SA tieners op pad na internasionale wetenskapskou

Christiaan Bauman (16) van Hoërskool Waterkloof (Foto verskaf)

Twee tieners gaan Suid-Afrika verteenwoordig by die 2019- internasionale wetenskapskou in Taiwan nadat hul wetenskapprojekte van buitengewone gehalte die aandag getrek het by die Eskom Expo vir Jong Wetenskaplikes.

Michael Dennis (18) van Potchefstroom Gimnasium en Christiaan Bauman (16) van Hoërskool Waterkloof is deur ʼn paneel van akademici en ander professionele persone gekies ná die Eskom Expo in Oktober 2018 in Gauteng. Die tieners het beoordelaars beïndruk met hul kennis, vindingrykheid en ondersoekmetodes, het Eskom in ʼn verklaring gesê.

Dennis het waterbesoedeling ondersoek en ʼn instrument ontwikkel om waterbesoedelingsvlakke te bestuur. Hoë vlakke van fosfaat in water is giftig en versteur die delikate balans van die ekostelsel. Sy uitvinding sal dié fosfaatvlakke kan bestuur.

Michael Dennis (18) van Potchefstroom Gimnasium (Foto verskaf)

Bauman het ʼn ernstige probleem, wat wêreldwyd ervaar word, getakel, naamlik mynwerkers en ander persone se lewens wat bedreig word of persone wat verdwaal in ondergrondse gebiede soos grotte. Die mees onlangse voorbeeld is die groep van 12 seuns en hul sokkerafrigter wat in ʼn grot in Thailand vasgekeer was. Bauman het ʼn robot geprogrammeer en gebou wat in die grotte ingestuur kan word en waar dit enige teken van lewe sal opspoor, die ruimte op ʼn kaart kan teken en reddingsbeamptes kan bystaan met ander noodsaaklike data.

“Die doel van die Eskom Expo is om leerders betrokke te kry in die wetenskapbedryf deur navorsing. Hierdie twee jong wetenskaplikes het hul werk tot ʼn hoër vlak geneem en dit kan vergelyk word met industriestandaarde,” het Parthy Chetty, uitvoerende direkteur van die Eskom Expo, gesê.

Die Taiwannese skou vind van 28 Januarie tot 1 Februarie in Taipei plaas. Suid-Afrika neem aan dié skou deel, omdat dit skoliere die geleentheid bied om hul navorsing aan hul eweknieë van ander lande bekend te stel.

“Eskom belê al die afgelope twee dekades in die expo vir jong wetenskaplikes, want dit is die perfekte manier om die weg te baan vir toekomstige wetenskaplikes en ingenieurs in ons land,” het Pieter Pretorius, voorsitter van die raad van direkteure van die Eskom Expo, bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Vonkprop ·

Sjoe ek voel sommer super dom as ek na hierdie jongmanne se uitvindings luister. Baie geluk. Julle verdien dit.

dirk bosman ·

Leerlinge van Gimmies en Klofies.Dit wil voorkom dat daar niks verkeerd is met AFRIKAANS AS TAALMEDIUM IN DIE WETENSKAP NIE.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.