SA vrou bereik Everest-piek ná vorige poging in nagmerrie ontaard

Wilmien van der Merwe. Foto: Verskaf

Wilmien van der Merwe (35) se droom om een van die min Suid-Afrikaanse vroue te word om die piek van Everest te bereik, het in 2015 in ʼn nagmerrie ontaard nadat ʼn verwoestende aardbewing in Nepal en sneeustortings op die berg tot die dood van meer as 7 000 mense gelei het. Sy het egter onlangs dié droom bewaarheid.

Van der Merwe, ’n eksplorasie-geoloog van Postmasburg, het op 25 Mei 2017 kort voor sonop die kruin van Everest bereik. “Ek was baie verlig om ongedeerd bo uit te kom en het ook ʼn diep dankbaarheid beleef. Wie kan almal sê hulle het die sonsopkoms op die hoogste punt op ons aarde beleef? Ek was so dankbaar en bly.” Sy is sover bekend die vierde Suid-Afrikaanse vrou wat Everest oorwin.

Van der Merwe moes haar vorige poging in Mei 2015 om Everest se piek te bereik laat vaar weens die vernietigende aardbewing in Nepal. “Die aardbewing het ʼn groot sneeustorting veroorsaak. Die sneeustorting het deur Everest se basiskamp beweeg waar ander Suid-Afrikaanse spanmaats was. Talle mense het hulle lewens verloor en ek moes deur daai trauma werk. Dit was vir my die moeilikste gebeurtenis ooit om deur te werk. Dit het my amper ʼn jaar gevat om my kop reg te kry.”

Foto: Verskaf

Klimmers oefen ’n paar weke vanaf Everest se basiskamp om te akklimatiseer voordat hulle die tog na die hoogste bergpiek ter wêreld aanpak. Van der Merwe het op 2 April in Katmandoe aangekom en op 19 Mei het hulle van die basiskamp na die piek begin klim. Hulle het kamp vier op 22 Mei bereik en toe gereed gemaak om na die piek te vertrek.

“Die wind het verskriklik begin waai en teen 19:00, toe ons moes begin klim, het die wind so erg gewaai dat ons nie kon uit nie. Indien die wind teen meer as 30 km/h waai op dié hoogte is daar ʼn groot risiko vir vriesbrand. Ek skat die wind het daai aand teen seker 140 km/h of meer gewaai aangesien talle tente weggewaai of beskadig is.”

Die wind het eers teen die aand van 24 Mei bedaar en teen 19:00 het hulle die tog na die piek begin. “My satellietfoon het in kamp drie misplaas geraak toe een van ons sjerpas moes terugkeer weens akklimatiseringskomplikasies, so ek kon geen familie laat weet van die verandering in my klimtog nie en ook nie bel van die piek nie.” Volgens Van der Merwe het hulle dieselfde dag weer afgeklim en omstreeks 18:00 by kamp twee aangekom waar sy haar pa kon bel om die nuus deur te gee.

“Hulle was in ekstase oor my jare lange droom wat verwesenlik is. Hulle was ook baie verlig want ons het vir amper sewe dae geen kontak gehad nie en daar was ook in daardie tyd valse nuus van vier klimmers wat dood is.”

Foto: Verskaf

Van der Merwe het op 2 Junie na Suid-Afrika teruggevlieg en op 6 Junie weer begin werk. “Ek het van kleintyd ʼn dors vir avontuur en is op my gelukkigste in die berge of enige natuurskoon. Die idee van Everest klim is gebore in 2012 toe ek en spanmaats Aconcagua (in die weste van Argentinië) geklim het. My oupas het op verskillende tye vir my boeke gegee oor Everest toe ek op skool was.”

Van der Merwe het as deel van haar voorbereiding ook Denali in Alaska geklim. “Ek moes my oefenprogram heeltemal verander ter voorbereiding vir Everest. Ek het onder meer die Langeberg (in die Noord-Kaap) met ʼn 28 kg-rugsak uitgeklim. In die laaste maand voor Everest het ek van Maandag tot Vrydag tien uur per dag geklim en oor die naweek 12 uur aaneen. Een van my klimsessies was 18 uur lank.”

Foto: Verskaf

Volgens Van der Merwe het die tog na Everest sy tol geëis. “Jy verloor baie gewig. Ek het gelukkig geen beserings opgedoen nie en regtig goed geklim. Ons het nie kanse gevat nie en regtig lekker geklim. Jy moet konstant die koue bestuur tydens die klim om vriesbrand te keer. Ek het duisende kere tot ses getel en dan eers my linkertone en dan my regtertone beweeg vir bloedsirkulasie.”

Volgens Van der Merwe was dit ook emosioneel ʼn groot uitdaging. “Ek moes self die moeilike besluite neem. My sjerpa genaamd Phurba was darem by en kon raad gee, hy en twee ander sjerpas – vier in een tent vir twee nagte – was nogal ʼn uitdaging. Phurba het Everest nou vir die sewende keer ‘gepiek’.”

En wat lê nou vir Van der Merwe voor? “Daar is so baie moontlikhede en opsies dat ek kan klim vir ʼn lewe as ʼn mens net jou finansies so kan reël. Ek wil baie graag die sewe bergpieke-uitdaging voltooi. Ek het nou al vier van die sewe gepiek. Nou moet ek eers stil word en kyk waarheen die pad my lei.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Basson ·

Fantasties!!
Baie baie geluk! (en respek)
Dis ‘n groot prestasie

Stella ·

Baie geluk, wat ‘n prestasie! Dit was nog altyd my droom ook, maar ongelukkig te duur op hierdie stadium in my lewe. So trots op jou!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.