SA-tiener red drie Duitsers uit see

Jaco Rossouw, die NSRI en Duitse familie op die strand. Foto: Warwick Heny / NSRI

Jaco Rossouw, die NSRI en Duitse familie op die strand. Foto: Warwick Heny / NSRI

Jaco Rossouw (17), ʼn plaaslike inwoner van Port Alfred in die Oos-Kaap, het Woensdag drie Duitsers van verdrinking in die see gered.

“Die pa van die gesin, Ludder Grosse-Heidermann, het by Port Alfred se Eastern Beach gaan swem het en is deur ʼn sterk seestroom meegesleur,” het Craig Lambinon, ʼn woordvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), Donderdag in ʼn verklaring gesê.

“Die pa se seun en dogter het hom probeer red, maar is ook deur die seestroom meegesleur.” Dit is nie bekend hoe oud die gesinslede is en of hulle met vakansie in Suid-Afrika is nie.

Al drie het teen die stroom begin swem om by die strand uit te kom, en het in die moeilikheid beland.

Rossouw, wie se ma ʼn swemskool in die dorp besit, was tydens die voorval op die strand en het hulle te hulp gesnel.

“Hy het dadelik hulp ontbied en daarna die see in geswem, waar hy vir die drie Duitsers geskreeu het om parallel met die strand te swem sodat hulle uit die seestroom kan kom.”

Die dogter en seun het Rossouw se instruksies gevolg en hul pa in die water saamgetrek tot hulle uit die seestroom kon kom. Vandaar kon hulle maklik tot op die strand swem waar Rossouw hulle verder bygestaan het.

Lambinon het gesê dit het aanvanklik voorgekom of Grosse-Heidermann ongedeerd was, maar hy het aan skok gely. “Die familie is na ʼn hospitaal geneem vir waarneming. Gross-Heidermann het volkome herstel en het sy dank aan Rossouw betuig.”

Die NSRI het vakansiegangers gewaarsku om uiters versigtig in die see te wees oor die komende Paasnaweek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.