SA spreek kommer uit aan Suid-Soedan oor Endley-doodsvonnis

William Endley en sy suster Charmaine Quinn in gelukkiger tye. Foto: Avaaz.org

Die Suid-Afrikaanse regering het nou vir die eerste keer ʼn amptelike reaksie gegee op die doodsvonnis wat ʼn Suid-Soedannese hof William Endley opgelê het.

African News Agency het Vrydag berig dat Luwellyn Landers, SA se adjunkminister van internasionale betrekkinge en samewerking, sy regering se kommer uitgespreek het oor die doodstraf wat Endley, ʼn burger van Suid-Afrika, ontvang het.

Landers het glo die saak op die kantlyn met generaal Taban Deng Gai, die Suid-Soedannese adjunkpresident, bespreek tydens ʼn vergadering van die Verenigde Nasies se menseregtekommissie.

Regter Lado Eriminio Sekwat het William (57) onder meer op die aanklagte van sameswering om die regering van pres. Salva Kiir omver te werp skuld bevind. Die regter het gelas hy moet hiervoor tereggestel word deur gehang te word.

Sy familie en regsverteenwoordiging het die verhoor onregverdig verklaar en aangevoer daar is geen behoorlike prosesse tydens die verhoor gevolg nie.

Volgens Endley se familie was William nooit in Suid-Soedan as ʼn huursoldaat nie, maar het hy die voormalige adjunkpresident Riek Machar gehelp om rebellemagte in die Suid-Soedannese weermag te integreer.

Suid-Soedan is in ʼn bloedige burgeroorlog gewikkel nadat Kiir vir Machar afgedank het.

Tydens Woensdag se vergadering tussen die twee lande se amptenare, het Gai die belangrikheid daarvan dat die nodige regsproses toegelaat moet word om te geskied, onderstreep. Hy het gesê Endley het steeds die geleentheid om sy skuldigbevinding en vonnis te appelleer.

Endley se familie het bevestig William se regverteenwoordigers is 15 dae vanaf 23 Februarie gegun om sy appèl voor te berei.

Intussen het sy familie tuis ʼn aanlynpetisie begin waarmee hulle wil poog om minstens 10 000 handtekening te kry om ʼn beroep op pres. Cyril Ramaphosa te doen om Endley na SA terug te bring.

luwellyn-landers-en-taban-den-gai

Luwellyn Landers, SA se adjunkminister van internasionale betrekkinge, het sy regering se kommer oor William se doodsvonnis teenoor generaal Taban Deng Gai, die Suid-Soedannese adjunkpresident, uitgespreek. Foto: Yandisa Monakali/DIRCO/ANA.

Amnestie Internasionaal het ook Vrydag gesê William se reg om te lewe moet beskerm word. Die organisasie is nou besig om na die saak te kyk en het kontak met die Endley-familie en ʼn vriendin van hom. Hulle navorsers in Suid-Soedan kyk ook wat gedoen kan word om te verseker dat William nie daar tereggestel word nie.

Die Mail & Guardian het Vrydag in ʼn ontledende artikel oor nuusgebeure in Afrika die Suid-Afrikaanse regering daarvan beskuldig dat dit reeds kante in die politiek van Suid-Soedan gekies het.

Volgens dié koerant kan daar nie veel waarde geheg word aan die mening van ʼn Suid-Soedannese hof nie, aangesien geregtigheid in dié land platgeval het en ʼn onafhanklike regbank tans slegs op papier bestaan.

Die koerant het Kukurlopita Marino Pitia, ʼn regter van die hooggeregshof, aangehaal wat in November bedank het. Hy het in sy bedankingsbrief geskryf die onafhanklikheid van die regbank het in die land ʼn bespotting geword.

“Gegewe hierdie konteks is die bykans volledige stilte van die Suid-Afrikaanse regering op Endley se saak moeilik om te verduidelik. Endley is ʼn Suid-Afrikaanse burger wat in ʼn vreemde land die doodsvonnis opgelê is nadat hy in ʼn boendoehof skuldig gevind is. Sy regering doen bykans niks om hom in die openbaar te ondersteun nie.

“Of hy ʼn huursoldaat was of nie, die punt is: As ʼn Suid-Afrikaner is hy geregtig op ʼn regverdige verhoor en Suid-Afrika moet daarop aandring dat hy uitgelewer word sodat hy dit kan kry. Dit lyk egter eerder of die regering vreemde politieke speletjies in Suid-Soedan wil speel en onwillig is om president Salva Kiir en sy administrasie te kritiseer,” het Simon Allison van die Mail & Guardian geskryf.

  • Lesers wat die petisie wil ondersteun kan die webwerf Avaaz.org besoek om die Endley-familie se petisie te onderteken.
  • Lees alle vorige berigte oor William Endley op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

KP ·

n Wit lewe is niks werd in hulle eie land hoekom sal hulle bekommerd wees oor n wit man se lewe in n ander land. DIT IS MOS NOU DIE NUWE SUID AFRIKA.

help ·

as ouer witmans n werk het om heen te gaan sal hulle nie anderland toe gaan om te kan oorleef nie. maar nou ja? wie het genade met blankes in Suid Afrika.

Asmain ·

Ons bly al hare in die buiteland en dis n alombekende feit dat die SA ambasades van geen hulp is vir landgenote nie. Inteendeel dis hartseer om te sien wat ander lande se ambasades vir hulle landgenote in die vreemde doen, veral USA, UK, Frankryk, Italie, Brasilie en meeste Europese lande. Ons ervaring met die ambasade hier is bly liewer weg want hulle sal alles in hulle vermoe doen om dinge net moeiliker vir jou te maak.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.