SA universiteite fnuik fopnuus – studie

Akademiese biblioteke in Suid-Afrika het tot dusver hoëgehalte-inligting verskaf om die negatiewe uitwerking van fopnuus wat met Covid-19 verband hou, te neutraliseer.

Dit is een van die vernaamste bevindings van ʼn onlangse studie by die Universiteit Stellenbosch (US).

“Akademiese biblioteke het ʼn belangrike rol hierin gespeel en het op verskeie strategieë staatgemaak om fopnuus beveg,” sê Siviwe Bangani, direkteur van navorsingsdienste by die US se Biblioteek- en Inligtingsdiens.

Hy het navorsing gedoen oor hoe akademiese biblioteke tot die stryd teen fopnuus in Suid-Afrika bygedra het sedert die pandemie die land bereik het. Die bevindings van sy studie het onlangs in die Journal of Academic Librarianship verskyn.

Bangani het ʼn literêre oorsig en inhoudsontleding van webwerwe en biblioteekgidse (oftewel LibGuides) van Suid-Afrika se openbare universiteite tussen Julie en Augustus verlede jaar gedoen toe die land op die kruin van die eerste vlaag Covid-19-infeksies was.

Benewens sy soektog na gratis Covid-19-hulpbronne en -inligting op die landingsblaaie van universiteite se webwerwe, het hy ook op aanlyn platforms soos EbscoHost, Science Direct, SA ePublications, Scopus, Web-of-Science en Google Scholar gesoek deur sleutelwoorde soos “Covid-19”, “Covid-19 en (fake news or infodemic)”, en “fake news or the infodemic” te gebruik.

Volgens Bangani was universiteite se landingsblaaie ʼn ryk bron van data vir gratis Covid-19-hulpbronne, terwyl hul biblioteekgidse die meeste data oor fopnuus of die infodemie verskaf het.

“My studie toon dat akademiese biblioteke Covid-19-verwante fopnuus teengewerk het deur onder meer gehalte- en geloofwaardige inligting en inligting- en mediageletterdheidsonderrig te verskaf, bewustheid oor fopnuus te skep en deur bibliotekarisse wat webinare en konferensies bywoon en aanbiedings daar doen,” sê Bangani.

Die Universiteit Stellenbosch se biblioteek (Foto: Stefan Els)

Sommige universiteitsbiblioteke het toegewyde biblioteekgidse opgestel wat daarop gefokus het om die jongste inligting oor Covid-19 te verskaf. Die gidse skakel na gratis elektroniese materiaal soos boeke, vaktydskrifte en webwerwe, soos die Suid-Afrikaanse regering se webwerf wat geloofwaardige inligting oor Covid-19 verskaf. Biblioteekgidse het ook inligting verskaf oor virtuele dienste wat die biblioteke gedurende hierdie tydperk gelewer het.

Bangani sê die meeste LibGuides in Suid-Afrika bevat skakels na evalueringsinstrumente soos die Internasionale Federasie van Biblioteekverenigings en -instellings (Ifla) se “How to Spot Fake News”, CRAAP (Currency, Relevance, Authority, Accuracy and Purpose) en video’s oor hierdie onderwerp.

“Aanlyn opleiding, wat dikwels geanker was in maniere om geloofwaardige inligtingsbronne op te spoor, het regdeur die Covid-19- staat van inperking plaasgevind. Die US het byvoorbeeld met sy #SmartResearcher-werksessies voortgegaan en het ook opleiding aan studente en navorsers verskaf sodat hulle nuwe vaardighede kon aanleer wat hulle ʼn voorsprong gegee het in hul hantering van fopnuus.”

Volgens Bangani dui hierdie stappe deur akademiese biblioteke daarop dat hulle positief gereageer het op die Biblioteek- en Inligtingsvereniging van Suid-Afrika se oproep aan alle inligtingspraktisyns om fopnuus te bekamp.

Hy sê die resultate van sy studie kan as ’n templaat gebruik word van hoe biblioteke krisissituasies in die toekoms kan hanteer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Gerhard ·

Navorsing studies word deesdae standaard in engels gedoen want die inligting word tot die wereld gepubliseer. Of mense daarvan hou of nie maar engels is die internasionale taal.

Jessey ·

Baie Dankie vir die duidelike verduideliking op ‘n sarkastiese opmerking wat ek gemaak het (so bietjie tong in die kies oor ‘n taalbeleid). Ek voel nou soveel meer ingelig en verlig vanoggend.

Philip ·

Was die aanbieding net in Engels of kan ons darem n bietjie Afrikaans deur die navorser ook verwag siende dat die spreektaal van Stellenbosch nou uitsluitlik Engels is.

Lood ·

Hulle werk is eintlik baie maklik. Almal wat iets teen die Wêreld Gesondheids organisasie se standpunt sê of iets negatiefs sê oor inenting word summier beskou as fopnuus. Dit is hoe die media dit ook hanteer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.