SA tussenverkiesings hervat in November

Argieffoto (Foto: Motshwari Mofokeng/African News Agency/ANA)

Suid-Afrikaanse munisipale tussenverkiesings hervat op 11 November noudat die land op vlak 1 van die grendelstaat is.

Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) het Donderdag tydens ‘n vergadering besluit dat minstens 461 stemdistrikte se kiesers op daardie dag stembus toe sal gaan om hul nuwe verteenwoordigers vir stadsrade te verkies.

Dit is nuwe lede in die plek van stadsraadslede wat oorlede is of bedank het sedert die grendelstaat in Maart ingestel is. Die hoeveelheid wyke en stemdistrikte kan vermeerder as nog stadsraadslede landwyd bedank of afsterwe.

Een van die tussenverkiesings wat fyn dopgehou sal word, is Reynorif in Emalahleni (Witbank) op die hoëveld van Mpumalanga. Ander interessante kiesregstryde word onder meer verwag in Rustenburg, Emfuleni (Vereeniging) en Uphongolo (Pongola in die suikerrietlande van noordelike Zoeloeland).

Die hou van tussenverkiesings is in Maart op ys geplaas toe vlak 5 van die landwye afsonderingsperiode openbare samekomste (buiten begrafnisse) verhoed het.

Nou is dit egter moontlik vir tot vyfhonderd mense op ‘n slag om in die buitelug byeen te kom. Daar sal egter veranderings wees aan die praktyk van tussenverkiesings soos Suid-Afrikaners oor die jare daaraan gewoond geraak het.

Die OVK sê naamlik daar sal afstand van een en ‘n half meter per kieser gehandhaaf moet word in die kiesersry. Voorts sal alles van ID-boekies en ID-kaarte tot die potlood in die stemhokkie deurgaans ontsmet moet word en die onsigbare ink sal met watte toegedien word op die vingernael.

Stemtyd sal steeds van sewe-uur soggens tot sewe-uur saans wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Baas van die plaas ·

En wat van Tshwane se tussenverkiesings? Die administrateurs moet uit. Hulle breek alles af wat die DA opgebou het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.