SA veroordeel berigte oor slawehandel in Libië

Argieffoto van migrante naby Libië (Augustus 2015) Foto: Darrin Zammit Lupi / Reuters

Suid-Afrika het sy stem by ʼn internasionale gemeenskap gevoeg wat berigte van slawehandel van migrante van Afrika in Libië ten sterkste veroordeel.

“Hierdie onmenslike dade druis in teen die ideale van die Afrika-unie en die relevante Afrika- en internasionale instrumente. Dit sluit die Afrikahandves van menseregte in,” het die departement van internasionale betrekkinge en samewerking Woensdag in ʼn verklaring gesê.

Die verklaring lui verder Suid-Afrika doen ʼn beroep vir die onmiddellike staking van dié onmenslikhede sowel as ander oortredings en mensehandel.

“Suid-Afrika verwelkom die aankondiging van Libiese owerhede om oortreders en dié wat saam met hulle werk te identifiseer en te ondersoek. Ons sien uit na ʼn deursigtige en geloofwaardige ondersoek,” het die departement gesê.

Dié verklaring volg nadat die nuusagentskap CNN onlangs video’s en foto’s van die beweerde ondergrondse slawehandel uitgesaai het. Dié uitsendings het internasionaal opslae gemaak.

Die departement meen om die bevindings van die ondersoek bekend te maak sal die mees omsigtige stap wees wat die Libiese owerhede kan doen.

Die departement het ook die Libiese owerhede aangemoedig om alles in hul mag te doen om die lewensomstandighede van Afrika-migrante in die migrantekampe te verbeter. “Suid-Afrika sal voortgaan met sy werk om mensehandel uit te wis asook internasionale pogings ondersteun om mense wat weerlose mense mishandel aan die pen te laat ry.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Alida ·

Miskien moet hulle die slagting onder ons blankes ook uitsaai. Wonder of die ANC dit ook sal veroordeel.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.