SA verkeer in tweestryd oor Madiba se nalatenskap

Oudpresident Nelson Mandela (Foto: Werner Beukes/SAPA)

Tien jaar ná die dood van Suid-Afrika se eerste demokratiese president, Nelson Mandela, meen sommige Suid-Afrikaners dat dit tyd is om die sogenaamde “Mandela-manie” te beëindig.

Suid-Afrikaners verkeer in ʼn tweestryd oor Madiba se nalatenskap – gegewe waar die land hom nou bevind.

Die tweestryd volg nadat die Nelson Mandela-stigting Vrydag ʼn herdenkingsuitstalling bekendgestel het wat eenvoudig getiteld is: “Mandela is dood”.

Verne Harris, Mandela se argiefbewaarder en waarnemende president van die stigting, sê enige land wat só ʼn sterk figuur gehad het, hang hom nog aan vir jare nadat die persoon weg is, en ly boonop aan “ʼn diep nostalgie” na hoe dit was toe die persoon nog gelewe het.

“Wat ons egter met die uitstalling sê, is dat die [nostalgie] dalk net ʼn vernietigende energie word. Miskien moet ons hom laat gaan, en na nuwe rolmodelle soek.”

Die uitstalling beklemtoon “die verlies wat ons [as land] gely het” met Mandela se dood.

As deel van sy pogings om te help om “hierdie hartseer te verwerk”, bevat die uitstalling interaktiewe elemente wat besoekers aanmoedig om te sê wat hulle dink oor Mandela se nalatenskap.

Borde is by twee universiteite opgerig vir kommentaar oor Mandela se nalatenskap. Sommige van die reaksies beklemtoon egter net die verdeeldheid onder Suid-Afrikaners oor dié onderwerp.

Baie jeugdiges sê wyle Mandela moes meer gedoen het om die gevolge van apartheid te versag.

“Sy nalatenskap het niks meer gedoen as om die armes arm te hou en die rykes ryk te hou, vryheid is nie gratis nie,” het ʼn student van Johannesburg gesê.

“As almal nie daarna streef om die droom van ʼn werklik vry en progressiewe Suid-Afrika tot lewe te bring nie, dan sterf daardie droom saam met Mandela,” het nog een bygevoeg.

“Soveel van sy drome bly onvervul deur sy kamerade,” het ʼn derde student gesê.

Morongwa Phukubye, woordvoerder van die stigting, sê die uitstalling wil graag diskoers aanmoedig.

“Ons debatteer sy nalatenskap. Sy nalatenskap is nie een van ʼn heilige [wese] nie.”

Die stigting het ook in townships rondgegaan en mense se opinie oor Mandela se nalatenskap gevra. Talle reaksies wat dit eens dat Madiba ʼn goeie leier was, maar sy opvolgers kwyt hulle nie goed van hul taak nie.

“As Madiba net jonger was, sou hy ons dalk uit hierdie gemors kon help,” het een persoon gesê.

‘Lewe was ʼn las in laaste jare’

Harris, wat oor die jare heen goed bevriend geraak het met Mandela, sê hy het gemengde gevoelens oor die herdenking van sy dood.

“Aan die een kant is die herinneringe van die laaste vyf jaar van Mandela se lewe nog so vars in my kop. Ek het destyds nog gewens dat hy net sal laat gaan want ek kon sien dat lewe ʼn las vir hom geword het,” sê hy.

“Dis moeilik om te sê, maar ek voel verlig. Terselfdertyd voel ek steeds nostalgies. Hy was inspirerend.”

Harris sê die belangrikste les wat hy by Mandela geleer het, is dat “hoop nie genoeg is nie”.

“Ons het ʼn diep oortuiging nodig dat selfs al is die toekoms erger as die hede, ons steeds moet aanhou veg, aanhou doen wat gedoen moet word. So jy verduur dit.”

Mandela is op 5 Desember 2013 in die ouderdom van 95 jaar by sy huis in Houghton, Johannesburg, oorlede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

domheks ·

Die opvolgers van Mandela was maar power! Die huidige die ergste!

Jan Jacobs ·

Die blameer die blanke, sal nooit ophou nie, jy Kan nie ander beskawings blameer, om rede jou groep agter gebly het nie.

Shirley ·

Ek sou weer voorstel ons moet mense herinner aan waarvoor hy gestaan het. Dis hartseer om te dink dat hy jare geveg het om mense nader aan mekaar te bring en nou is daar die wat haat saai.

AREND1 ·

Die jeugdiges het nie eers in apartheid geleef nie.Nou wil hulle weer te veel praat.

Johann ·

So die leier van ‘n terroris organisasie het volgens my NOOIT verandwoordelikheid aanvaar or erken dat hy aandadig was aan moord nie?

Nettie ·

Ek sal eerder nie my opinie eerlik lug nie. Maar ek sal wel sê dat ek geen nostalgie voel nie. Dat ek nie hartseer was toe hy dood is nie. En dat ek geen begeerte het om enigsins ooit weer sy naam te hoor nie. Ek hoop om oor so 30 jaar dieselfde te sê oor sy organisasie, wat tans blykbaar ons regering genoem word.

Gert ·

Seriously Shirley, dit nadat hy verantwoordelik was vir die dod van hoeveel mense nou weer….niks anders as n moordenaar nie?

Blikke ·

Seriously Shirley, ek dink jy moet maar weer gaan kyk wie en wat die Ou nou eintlikbgedoen het en waarvoor hy gestaan het…..

Di ·

Hy is long gone en het nie veel vir die land gedoen nie. Party gaan aan of hy ‘n afgod was

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.