SA van die duurste om in te sterf

(Foto ter illustrasie: pixabay)

Suid-Afrika is die vierde duurste land om in dood te gaan. Só het ʼn onlangse internasionale studie oor begrafniskoste deur die lewensversekeringsmaatskappy SunLife bevind.

Die studie het die gemiddelde begrafniskoste in 35 lande wêreldwyd bereken deur dié koste met die lewenskoste en gemiddelde salaris van ʼn persoon in die onderskeie lande te vergelyk.

Volgens die jongste statistiek van die OECD Better Life Index, beloop die gemiddelde koste van ʼn begrafnis in Suid-Afrika ongeveer R26 875. Dit is ongeveer 13% van ʼn Suid-Afrikaner se gemiddelde salaris.

Volgens die SunLife-studie is Japan die duurste land om in te sterf, met begrafniskoste wat ongeveer 27 900 dollar (R485 873) beloop. Dit is omtrent 68% van die gemiddelde salaris in Japan.

China is die tweede duurste land om in te sterf en begrafniskoste beloop omtrent 5 305 dollar (R92 386) (45,4% van die gemiddelde salaris). In Duitsland beloop begrafniskoste 7 807 dollar (R135 957) (16,4 % van die gemiddelde salaris), en is dus die derde duurste land ter wêreld en duurste land in Europa om in dood te gaan.

Die vyfde duurste land om in ʼn begrafnis te hou, is Nederland, waar ʼn gemiddelde begrafnis 6 800 dollar (R118 421) beloop.

Op grond van die navorsing was die lande waar begrafnisse die kleinste persentasie van inwoners se salaris beloop Pole (2,3%), Indië (2%) en Rusland (1,3%).

Justin Cole, direkteur van SunLife, sê ʼn verskeidenheid faktore is in ag geneem om die koste van die begrafnisse reg oor die wêreld te bereken. Hy sê dié faktore sluit in kulturele verwagtinge, die totale lewenskoste en die bydraes van verskillende state tot begrafnisskoste.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Carina ·

Ek kan nie verstaan hoekom verassings so duur moet wees nie. My pa en ma se verassings was tussen R9000 en R12000. En waarvoor? My pa is in die goedkoopste plankie kis veras, kort duskant karton, en met my ma was die goedkoopste kis wat ek kon kry R3500. Met verassings kostes by kan dit mos nie so baie wees nie. Iemand maak alweer lekker geld hieruit.

Die Wolf ·

Kry eers n geskrewe kwotasie. Onderhandel daarna vir afslag.

Pieter ·

En as jy n ANC comrad is dan kos dit die belasting betaler 2miljoen.

henndrik ·

Ek het self vir ‘n kort rukkie in die bedryf gewerk en ja, ek reken die kostes is heeltemal buitensporig. Ek het ‘n groot probleem met die moraliteit van die bedryf want familie word duidelik uitgebuit op ‘n stadium wat hulle baie kwesbaar is. Ja, ek erken, die toerusting is duur maar om met elke begrafnis die hele koste van die toerusting van die familie te verhaal is onaanvaarbaar. My opinie, ‘n begrafnis behoort nie meer as R10 000.00 te kos nie en ek stel voor dat daar moet ‘n nie winsgewende organisasie op die been gebring word wat begrafnisse hanteer – ‘n gemeenskap projek.

katerinadiekat ·

Nou wat gebeur as mens glad nie die geld het vir n begrafnis of verassing nie? Wat gebeur met die liggaam van die oorledene?

Annelize ·

Ja, dis nou letterlik die een se dood, is die ander se brood.

Maar dis tipies SA, waar niemand meer die verskil tussen “wins” en “gierigheid” ken nie.

Danie ·

Wag net bietjie, R26875 is 13% van ‘n Suid Afrikaner se gemiddelde salaris?
‘n Salaris is geld wat jy ontvang per maand.
Is die gemiddelde salaris dus R206730 per maand?
En jys reg Carina, die begrafnisondernemers doen wel ‘n goeie en noodsaaklike werk maar hulle weet die naasbestaandes is in rou en wil graag die saak afhandel met die minste probleme en wil of kan nie rondshop vir pryse nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.