SA veeartse red olifant in Pole se lewe

Prof. Gerhard Steenkamp besig om stukke van die tand te verwyder. (Foto: UP)

Twee veeartse van die Universiteit van Pretoria (UP) het die lewe van ʼn olifant in ʼn dieretuin in Pole gered deur ʼn beskadigde tand tydens ʼn lang en ingewikkelde operasie te verwyder.

Die UP sê in ʼn verklaring Ninio, ʼn Afrika-olifant by die Poznań-dieretuin, het verlede jaar ernstige infeksie opgedoen nadat ʼn kraak in die onderkant van sy regtertand verskyn het.

Prof. Gerhard Steenkamp, ʼn dosent in tandheelkunde en kaakchirurgie vir diere by die universiteit se Fakulteit vir Veeartsenykunde, en prof. Adrian Tordiffe, ʼn veterinêre wildspesialis, het 33 uur lank na Pole gevlieg om dié vyf uur lange lewensreddende operasie te doen.

Dit was nie Steenkamp en Tordiffe se eerste ontmoeting met Ninio nie. Die twee kenners het reeds in 2012 en 2013 na die Poznań-dieretuin gereis om Ninio se linkertand te verwyder.

In 2015 het hulle wéér vir Ninio besoek om te kyk na sy regtertand wat hy beskadig het. “Gelukkig was die tand nie toe baie geïnfekteer nie. Gerhard kon ʼn gedeeltelike pulpektomie doen, waartydens ʼn gedeelte van die beskadigde tand verwyder en die tand dan geseël word met ʼn harde nylonprop,” sê Tordiffe.

“Dit het goed gewerk totdat daar nog ʼn kraak in Julie vanjaar aan die onderkant van die oorblywende tand opgemerk is.”

Die twee veeartse is terug na Poznań om Ninio te hulp te snel. Tordiffe moes spesiale toestemming kry om ʼn sterk verdowingsmiddel na Pole te neem om Ninio mee te verdoof. Ninio het op ʼn ongemaklike manier omgeval en nadat die span hom omgestoot het dat hy op sy regterkant lê, is ʼn hyskraan gebruik om die 5,5 ton olifant op sy linkerkant te draai.

Terwyl Tordiffe ʼn mengsel van middels toegedien het sodat Ninio verdoof bly en minimale pyn ervaar, het Steenkamp te werk gegaan om die regtertand te behandel.

“Gerhard het vinnig bevestig dat die tand erge infeksie opgedoen het en dat die enigste opsie was om dit te verwyder,” het Tordiffe gesê.

Prof. Adrian Tordiffe hou ‘n wakende oog oor Ninio. (Foto: UP)

Hy verduidelik die tand was massief met ʼn omtrek van 53 cm teenaan die lip. Boonop het Ninio swak begin asemhaal en ʼn buis moes in sy lugpyp geplaas word om hom te ventileer. Intussen het Steenkamp vinnig die grootste gedeelte van die tand verwyder, maar moes daarna sukkel om harde stukke abnormale ivoor te verwyder wat weens die infeksie diep in die tandholte gevorm het. ʼn Massiewe boor is gebruik om dié stukkies harde ivoor te breek en te verwyder.

Ná vyf uur lange chirurgie was Steenkamp tevrede dat genoeg van die geïnfekteerde ivoor verwyder is om die tandholte toe te laat om te genees. “Ons het Ninio teenmiddels teen die verdowingsmiddels toegedien en die span het gehelp om hom op sy bors te stoot sodat hy terug op sy voete kon kom,” sê Tordiffe.

Ninio was vas op sy voete ná die operasie en kon normaal rondbeweeg, maar wou nie eet of drink nie en het gelyk asof hy pyn het. “Nadat ons ʼn tweede dosis pynstillers, versteek in ʼn sappige waatlemoen, in hom gekry het, het hy weer begin eet en drink en teen die tyd dat ons weg is, 48 uur ná die operasie, was hy byna weer sy normale self.”

Luidens die UP se verklaring is daar baie min veterinêre spanne in die wêreld wat in staat is om hierdie operasie te doen en het Tordiffe en Steenkamp meer ervaring as enigiemand anders. Verlede jaar het hulle ʼn tand van ʼn Asiatiese olifant by die Tbilisi-dieretuin in Georgia verwyder. Daardie prosedure is deur die BBC verfilm en vroeër vandeesweek op BBC Earth (DStv-kanaal 184) uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Cherokee ·

Dit is lekker om te lees wat vir diere gedoen word en wat in diè spesifieke geval gedoen is, maar dan dink mens aan diere in die ongerepte wildernis wat sonder olifanttandartse en dies meer, daar deur moet werk. Maar miskien is dit veroorsaak deur modernisasie soos toffies en ander lekkergoed.

Menswaardig ·

Julle is spierwit engele. Wonder of sy tandjies ook sou moeilikheid maak indien hy nie in ‘n hok gehou was nie?

Lizelda ·

Ja, nee, Rina dit maak ons trots en dankbaar dat die 2 Suid-Afrikaners bereid was om n dier in nood te help!!!! Wel gedaan UP span Veeartse.xxx

Attie. ·

Baie geluk aan die UP span veeartse. By die lees van die artikel het die vir ‘n oomblik gevoel ek leef weer in die ou SA waar ons mense geweet het wat hulle doen. Die uitgawes verbonde aan die lang lugreis om een olifant te red beteken vir ons so baie, SA kom weer in die kollig en Prof Gerhard Steenkamp en sy span is vir ons ware ambasadeurs. Jare terug was twee walvisse gered wat onder ys vasgevang was en hulle was gered deur gate in die ys te saag en hulle sodoende te lei na ‘n gebied wat vry was van pakys. Daardie mense het nie slegs twee walvisse gered nie maar hulle het die hele wêreld se verbeelding aangegryp en tot die besef gebring dat walvisse deel is van ons ekostelsel en nie uitgeroei moet word nie. So ook met die olifant in ‘n dieretuin, almal mag dalk deur die daad van die UP span besef dat olifante beskerm moet word.

Carlien ·

Wonderlik om te sien wat julle vir daai prag dier gedoen het.. Baie dankie dat julle sy lewe gaan beter maak het..

Menswaardig ·

Julle is spierwit engele. Wonder as hy nie in ‘n dieretuin ingehok was nie, of dit ook sy tandjies ook moeilikheid sou maak?

Viss ·

Ons het die beste veeartse in die hele wereld,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,

Marix ·

Watter heerlike storie na al die goor nuusberigte.
Knap gedaan aan ons spesialiste.
Terwyl ek lees oor die tande behandeling kom daar ‘n “wicked” prentjie in my kop. Hoe sal ‘n olifant lyk met ‘n stel kunstande?
Verskoon maar my simpel sin vir humor.

Christiaan Jooste ·

Ek kan amper nie dink dat ‘n vlug Pole toe 33 uur is nie? Maar goedgedoen deur die veeartse

dankie ·

Ons het die bestes van baie beroepe gehad …………totdat – nou ja

Ella ·

Sien, daar is hulp beskikbaar as jy vra dis nie altyd nodig om die doodskoot te gee
So trots op ons SA veeartse, in die geval, wat selfs bereid is ure te bestee om by die probleem te kom.
Dankie vir almal wat genoeg omgee om te help.

Anel ·

Dr Steenkamp het ons seun se hond se tande ook behandel. Het persoonlik gerëel vir afspraak en behandeling. Ons seun praat met groot lof van hom.

CG ·

Doktore en professore, maar niks bang om met hulle hande die (groot) ding te doen nie! So trots!!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.