SA tans 39ste op medaljelys

Chad le Clos hou die vordering van sy teenstanders dop. Die Suid-Afrikaner het vyfde in die 200 m-vlinderslagitem geëindig. Foto: Anton Geyser/SASPA.

Met die een goue en twee silwer medaljes beklee Suid-Afrika tans die 39ste plek op die Olimpiese Spele se medaljelys.

As dit nie vir Tatjana Schoenmaker se bobaas vertoning in die swembad was nie, sou Suid-Afrika se naam waarskynlik langs lande soos Jordanië en Turkmenistan gepryk het.

Ja, die Spele is nog nie verby nie, maar dit is onwaarskynlik dat daar op die medalje-oes van Rio de Janeiro in 2016 verbeter sal word.

Toe het die Suid-Afrikaners twee goue medaljes danksy Wayde van Niekerk en Caster Semenya gewen, terwyl Chad le Clos op sy eie vir twee silwer medaljes gesorg het.

Wayde van Niekerk (tweede van links) het vyfde in sy halfeindstryd-lopie geëindig. Foto: Jewel Samad/AFP.

Maar Semenya is nie by vanjaar se Spele in aksie nie, terwyl Van Niekerk se kniebesering sy loopbaan ongetwyfeld negatief beïnvloed het. Dan was drie atlete vinniger as Akani Simbine (9.93 sekondes) in die 100 m.

Darem is Kyle Blignaut môre in die gewigstoot-eindronde te sien.

Die 21-jarige atleet is naas Janus Robberts slegs die tweede Suid-Afrikaner om vir die eindstryd te kwalifiseer en hy kan beslis op sy uitdunronde-poging van 20,97 m verbeter.

Die reus van 1,95 m en 148 kg is die mededingendheid vanself en hy het onder meer die

Kyle Blignaut het vir die gewigstoot-eindronde gekwalifiseer. Foto: Anton Geyser/SASPA.

Wêreldjuniorkampioenskap in 2018 gewen. Vroeër vanjaar se poging van 21,21 m in Johannesburg het sy kaartjie na Tokio bespreek.

Ryan Crouser van die VSA is egter die gunsteling om die goue medalje te wen. Die wêreldrekordhouer het vir die eindstryd met ’n poging van 22,05 m gekwalifiseer.

Sondag se marathon is waarskynlik Suid-Afrika se laaste kans om ’n medalje huis toe te bring. Gerda Steyn en Irvette van Zyl is dan in aksie.

Steyn is die verdedigende Comrades-kampioen, terwyl Van Zyl in Mei die 50 km-wêreldrekord verbeter het.

Hoe die lande by die Olimpiese Spele vaar:

  1. China 70 medaljes (32 goud)
  2. VSA 77 medaljes (25 goud)
  3. Japan 40 medaljes (21 goud)
  4. Groot-Brittanje 48 medaljes (15 goud)
  5. Australië 36 medaljes (15 goud)
  6. Russiese Olimpiese Komitee 53 medaljes (14 goud)
  7. Duitsland 32 medaljes (agt goud)
  8. Frankryk 25 medaljes (ses goud, tien silwer)
  9. Italië 30 medaljes (ses goud, nege silwer)
  10. Nederland 23 medaljes (ses goud, agt silwer)

39. Suid-Afrika 3 medaljes (een goud, twee silwer)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.