SA universiteite se finansiële posisie bestendig

(Argieffoto: ANA)

Ten spyte van die FeesMustFall-beweging en die regering se belofte van gratis tersiêre onderrig aan duisende studente, is Suid-Afrikaanse universiteite in ʼn bestendige finansiële posisie.

Volgens ʼn verslag van Statistieke SA (StatsSA) oor die finansies van die land se hoëronderwysinstellings het hul inkomste-kontantvloei met R9,2 miljard toegeneem van R73,7 miljard in 2017 na R83 miljard verlede jaar.

Die toename word grootliks toegeskryf aan ʼn styging in die betaling van staatsubsidies, asook sogenaamde “ander inkomste”, wat klasgeld insluit.

Laasgenoemde het gesorg vir ʼn inkomste van R44,3 miljard verlede jaar, gevolg deur subsidies van R38,6 miljard.

Altesaam R4,7 miljard meer is verlede jaar in staatsubsidies uitbetaal – dié bedrag het toegeneem van R33,9 miljard in 2017 tot R38,6miljard verlede jaar en is hoofsaaklik te danke aan die oorbetaling van geld van die departement van hoër onderwys en opleiding aan die Universiteit van die Witwatersrand (Wits), die Universiteit van Johannesburg (UJ) en die Universiteit van KwaZulu-Natal (UKZN)

Die toename van R4,5 miljard wat aan ander inkomste toegeskryf word (van R39,8 miljard in 2017 na R44,3 miljard in 2018), is te danke aan ʼn verhoging in die bedrag klasgeld wat die UKZN, Unisa en Wits ingevorder het.

StatsSA het bevind salarisse bly universiteite se grootste uitgawes.

Universiteite het verlede jaar net meer as R40 miljard aan salarisse bestee en die styging in dié rekening (dit was in 2018 R2,7 miljard meer as in 2017) word hoofsaaklik toegeskryf aan verhogings vir werkers by Unisa, Wits en die Universiteit van Pretoria (UP).

Unisa en die Kaapse Skiereiland-Universiteit van Tegnologie (KSUT) het verlede jaar minder beurse aan studente toegeken, wat weer tot ʼn vermindering in uitbetalings gelei het. Universiteite het in 2018 altesaam R213 miljoen minder aan sogenaamde ander betalings bestee.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

ES ·

UNISA vorder veral ‘n ongelooflike groot hoeveelheid geld in. Ek was verlede week noodgedwonge na die Daveyton kampus en was geskok om te sien in watter swak toestand die kampus is. Dit het gelyk asof ek in die lisensiekantore is, of binnelandse sake.

Die drukker om studentekaarte te druk was stukkend en daar was niemand by ontvangs om my te assisteer nie.

Gemaskerde Sopbeen ·

Hoekom sê die berig nie hoeveel suksevolle graadstudente is daar vir hierdie enorme hoop geld nie? Prestasie word gemeet aan die uitkoms van die dienste gelewer, NIE die onsmaaklike spul geld wat jy daarvoor ontvang nie? Skole spog ook so graag met “100% slaagsyfer en universiteitstoelating” want die leerders word met ‘n lepel gevoer en op die kop gekap om te sluk in “NET 16 leerders per klas” EN “persoonlike aandag deur die onderwyser”. Dan kom daardie kindertjies op ‘n kampus, sit in ‘n lesingsaal met 200 ander studente,…en misluk klaaglik want hulle’t nooit geleer om “self” te leer nie. NIE EEN van daardie skole wat so spog, kan vir ‘n mens sê hoeveel van hulle “eerstejaars” slaag daardie eerste jaar….omdat die skool hulle daarop voorberei het nie!!!

Judge Dredd ·

As Nsfas inmekaar tuimel, dan val die Universiteite ook.

Attie. ·

Dis nouregtig vandag se hoofnuus. Nou weet ons alles oor die toestand van ons universiteite danksy MM

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.