SA stede haal lys van wêreld se top-10 bestemmings

Stellenbosch (Foto verskaf deur Visit Stellenbosch)

Verskeie Wes-Kaapse dorpe en stede het die top-100 lys van mees geliefde toeristebestemmings vir 2021 gehaal.

Knysna is 19de op die lys, Stellenbosch in die 23ste plek, Hermanus beklee die 41ste posisie en Kaapstad is 54ste op die lys. Pretoria in Gauteng is in die 73ste posisie.

Tourism Sentiment Index (TSI), ʼn reisdata-intelligensieprogram wat deur die bemarkingsagentskap Destination Think geskep is, het meer as 1,6 miljard aanlyn gesprekke en artikels oor 21 330 bestemmings wêreldwyd dopgehou om die lys saam te stel.

Queensland in Australië beklee drie plekke in die top-vyf bestemmings. Die Sonskynkus in Queensland, Australië is algeheel as die mees geliefde bestemming aangewys, gevolg deur Whitsundays (Queensland, Australië), Udaipur (Rajasthan, Indië), Bora Bora (Frans-Polinesië), en Noosa (Queensland, Australië).

Die opname kyk hoofsaaklik na die bestemming se vermoë om positiewe gesprekke uit te lok oor sy toeriste-aanbod.

David Maynier, Wes-Kaapse minister oor finansies en ekonomiese geleenthede, het gesê die feit dat vier Wes-Kaapse dorpe en die Moederstad dié lys gehaal het, is ʼn uitnemende prestasie. “Die laaste twee jaar sal in die geskiedenisboeke aangeteken word as die mees uitdagende nog vir die internasionale toerismebedryf. Dié lys wys dat Kaapstad en die Wes-Kaap ʼn wêreldklas bestemming is en ʼn absolute gunsteling op internasionale reisigers se moet-sien-lysies.”

Klik hier om die volledige lys te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Christine ·

Ek is glad nie verbaas nie, want ons land is pragtig en so ‘n verskeidenheid. Ek sou ‘n paar ander plekke, soos Franschoek bygevoeg het en Namakwaland in blommetyd, die Drakensberge en die Weskus, maar Australië? Nee wat.

Tubac ·

Stem ook saam. Die punt is dat ons word as muishond vir kriminele aktiwiteite gesien. Tot dat dit nie totaal verbeter nie, sal ons nog verder terugsak. Hoe n land regeer word weerspieel in toerisme.

Marius ·

Die toeriste moet maar hul kameras, skoot rekenaars, selfone, tablette en beursies styf vashou. Hierdie is ook een van die lande met die meeste misdaad in die wêreld.

Gawie ·

Die manier hoe die lys bepaal en saamgestel word is baie verdag en kan dit dus maar geignoreer word. Dat daar soveel bestemmings in Australie die lys haal en geen in Suid-Amerika oonderstreep dit. En dat stede soos Parys en Rome nie op die lys is nie maar Dallas wel! Ek was al by die Sonskynkus suid van Brisbane, wat die eerste plek behaal het, en dit steek sleg af teen plekke soos Kaapstad en Buenos Aires.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.