SA terug op vlak 3, sê president

Pres. Cyril Ramaphosa (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

Pres. Cyril Ramaphosa het Dinsdagaand uit die Uniegebou die land toegespreek oor die jongste verwikkelinge rakende die Covid-19-pandemie.

Hy het gesê dit is presies 15 maande sedert die ramptoestand vir die eerste keer aangekondig is in reaksie op die pandemie.

Met stygende getalle sedert die afgelope twee weke is Suid-Afrika nou in die derde golf van die pandemie. Die getal daaglikse nuwe gevalle het die afgelope sewe dae verdubbel en hospitaal-opnames is die afgelope twee weke 59% hoër as die vorige 14 dae. Die getal sterftes het die afgelope twee weke ook met 48% toegeneem.

Die volgende inperkingsregulasies volgens vlak 3 tree met onmiddellike effek in werking:

  • die aandklokreël word ingestel van 22:00 – 04:00.
  • nie-noodsaaklike instansies soos restaurante, kroeë, gimnasiums, ens., moet reeds om 21:00 sluit om te verseker dat personeel en klante voor die aandklokreël tuis is.
  • godsdienstige, sosiale, politieke, en kulturele byeenkomste word weer beperk tot 50 mense binnenshuis en 100 mense in die buitelug. Kleiner lokale wat nie die hoeveelheid kan akkommodeer nie, mag nie meer as 50% van hul kapasiteit oorskry nie.
  • begrafnisse word beperk tot 50 roubeklaers. Nagwake en byeenkomste voor en na begrafnisse word steeds nie toegelaat nie;
  • alkoholverkope vir verbruik weg van die perseel word beperk van 10:00 – 18:00, Maandag tot Donderdag (openbare vakansiedae uitgesluit);
  • alkoholverkope vir verbruik op die perseel word toegelaat volgens die gelisensieerde voorwaardes (tot 21:00);
  • die verbruik van alkohol in openbare ruimtes word verbied; en
  • die dra van maskers in die openbaar is steeds verpligtend. Diegene wat nie ʼn masker dra wat die mond en neus bedek nie, begaan volgens Ramaphosa ʼn kriminele oortreding.

Pasiënte wat positief vir Covid-19 toets, word steeds verplig om tien dae vanaf hul eerste simptome te isoleer. Diegene wat in kontak gekom het met ’n persoon wat positief getoets het, word ook verplig om tien dae vanaf blootstelling te isoleer.

Inentingsveldtog

“Ons is almal bewus daarvan dat ons inentingsprogram verskeie vertragings beleef het. Ons eerste terugslag was toe ons wetenskaplikes, ná die eerste besending entstof hier aangekom het, bevind het dat die AstraZeneca-entstof, wat ons van die Serum-instituut in Indië bekom het, nie doeltreffend is teen die variant wat hoofsaaklik in Suid-Afrika voorkom nie.

“Ons is ook negatief geraak deur tekortkomings in die wêreldwye verskaffing van entstof. Dit het inentingsprogramme in Afrika en talle ander lae- en middel-inkomste lande negatief geraak,” het die president gesê.

“Ná die AstraZeneca-terugslag, het dit geblyk die Johnson & Johnson-entstof is die beste opsie vir ons land, aangesien dit beskerming bied teen die variant en dit slegs ʼn enkele dosis verg. Dit is boonop makliker om te stoor en te vervoer. Die verskaffing van Johnson & Johnson-entstof is egter opgeskort toe ʼn ondersoek van stapel gestuur is nadat werknemers by ʼn vervaardigingsaanleg in Baltimore in die VSA die bestanddele deurmekaar laat raak het met ʼn ander entstof.

“Ons massa-inentingsprogram het tot dusver dus staatgemaak op die Pfizer-entstof, wat twee dosisse verg.”

Tot dusver het 480 000 gesondheidsorgwerkers die Johnson & Johnson-inenting ontvang as fase 1 van ons program. As deel van fase 2 het nog 1,5 miljoen gesondheidsorgwerkers en mense ouer as 60 reeds hul eerste dosis van die Pfizer-entstof ontvang. Dit bring die totaal van persone, wat reeds hul eerste dosis ontvang het, op 2 miljoen te staan.

“Die pas van inentings is besig om stelselmatig toe te neem en ons ent nou sowat 80 000 mense daagliks in by meer as 570 persele in die staat- en privaatsektor. Hierdie getal sal vinnig oor die volgende paar weke toeneem, omdat ons so veel as moontlik kwesbare mense wil beskerm.

“Die probleem met die Johnson & Johnson-entstof is nou opgelos. As gevolg van dié probleme is 2 miljoen dosisse, wat reeds vervaardig is, onbruikbaar. Die Aspen-aanleg in Gqeberha (Port Elizabeth) in die Oos-Kaap kan nou voortgaan en nuwe dosisse vervaardig.”

Die maatskappy het homself daartoe verbind om beduidend sy vervaardiging te verhoog en binne die volgende paar dae entstof aan die land te verskaf.

“Ons het tot dusver nagenoeg 2,4 miljoen Pfizer-dosisse ontvang. Teen die einde van Junie verwag ons nog dosisse vir ʼn totaal van 3,1 miljoen. Ons het reeds ʼn aanduiding by Johnson & Johnson gekry dat hy na verwagting teen die einde van die maand 2 miljoen dosisse aan Suid-Afrika sal lewer.”

Die eerste groep dosisse van Johnson & Johnson sal gebruik word vir onderwysers en daarna veiligheidspersoneel.

“Nou dat die vertragings grootliks opgelos is, is ons onmiddellike taak om persone ouer as 60 so vinnig as moontlik in te ent. Na raming het ons tans kapasiteit om minstens 150 000 persone per dag in te ent en ons beplan om dit so vinnig as moontlik na 250 000 te verhoog.”

Hy doen ʼn beroep op elkeen ouer as 60 om so vinnig as moontlik te registreer om ingeënt te word.

Kyk die volledige toespraak hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Francois Le Cochon ·

Johan, dit help dat ernstige covid gevalle plek in hospitale kry, en ook dat daar vir almal ‘n ventilator beskikbaar sal wees indien nodig. Maw, dit help om ander mense, wie ek en jy nie ken nie, se lewens te red, dieselfde soos ander mense die regulasies nakom om die verspreiding na ander vreemdelinge te voorkom.

MakersMark ·

Ek stem saam Francois. En die gevolge van dit sal bitter wees, soos Indië waar mense op sypaadjies gelos is om te sterf agv die gesondheid sisteem wat uitmekaar geval het. Maar soos Mark Twain gesê het “never argue with an idiot they will drag you down to their level and beat you with experience”. Dis nou golf 3 en amper 18 maande en daar is steeds daai wat MT van gepraat het wat sulke aanmerkings maak soos mens hier sien.

Anoniem ·

Aspen voer grootmaat in en verpak hier, geen van die besoelde inentings is gebruik nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.