SA universiteite op wêreldranglys volgens vakke

Die Universiteit van Kaapstad. Foto: UCT/Facebook

Die Universiteit van Kaapstad. Foto: UCT/Facebook

Suid-Afrikaanse universiteite verskyn op die mees onlangse QS-wêreldranglys van top universiteite volgens verskillende vakrigtings.

Die sesde uitgawe van die ranglys, wat Dinsdag aanlyn gepubliseer is, sluit 42 vakgebiede in, wat dit die mees omvattende wêreldvakranglys ooit maak. Vier Suid-Afrikaanse universiteite het die top 50 gehaal, terwyl die Universiteit van Kaapstad (UK) onder die top 10 verskyn vir Ontwikkelingstudies.

Die ranglys word saamgestel met die kundige insette van byna 77 000 akademici en 44 000 werkgewers. ʼn Analise van 28,5 miljoen navorsingstukke en meer as 113 miljoen aanhalings uit die Scopus/Elsevier bibliometriese databasis word ook in ag geneem.

Suid-Afrikaanse universiteite wat op die ranglys pronk sluit in UK in ʼn gesamentlike 9de plek vir Ontwikkelingstudies, die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) in ʼn gesamentlike 14de plek, ook vir Ontwikkelingstudies en Wits weer in die 26e plek vir Argeologie. UK beklee ook ʼn gesamentlike 46ste plek vir Aardrykskunde. Dié twee universiteite spog met 17 van Suid-Afrika se 21 top-100 plekke wat die 42 vakrigtings betref.

Harvard en die Massachusetts Institute of Technology (MIT) is steeds die voorlopers met 12 topposisies elk op die ranglys.

Suid-Afrikaanse universiteite se gemiddelde puntetelling het verbeter in albei statistieke wat gebruik word om universiteitsprestasie te bepaal – aanhalings per fakulteit en die h-indeks (die h-indeks is ʼn outeurvlak-metingstelsel wat poog om die produktiwiteit en aanhalingsimpak van die publikasies van ʼn wetenskaplike of akademikus te bepaal).

Die gemiddelde werkgewer-reputasietelling van Suid-Afrikaanse universiteite het met byna 2% verbeter, terwyl die gemiddelde telling vir akademiese reputasie slegs effens verbeter het.

Sien die volledige ranglys hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Asjas ·

Hierdie lys is seker opgestel voor al die onlangse moles by universiteite, kannie wag om volgende jaar se lys te sien nie.

Johann ·

Daar is soveel negatiwiteite in ons land, dat ons net moet glo dat hierdie posisie in die toekoms sal verbeter of ten minste daar bly. Ons kan nie toelaat dat ons tersiêre instansies afgradeer word soos die ekonomie nie.

jaco ·

Is dit dan vandag al April Fools Day? Hierdie berig moet ‘n grap wees.

jaco ·

Kyk mooi: dis maklike vakke. Argeologie is miskien bietjie tough, maar ontwikkelingstudies en aardrykskunde is maklik. Dis suiwer leerwerk; amper papagaaiwerk. Net goed genoeg vir ‘n basic BA-graad, waarmee mens nie gaan werk kry nie.

Klaas van Deventer ·

Ek sien Universiteit van Vrystaat is weer nêrens nie. Ouers moet maar mooi dink voor hulle hulle kinders soontoe stuur…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.