SA treur oor die Wit Zoeloe

Johnny Clegg het die skare op hul voete gehad tydens dié konsert by die Durban-uitstallingsentrum in 2005. (Foto: Shelley Kjonstad)

“’n Geliefde, inspirerende en heldhaftige stem het stil geword en laat ons almal beroof van ʼn uitsonderlike landgenoot en ikoon van sosiale samehorigheid en nierassigheid.”

Met dié woorde het pres. Cyril Ramaphosa die gevoel van hartseer opgesom wat Dinsdagaand oor die land gespoel het met die nuus dat die legendariese sanger, Johnny Clegg, gesterf het. Clegg, ook bekend as die Wit Zoeloe, het Dinsdag in die ouderdom van 66 sy stryd teen pankreaskanker verloor. Hy het by sy huis in Johannesburg gesterf.

“Clegg se spesiale verhouding met Sipho Mchunu in Juluka, asook met Dudu Zulu in Savuka, het apartheidsera-Suid-Afrika ʼn kykie gegee in die nierassige Suid-Afrika wat ons vasbeslote was om te bereik. Clegg sal altyd in ons harte en huise voortleef wanneer ons sy roerende mengsel van kulturele viering en politieke weerstand speel. Ons het ʼn spesiale patriot verloor,” het Ramaphosa gesê.

Johnny Clegg in Langstraat, Kaapstad. (Foto: Gary Van Wyk/Reporter Zane)

Die departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco) het Clegg se dood as ʼn verlies beskryf – nie net vir Suid-Afrika nie, maar vir die wêreld. “Clegg, ʼn seun van Suid-Afrika, het sy land se vlag na talle hoogtes gevlieg. Mag sy siel in vrede rus.”

Clegg was ʼn baanbrekermusikant en liedjieskrywer wat Engelse lirieke met Westerse melodieë en Zoeloe- musikale strukture gekombineer het. Hy het ook saam met musikante van ander rasse musiek gemaak. Destyds in die apartheidsjare is musiek van groepe van gemengde rasse nog deur radio’s gesensor en dié groepe verbied om in openbare plekke op te tree.

Clegg het gedurende sy loopbaan van vier dekades meer as vyf miljoen albums verkoop en met talle internasionale kunstenaars en organisasies saamgewerk.

Johnny Clegg in aksie tydens ‘n konsert by die Lebone ll College in Phokeng as deel van die bekendstelling van die Phatsima-onderrigfonds. (Foto: Antoine de Ras)

In 2012 is die Orde van Ikhamanga (silwer) aan hom toegeken vir sy uitstekende bydrae en prestasie om die kloof tussen tradisionele Afrika-musiek en ander musiekvorme te oorbrug en sodoende begrip te kweek te midde van moeilike apartheidsomstandighede. Clegg was ook ʼn aktivis vir die vrylating van politieke gevangenes.

Dit was net een van talle Suid-Afrikaanse en internasionale toekennings wat Clegg ontvang het. In 1990 het hy die Humanitêre Toekenning deur die staatsekretaris in Ohio in die VSA ontvang. In 1993 is hy vir ʼn Grammy-toekenning genomineer vir beste Wêreldmusiekalbum. In 1994 het hy die Billboard Music Award vir beste Wêreldmusiekalbum ontvang. In 2004 het hy drie eremedaljes in Frankryk ontvang vir sy bydrae tot die goeie verhouding tussen Franse gebiede en Suid-Afrika.

Dit is egter nie net regeringsowerhede wat hul hartseer oor Clegg se dood uitgespreek het nie. Sedert gisteraand was die hutsmerk #RIPJohnnyClegg een van die mees gebruikte hutsmerke op Twitter met talle mense wat sy afsterwe betreur.

Johnny Clegg tree op by die Durban World Music Festival.(Foto: Shelley Kjonstad)

“Lala ngoxolo [rus in vrede]. Dankie vir jou bydrae tot sosiale kohesie,” het adv. Busisiwe Mkhwebane, Openbare Beskermer, op Twitter geskryf.

“Dood van ʼn legende,” het die veteraanradio-omroeper John Robbie laat hoor. “Johnny Clegg was ʼn ikoon en ʼn ongelooflike vegter. Trots om hom te kon ken. Hamba Kahle [mooi loop].”

“Johnny Clegg, rus in vrede. Dankie vir alles wat jy vir my gedoen en so baie mense daar buite gedoen het. Jy sal nooit vergeet word nie,” het sanger Bobby van Jaarsveld geskryf.

“Die ware heer van Suid-Afrikaanse musiek. Baie hartseer en geskok,” het Steve Hofmeyr op Twitter geskryf.

Johnny Clegg op die verhoog by die Johannesburg-stadsteater in 2005. (Foto: Steve Lawrence)

“Vandag het Suid-Afrika nog ʼn legende verloor,” sê die Afrikaanse kletsrymer, Jack Parow. “Ek voel bevoorreg en geëerd om deel te kon wees van jou stigting en die ongelooflike werk wat jy gedoen het. Jy laat ʼn legendariese nalatenskap agter. Jy sal gemis word.”

ʼn Openbare gedenkdiens sal vir Clegg gehou word. Meer besonderhede sal binnekort bekendgemaak word.

Intussen het MNet aangekondig die episode van Die Republiek van Zoid Afrika waarin Johnny Clegg ‘n gas was, word weer op Sondag 21 Julie om 10:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Hamba Kahle Impi ·

Jy was ‘n Groot Legende Johnny. Hier plaaslik en oor die wêreld heen. Jou musiek sal altyd bly voortleef en vir miljoene ‘n inspirasie wees. Dit is so waar wat Steve Hofmeyer geskryf het oor jou afsterwe: “Die ware heer van Suid-Afrikaanse musiek”. Jy is en was en sal altyd die grootste Legende van Suid-Afrikaanse musiek wees.

RIP.

Heksie ·

Daai dag by Melrose Arch in 2010 het jy by my verby geloop en ek wou nie steur nie, vandag is ek spyt want ek was nog altyd ‘n aanhanger van jou musiek.

RIV Johnny, ons gaan jou mis!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.