SA staal hom vir landswye staking

Betogers kom bymekaar in Newtown in Johannesburg (25 April 2018). Foto: Facebook via SAFTU

Reisigers wat Woensdag na en vanaf die OR Tambo Internasionale Lughawe reis, kan hulself staal vir vertragings te midde van ʼn landswye staking deur die South African Federation of Trade Unions (Saftu).

Leigh Gunkel-Keuler, woordvoerder van die lughawe, het gesê hoewel daar nie onmiddellik Woensdagoggend vlugvertragings verwag is nie, sal die impak van die staking deur die dag gemonitor word. “Dit is ʼn nasionale staking, so daar sal ʼn moontlike impak op padvervoer wees. Dit kan die tyd wat dit neem om na die lughawe te reis affekteer,” het Gunkel-Keuler gesê.

“Ons wil passasiers aanraai om eerder veilig te speel, moontlike vertragings te verwag en vir meer reistyd voorsiening te maak as wat hulle onder normale omstandighede sou doen.”

In Johannesburg is daar reeds berigte ontvang van stakers wat sommige paaie afsper. Volgens ooggetuies is Tunneyweg in Elandsfontein met stukke beton versper en vragmotors moes noodgedwonge U-draaie op dié pad maak. Daar is ook berigte ontvang van vragmotors wat op Barbaraweg naby die lughawe met klippe bestook is.

Volgens inligting op sosiale media is ʼn gedeelte van Beyers Naude-rylaan by Zandspruit ook gesluit weens betogings in dié gebied.

Betogers kom bymekaar in Kaapstad (25 April 2018). Foto: Facebook via SAFTU

In die Wes-Kaap is die N2 tussen Sir Lowry’s Pass en Grabouw in beide rigtings weens protesaksie gesluit.

Maroela Media het vroeër berig Saftu het die landwye staking aangekondig in protes teen die regering se beplande minimumloon van R20 per uur of R3 500 per maand, asook sekere wysigings aan arbeidswetgewing. Die vakbondfederasie sê hy is ontevrede oor die ekonomiese uitdagings wat armes en die werkersklas voortdurend in die gesig staar.

Stakers en optoggangers het al sedert vroegoggend in verskillende stede reg oor die land saamgekom om gereed te maak vir die onderskeie optogte wat sal plaasvind.

Intussen staak busbestuurders verbonde aan die South African Transport Workers Unions al vir die agtste agtereenvolgende dag wat die openbarevervoersektor op sy knieë gedwing het. Loononderhandelings tussen werkgewers en werknemers gaan steeds voort, maar daar is nog nie sprake van ʼn ooreenkoms nie.

Betogers kom bymekaar in Newtown in Johannesburg (25 April 2018). Foto: Facebook via SAFTU

Intussen het die regering Woensdagoggend ʼn beroep op stakers en optoggangers gedoen om vandag op vreedsame wyse te betoog en nie toe te laat dat die stakings in geweld ontaard nie.

“Ons doen ʼn beroep op die mense wat aan optogte in die verskillende provinsies deelneem om hulself te weerhou van geweld, verwoesting van eiendom en intimidasie. Die regte van mense wat net aan die optogte wil deelneem moet respekteer word,” het Phumla Williams, waarnemende direkteur-generaal van die regering se kommunikasie-en-inligtingstelsel (GCIS), gesê.

Die regering het ook spesifiek ʼn beroep op die organiseerders van die optogte gedoen om te verseker dat daar nie chaos rondom die parlement in Kaapstad ontstaan nie, aangesien dit ʼn nasionale sleutelpunt is en die belangrikste wetgewende arm van die staat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Yolanda ·

Kyk net hoe ongelukkig maak hulle hulle eie mense lol… Het eers die maan son en sterre belowe vir ALMAL…. Nou het ons amper nie meer n SA lugredery nie…en en en…. Kry hulle nie skaam nie?! As ek Cyril was, het ek minder oor populariteit bekommer en eerder die nasie aangespreek oor SABC soos Mandela gedoen het toe sy mense hand uit ruk. Doen wat reg is Cyril, nie wat jou populêre status verlang nie.

JM ·

Dit gaan soos gewoonlik ontaard in geweld want hulle kan nie wreedsaam betoog nie

Amelia ·

Hulle staak oor dai salaris. n Opgeleide sekuriteitsman wat elke dag 24uur in geweld is en wat sy lewe nooit seker is nie, kry n salaris van R3500. Nou vra ek jou? Hulle staak nie, hulle werk. En dan werk party 24uur aanmekaar, elke dag. In die nag op patrollies en in die dag op bystand. Hul moet maar probeer slaap tussenin en met geen af dag ooit. Ek sou se hulle het eerder n saak om te staak. Maar ai ons is so bang ons verloor ons werke dat ons met min tevrede is. Eerder iets as niks.

lizl ·

Ek dink nie in `n ander land ter wereld is so baie stakings en ontevredenheid nie… Groot suksesverhaal van die ANC. En sodra dit verkiesing tyd is, stem al hierdie stakers maar net weer vir die ANC.

anton ·

Ja Lisl………want daar is mos nog nie n pil uitgevind of ontwikkel vir Domgeid nie!!!
En selfs al sou daar so iets wees, sou dit steeds nie help vir party mense nie.

Reguit ·

Nasionale “staking”. Blok paaie en strategiese toegangsroetes. Klip gooi. Brandende bande, ensovoorts. Wil voorkom of die in-oefening vir die komende burgeroorlog (slagting van wittes) sovêr glad verloop. Die EFF werk hard. En die wittes slaap voort.

André ·

Ek wonder of SA se mense die meeste staak in die wêreld? Dit voel amper of daar elke dag van die jaar deur iemand gestaak word. As die een staking verby is, begin die volgende. Ek is al amper 2 jaar werkloos. Wens ek kon net die voorreg hê om ‘n werk te hê.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.