

En daar gaan al my drome. Ek het gedink Ek ramaphosa en sy groot pel Joe Biden sou oor die volgende ooreengekom het:
Biden en sy hoogheilige Demokrate het so ‘n mooi oop “human rights” georiënteerde immigrasiebeleid, so Ramaphosa kon mos al SA se “rassistiese” wit mense wat so “erg ongelykheid” in SA skep, na die “oop” Amerika deporteer. En Biden sou dan so min of meer verplig wees om ons in te vat. Dit sou mos nou mooi wys hoe sy “non-racial, non-discriminating human rights” werk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.