SA terug op Britse rooilys

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Suid-Afrika is ná ’n maande lange gespook om van die Britse reisrooilys verwyder te word, nou weer terug op die lys.

Brittanje het bekend gemaak dat hy van Vrydag 14:00 (SA tyd) alle vlugte vanaf Suid-Afrika asook Namibië, Botswana, Zimbabwe, Lesotho en Eswatini tydelik opskort weens vrese oor die nuwe B.1.1.529-variant wat nou sy kop in Suid-Afrika uitgesteek het.

Dit is nie duidelik hoe lank Suid-Afrika hierdie keer op die rooilys sal verskyn nie hoewel die aankondiging heel moontlik ’n stokkie voor Suid-Afrikaners in Brittanje se planne sal steek om Desember hul tuisland te besoek.

Persone wat vanaf Sondag van die geraakte Afrika-lande na Brittanje terugkeer, sal op eie onkoste vir tien dae in ʼn hotel in kwarantyn moet bly.

Sajid Javid, minister van gesondheid in Brittanje, sê dié land se wetenskaplikes is diep bekommerd oor die B.1.1.529-variant wat blyk om meer aansteeklik te wees as die hoogs aansteeklike Delta-variant.

Die departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco) glo egter die Britse regering het ’n oorhaastige besluit geneem. Die departement beoog om met die Britse regering in gesprek te tree om hom te oortuig om die besluit te heroorweeg.

“Hoewel Suid-Afrika die reg van alle lande respekteer om die nodige voorsorgmaatreëls te tref om hul burgers te beskerm, lyk dit asof die Verenigde Koninkryk (VK) se besluit om Suid-Afrikaners tydelik te verbied om die VK binne te gaan oorhaastig is. Selfs die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) is nog nie geraadpleeg oor die volgende stappe nie.”

Naledi Pandor, minister van internasionale betrekkinge en samewerking, sê haar departement is veral bekommerd oor die impak wat die besluit op Suid-Afrika én die VK se toerisme en sakeondernemings gaan hê.

Die besluit het intussen reeds die olieprys laat daal.

Maroela Media het vroeër berig die nuwe variant is onlangs eerste in Botswana opgemerk en later in Suid-Afrika. Een geval is in Hongkong in China aangemeld – glo by ʼn persoon wat van Suid-Afrika gereis het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Inge ·

Nee vader! Wat van die arme mense wat planne gemaak het om Desember na hulle famielies toe te gaan.

Mercia ·

Jy is absoluut reg Inge. Hoeveel manne werk buite ons landsgrense en met hierdie woer-woer speletjies van die afgelope amper 2jaar, ly die gesinne geweldig daaronder!
Al wat duidelik is van al hierdie regerings en kwansuise wetenskaplikes se strategieë en beperkings, is hoe hulle die mat van finansiële stabiliteit onder almal uitruk en die kosbare konneksies tussen geliefdes uitmekaar getorring word…….alles onder die vaandel van hoe hulle dan nou eintlik ons lewens red……

Pieter ·

Wel, as daar een positiewe oorsaak daaromtrent is, naamlik die olieprys wat begin daal het wat beteken ons kan dalk ‘n verlaging in die brandstofprys behoort te sien, dan is dit seker ‘n goeie besluit…..

marius ·

Die olie prys het gedaal . Gaan brandstof nou R5 per liter kos ?

SjN ·

Pandor, ken jou kantoor die verskili tussen rooi lys en riool lys?

Aanhouer ·

Snakes and Ladders, snakes and ladders….
heeltyd, aanmekaar.

E ·

Ek kan sien hoe huil daai Britte wat gedink het hoe lekker hulle in die son op ons strande gaan le. Stel voor hoe se jy vir ‘n klein kind hy gaan nie meer met vakansie nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.