SA-voedselsekerheid stabiel, sê leidende ekonoom

Argieffoto (Foto: PublicDomainPictures/Pixabay)

Danksy uitstekende weerstoestande gaan Suid-Afrika ‘n rekordoes aan mielies en koring hê, en is die droogte sodanig gebreek dat die land nasionale voedselsekerheid sal ervaar ten spyte van Covid-19.

So het Wandile Sihlobo, hoofekonoom van die Landbou-sakekamer (Agbiz) Woensdag aan die Kaapse Persklub gesê. In Suidelike Afrika sal net Suid-Afrika en Zambië vanjaar voedselsekerheid geniet.

Sihlobo het gewaarsku dat daar nie genoeg swart boere by kommersiële landbou betrokke is nie, wat bydra daartoe dat kommersiële landbou se sienings nie genoegsaam neerslag vind in die nasionale diskoers nie.

Swart boere produseer slegs 4,7% van die mielies vir die kommersiële mark, 3,1% van die sojabone, 1,3% van die koring, 2,4% van die katoen, 2,1% van die sitrus, 3% van die sagtevrugte, 1,6% van die wyn, 1% van die aartappels, 8,6% van die tamaties, 11% van die wol, 4,8% van die sybokhaar, 34,8% van die vee en 4,2% van die pluimvee.

Wat die wêreldwye toestande se invloed op Suid-Afrika betref, is dit veral van belang wat rys- en koringproduserende lande se situasie het, aangesien Suid-Afrika alle rys en 50% van die land se koringverbruik invoer.

Die handelsbeperkings wat geld in veral Kambodja, Viëtnam en Rusland speel dus ‘n rol, asook logistiese uitdagings in veral Indië, Nigerië en Kenia.

Ander internasionale tendense waarvan Suid-Afrikaners moet kennis neem is dat lande soos die VSA, Kanada en België ‘n ooraanbod voedsel geproduseer het, terwyl arbeidstekorte ‘n negatiewe invloed op voedselproduksie het in lande soos Frankryk, Nederland en Duitsland.

Skeepvaart, wat in ‘n stadium erg ontwrig is, is aan’t herstel wêreldwyd, het Sihlobo gesê.

Volgens hom is 2020 ‘n hersteljaar vir die Suid-Afrikaanse landbou met rekordoeste aan mielies en koring, en die tweede grootste druiwe-oes ooit. Die twee bedrywe wat die swaarste trek, is wyn en tabak, weens die regering se onderdrukkende afsonderingsregulasies.

Dieselfde regulasies het tot 1 Mei beteken dat boere in die wol-, katoen-, sybokhaar- en blommebedryf baie swaar getrek het.

Sedertdien is uitvoere nie te veel geraak nie, maar Sihlobo het uitgewys dat minder koopkrag internasionaal en plaaslik beskikbaar is weens die wêreldwye ekonomiese depressie. Dit sal die volhoubaarheid van landbou oral toets.

Belangrike positiewe wendings wat deur Sihlobo uitgewys is, is die verlaging in rentekoerse, wat die landbou sowat R5 miljard aan skuldkoste gespaar het, en die sowat R1,2 miljard wat die departement van landbou vir ramphulp bewillig het.

Nietemin het hy die bedrywe wat die diepste in die knyp is, uitgelig as blomme, wol, sybokhaar, wyn, volstruisvere, tabak, leer en dierevelle.

Sihlobo het dit reguit gestel dat die impak van die virus self op die landbou klein is, maar dat daar groot negatiewe gevolge is weens die paniek wat veroorsaak is, en die regulasies soos ingestel deur die regering.

Die afsonderingsperiode het geen tot minimale impak gehad op die produksie en verkoop van mielies, sorghum, sitrus, sagtevrugte en tafeldruiwe. Die impak op aartappels, tamaties en ander groente was baie klein.

Sihlobo het benadruk dat belegging in primêre landbou in veral KwaZulu-Natal, Limpopo, Mpumalanga en die Oos-Kaap as gevolg van die stotterende ekonomie kan ly, asook algemene investering in waterskemas en padverbeterings. Swak munisipale bestuur hou ook die landbou terug.

Die bedryf wat die beste groeipotensiaal in die landbou toon is katoen, gevolg deur neute, droë vrugte, sitrus, gars, beeste, wol, skape, varke, hoenders, melk, eiers, sojabone, sagtevrugte, aartappels, subtropiese vrugte, suiker, wyn, koring, sonneblom, canola, mielies, sorghum en grondbone, het Sihlobo aangetoon.

Wat vraag na produkte aanbetref is mielies, sojabone, koring, sonneblomme, canola, gars, sorghum en hawer nie juis geraak nie, maar daar is ‘n kleiner vraag na bees, melk, lam, skaap, wol, sybokhaar, leer, velle, hoenders en eiers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Josh ·

Met soveel boere wat vermoor is? Klink na nog ‘n “We are ready” storie

twaalfboor ·

As jou stapel voedsel pap is…… dan is die “hoofekonoom” dalk reg. Maar voedsel sekerheid gaan oor meer as net mieliepap.
Dog maar net ek sê…..

Vrijburger ·

Mmmm die ironie? Aan die een kant se Sihlobo dat net SA en Zambie (ex-Zim boere) voedsel sekerheid het. Aan die ander kant kla hy dat daar nie genoeg swart boere by kommersiele boerdery betrokke is nie.

Pieter ·

Ai dit sal lekker wees as ons boere ook staak dan wil ek sien wat gaan die ANC komuniste doen. Hulle sal dan seker kos by spar gaan koop.

Kosie ·

Lyk vir my Sihlobo is weer een van daardie slagoffers wat kla oor die wit boere met sy mond vol kos. Dalk moet hy net eers klaar kou en sluk voor hy sy mond uitspoel oor die wat hom voer…

marius ·

Hoevee swart landboustudente is daar ? Toe , publseer dit asseblief .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.