SA spog eersdaags met Covid-19-entstofvervaardigingsentrum

Pfizer se entstof teen Covid-19 word onder die handelsnaam Comirnaty bemark. (Foto: Unsplash)

Die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe was gister (Vrydag) die gasheer tydens ʼn hoëvlak- internasionale afvaardiging, gelei deur dr. Tedros Adhanom Ghebreyesus, direkteur-generaal van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO). Dié geleentheid het op die universiteit se Tygerberg-kampus plaasgevind.

Volgens Martin Viljoen, woordvoerder van die universiteit, was hierdie besoek aan die fakulteit se Biomediese Navorsingsinstituut deel van ʼn twee dag toer om die fasiliteite te inspekteer wat deel sal wees van Afrika se eerste Covid-19-entstofvervaardigingspilpunt.

Dr. Joe Phaahla, minister van gesondheid, Buti Manamela, die Suid-Afrikaanse adjunkminister van hoër onderwys, wetenskap en innovasie, Meryame Kitir, die Belgiese minister van ontwikkelingsamewerking en lede van die WGO en ander nasionale en internasionale belanghebbendes was deel van die afvaardiging.

“Die Covid-19-pandemie het die ‘entstofgaping’ tussen die ontwikkelende en ontwikkelde wêreld blootgelê, het prof. Elmi Muller, dekaan van US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, gesê. “Dié gaping hou ʼn ernstige gesondheidsbedreiging vir die mense van Afrika in.

“As ʼn toonaangewende fakulteit vir gesondheidswetenskappe op die vasteland is ons daartoe verbind om oplossings te vind vir gesondheidsuitdagings waardeur die mense van Suid-Afrika en die Afrika-vasteland in die gesig gestaar word. Ons is opgewonde om deel te wees van die eerste Covid-19-mRNA-entstoftegnologie-oordragsentrum wat sal help om entstofontwikkeling en -vervaardigingskapasiteit in Afrika te bou en Afrika se entstof-onafhanklikheid te vestig.”

Die US se Sentrum vir Epidemiese Reaksie en Innovasie is ʼn vennoot en lid van die Suid-Afrikaanse mRNA-entstofkonsortium (SAMVAC), wat deur die WGO gekies is om die eerste Covid-19-mRNA-entstoftegnologie-oordragspilpunt te word. Die doel van die spilpunt is om entstofnavorsing en vervaardigingskapasiteit op die Afrika-vasteland te ontwikkel. Die sentrum se rol in hierdie konsortium is die genomiese toesig en identifikasie van variante in Afrika.

Prof. Tulio de Oliveira, wêreldbekende bio-inligtingskundige en navorser verbonde aan US, sal aan die hoof staan van dié nuwe sentrum, wat gesien word as grootste genomika-fasiliteit in Afrika.

“Ons is baie opgewonde om deel te wees van die eerste mRNA-spilpunt ter wêreld wat voortbou op ons kundigheid in genomika en passie vir kapasiteitsontwikkeling. Die mRNA-spilpunt gaan nie net oor die vervaardiging van entstowwe nie, maar sal kapasiteit op die vasteland help bou,” sê De Oliveira.

Dr. Tedros Adhanom Ghebreyesus, direkteur-generaal van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO). het ook aan pres. Cyril Ramaphosa besoek afgelê (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

Die fakulteit se Biomediese Navorsingsinstituut, waar die sentrum geleë is, is ʼn groot infrastruktuurbelegging van meer as ʼn miljard rand deur die US en die Suid-Afrikaanse departement van wetenskap en innovasie.

“Die navorsingsinstituut het wêreldklas infrastruktuur en huisves vooraanstaande Suid-Afrikaanse biomediese navorsers wat aan die voorpunt is van pogings om Afrika-oplossings vir uitdagende Afrika-gesondheidsprobleme te ontwikkel. Die infrastruktuurbesteding sal beduidende menslike kapasiteitsontwikkeling moontlik maak deur opleiding van die beste studente van die vasteland en hulle blootstel aan uitgebreide nasionale en internasionale navorsingsnetwerke om ʼn volgende geslag suksesvolle wetenskaplikes tot gevolg te hê,” sê prof. Gerhard Walzl, uitvoerende hoof van die US se Departement Biomediese Wetenskappe.

De Oliveira se navorsing is daarop gemik om effektief op epidemies te reageer deur patogeen-genomika-monitering. Hierdie werk maak verbeterde biomediese ontdekking, verbeterde behandeling en diagnose en beter entstofontwikkeling moontlik om menslike siektes te voorkom, en het die potensiaal om wêreldwye navorsing in hierdie veld te lei en aansienlike ekonomiese geleenthede vir Afrika te genereer.

Die US se rektor en visekanselier, prof. Wim de Villiers, sê die US is trots om deel te wees van hierdie inisiatief en loof die bydraes van alle rolspelers.

“As ʼn toonaangewende navorsingintensiewe instelling streef ons daarna om kennis in diens van die samelewing te bevorder. In alles wat ons doen, probeer ons om plaaslik relevant en wêreldwyd mededingend te wees. Die voorpuntnavorsing en doelgerigte vennootskappe betrokke by hierdie inisiatief sal help om Suid-Afrika, Afrika en die wêreld ʼn beter plek te maak. Deur oral gesondheidsorg te verbeter, sal hierdie inisiatief help om die ongelykheid wat deur die Covid-19-pandemie blootgestel is, teë te werk,” het De Villiers gesê.

Ghebreyesus het ook gesprek gevoer met pres. Cyril Ramaphosa om vordering te bespreek om Afrika selfversorgend te maak in die vervaardiging van Covid-19-entstowwe en verwante behandelings.

Volgens Tyrone Seale, die president se woordvoerder, het Ghebreyesus ʼn besoek aan Ramaphosa by die president se ampswoning in Kaapstad gebring.

“Ghebreyesus het Suid-Afrika se vermoë om entstowwe te ontwikkel verwelkom,” het Seale gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Chris ·

Wat kan mens nou op so ‘n berig antwoord – net ‘n kommunis kan opgewonde raak oor die aangeleentheid.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.