SA vlieënier sterf in Angola

Charl (Duimpie) van Rhyn. (Foto: Verskaf)

“Hy het gelewe vir vlieg. Hy wou nog altyd nét vlieg. Hy het egter nooit kanse gewaag nie en was gefokus. Ander mense het hom met hul vliegtuie vertrou.”

Dit was daarom ʼn groot skok vir Charl (Duim) van Rhyn (51) se geliefdes toe hulle verlede week die tyding ontvang dat hy Donderdag in ʼn vliegongeluk in Angola gesterf het, vertel Charl se skoonsus, Sonja van Rhyn.

Die Pretorianer het weke gelede na Angola gereis waar hy vanuit ʼn lugbespuitingsvliegtuig opnames vir ʼn diamantmynmaatskappy gedoen het.

Inligting dui daarop dat Charl Donderdag omstreeks 08:00 in ʼn Air Tractor AT502B tussen Cambula en Lucapa neergestort het.

Die nuusnetwerk BNN berig die vliegtuig het Donderdag omstreeks 06:49 vanaf die Deolinda Rodrigues-lughawe in Saurimo na Lunda Norte vertrek waar die opnames gedoen word.

Sonja sê dit is onduidelik wat presies skeefgeloop het.

“Al wat ons weet, is dat die beheertoring [op die Deolinda Rodrigues-lughawe] kommunikasie met hom verloor het. ʼn Noodhelikopter het die wrak van die vliegtuig ʼn paar minute later gevind.”

Die Suid-Afrikaanse en Angolese burgerlugvaartowerhede het sedertdien ʼn gesamentlike ondersoek na die voorval van stapel gestuur.

Vlieg was sy lewe’

Charl (Duimpie) van Rhyn. (Foto: Verskaf)

“Dis nou een mens wat vir sy werk gelewe het,” vertel Sonja van haar swaer.

Charl het die afgelope tien jaar in Afrika in onder meer Nigerië, die Demokratiese Republiek die Kongo (DRK), Zambië, Togo en Sierra Leone as vlieënier gewerk.

Sonja onthou Duim egter ook as ʼn “mense-mens”.

“Die hele wêreld se mense was lief vir hom.

“Hy het almal wat oor sy pad gekom het, laat voel dat hulle sy beste vriend is. Hy was lief vir mense en sy familie en sy vriende. Hy het altyd omgegee en kon lekker lag en grappe maak.”

Sonja verduidelik egter dat wanneer Charl gevlieg het, “het hy gevlieg”.

“Hy het ongelooflike selfdissipline gehad in alles wat hy doen. Of hy nou gevlieg het, of motor bestuur het; hy was gefokus op wat hy doen.

“Ons kan nie dink dat dit gebeur het nie.”

Charl word ook oorleef deur sy ma, Phoebe, verloofde, Zea, haar twee dogters, Megan en Abby, broer Johan, broer Dewaldt, skoonsus Sonja en dié egpaar se kinders, Dewaldt Jr., Reinhardt en Danja.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Nettie ·

Innige meegevoel aan die familie en vriende. Mag hy in vrede rus en mag God julle deur hierdie dae dra. Ek hoop julle kry antwoorde en berusting oor wat skeefgeloop het.

SomeOne ·

simpatie met almal in sy lewe

n groot ondersoek sal dalk uitgevoer word, dit is die 2de air tractor ongeluk in 2 weke

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.