SA terug op vlak 1

Pres. Cyril Ramaphosa (Foto: PresidencyZA/Twitter)

Pres. Cyril Ramaphosa het Sondagaand aangekondig dat Suid-Afrika van ’n aangepaste vlak 3 van die afsonderingstydperk na ’n verslapte vlak 1 van die afsonderingstydperk skuif.

Die besluit is vroeër vandag geneem in die lig van ’n beduidende afname in nuwe Covid-19-gevalle.

Die verslapping van afsonderingsregulasies tree reeds later vanaand in werking sodra die regulasies in die Staatskoerant gepubliseer word.

Van die ingrypendste maatreëls sluit in:

  • die landwye aandklokreël geld nou van 00:00 tot 04:00,
  • normale ure vir die verkoop van alkohol geld weer. Geen alkohol mag egter tydens die aandklokreël verkoop word nie,
  • godsdienstige, sosiale, politieke, en kulturele byeenkomste word weer toegelaat. Dié byeenkomste word egter beperk tot 100 mense binnenshuis en 250 mense in die buitelug
  • nagwake en byeenkomste voor en na begrafnisse word steeds nie toegelaat nie,
  • nagklubs bly gesluit,
  • die dra van maskers in die publiek is steeds verpligtend. Diegene wat nié ʼn masker dra wat die mond en neus bedek nie, begaan volgens Ramaphosa ʼn kriminele oortreding.

Ramaphosa het gesê slegs vyf lughawens sal oop wees vir internasionale reis tydens vlak 1 van die afsonderingstydperk. Dit sluit in die OR Tambo Internasionale Lughawe in Kempton Park, die Kaapstad Internasionale Lughawe in Kaapstad, King Shaka Lughawe in Durban, Kruger Mpumalanga Internasionale Lughawe in Nelspruit en Lanseria Internasionale Lughawe in Lanseria.

Die 33 grensposte wat vroeër gesluit was, bly gesluit terwyl die ander 20 oop sal bly.

Suid-Afrika het die afgelope week minder as 10 000 nuwe gevalle van die koronavirus aangemeld. Dít vergeleke met die meer as 40 000 gevalle wat ’n maand gelede binne sewe dae aangemeld is.

Byna 90 000 gevalle is die maand voor dít in die laaste week van Desember aangemeld.

Entstowwe

Suid-Afrika se tweede besending van die Johnson & Johnson-entstof het Saterdagoggend by die OR Tambo-lughawe aangekom. (Foto: Twitter)

Die president het bevestig dat meer as 67 000 gesondheidswerkers die afgelope tien dae teen Covid-19 ingeënt is.

Die aantal inentingspersele regoor die land sal die komende week van 17 na 49 uitgebrei word.

Altesaam 32 van die persele sal by openbare hospitale en 17 by private hospitale ingerig word. Dit sluit in persele in die landelike gebiede om toegang tot die entstof vir gesondheidswerkers op die platteland te verbeter.

Suid-Afrika het ’n ooreenkoms met Johnson & Johnson gesluit vir die verkryging van 11 miljoen dosisse. Altesaam 2,8 miljoen van dié dosisse sal in die tweede kwartaal in Suid-Afrika aankom en die res deur die loop van die jaar.

Die regering het ook 20 miljoen dosisse van Phizer bekom wat van die tweede kwartaal in die land sal aankom. Nog 12 miljoen dosisse sal van die wêreldwye Covax-fasiliteit van die Wêreldgesondheidsorganisasie bekom word.

Fase 2 van die regering se entstofprogram sal na verwagting laat April of vroeg Mei afskop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

DieKriek ·

“SA terug op vlak 1”. Was ons dan al ooit op vlak 1? Wys jou net ek lewe onder n klip.

Barney ·

Watse bewyse? Deel asb met ons die lys van navorsingsartikels en bewyse sodat ek dit vir myself kan gaan oplees en verifieer

Vlooitjie ·

As jy google gaan jy dit kry, party mense doen die moeite om na beide kante te gaan kyk. Maw die voor en nadele om maskers te dra. Die maskers help om te keer sou iemand met covid op jou hoes en nies maar dis ver van 100% doeltreffend af. NIEMAND dra hul maskers soos dit bedoel is om gedra te word nie, wat die effektiwiteit daarvan afbring. As jy hom onder jou ken gedra het is dit pointless . As jy aan iets gevat het (soos die items in die winkel wat nie alles gesanitise was nie) en jy vroetel aan jou masker op jou gesig, is dit pointless. As jy jou hom 5 keer deur die dag afgehaal en opgesit het sonder om deeglik te sanitise is dit pointless. Die gebruik van maskers is net ‘n aid om te help nie die alpha en omega om covid te keer nie. Kom ons dra maskers as ons veiliger voel daarmee maar lees wyer as net dit wat op jou afgedwing word. Daar is ALTYD 2 kante van ‘n saak.

AmY ·

Die kompleks waar ons bly is nog altyd op vlak een. Ons beheerraad staan armpies gevou en kyk maar net na alles.

Van kinders wat sonder maskers rond speel en die plek op horings neem, tot die gesuipery op gemeenskaplike eiendom.

Lekker hier by ons.

Francois Le Cochon ·

Regulasies te gou verslap vir ‘n land soos SA waar daar te veel balhoriges is. Ek voorspel ‘n 3de piek.

SwartBees ·

Voor ons die oë uitvee is daai 3de vlaag op ons stoepe….mark my words.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.