SA-vrou sterf op Everest: ‘Sy was ʼn ongelooflike mens’

Marisa en Robert op hul troudag. Foto: Verskaf

Marisa en Robert op hul troudag. Foto: Verskaf

Marisa Strydom (34), die vrou wat Saterdag op berg Everest gesterf het, het altyd gelag en kans gesien vir alles.

So sê Liezel Summers, suster van Marisa se ma. “Sy was ʼn amazing mens, ʼn go getter, ʼn supervrou. My suster en haar ander dogter, Aletta, is platgeslaan. Dit was ʼn ongelooflike skok vir ons en veral die manier hoe ons uitgevind het, is verskriklik.” Volgens Summers het die familie via die media van Marisa se dood uitgevind. “Daar is so baie vrae, maar in dié stadium probeer hulle om haar liggaam van die berg af te kry en terug te kry in Australië.”

Summers het aan Maroela Media gesê Marisa het by die Monash-universiteit in Melbourne gewerk. Sy het in 2006 by die universiteit aangesluit en in 2012 ʼn PhD-graad verwerf. Robert Gropel, Strydom se man, het by die Universiteit van Queensland studeer en hulle het daar ontmoet voordat hulle in Desember 2010 getroud is. Gropel is ʼn veearts en het sy eie praktyk in Melbourne.

“Rob is intussen ontslaan uit die hospitaal in Katmandu. Sy ouers het Sondag van Melbourne gevlieg om hom te ondersteun. Hy is ontslaan en dit gaan liggaamlik goed, maar hy is gebroke,” het Summers gesê. Die egpaar het nie kinders nie, maar wel diere. “Sy was so lief vir diere en die natuur. Sy het altyd mense en diertjies probeer help. Sy het ook na ure by Robert se praktyk gewerk.”

Marisa en Robert. Foto: Facebook

Marisa en Robert. Foto: Facebook

Volgens Summers het sy Saterdagoggend haar suster gehelp om die egpaar te probeer opspoor nadat hulle verneem het ʼn man is dood op Everest. “Ek het toe begin soek en op ʼn berig afgekom van Eric Arnold van Nederland wat in sy slaap dood is nadat hy die kruin bereik het.”

Summers het gesê daar is volgens berigte blykbaar ʼn baie kort “vensterperiode” waartydens mense na die kruin kan beweeg as gevolg van ongure weersomstandighede. “Die ideale tyd was Vrydagaand om en by 22:00 en hulle het begin beweeg. Marisa het baie moeg begin word en was swak. Sy het hoogtesiekte en sneeublindheid ontwikkel. Volgens berigte was Marisa-hulle sowat 400 m van die kruin toe sy besluit het om om te draai.

“Dit is verskriklik om te dink hulle het al die pad gegaan en dit nie gemaak nie. Sy en Rob en hul sjerpas het begin terugbeweeg na Kamp 4. Rob en die sjerpas moes haar help en ná ure se gesukkel het hulle by Kamp 4 aangekom.”

Volgens Summers het Robert vir Marisa medikasie en suurstof gegee en het sy beter gelyk. “Marisa was Saterdagoggend sterk genoeg om self te loop en hulle het van Kamp 4 na Kamp 3 beweeg. Twee uur later, op ʼn hoogte van 7 800 m bo seespieël, het sy inmekaargesak en gesterf. Robert het haar probeer bybring maar dit was vergeefs. Gedurende daardie tyd was hy die hele tyd by haar.”

Marisa en haar man het die afgelope paar jaar verskeie berge op meer as vyf vastelande geklim.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Joann ·

Daar is mense wat gek is na die bergklim,maar dit is verspot.

magda ·

Joann, elkeen het sy eie passie – dit is nie verspot nie!!! Sterkte en simpatie met oorledene se geliefdes.

Wat-ek-lees ·

Everest: Soos ‘n vlam wat ‘n mot aanlok. Daar is al talle wat hul “ever rest” daar gevind het. Hulle was egter besig met dit wat hul só graag wou doen. Mag julle in vrede rus op Everest want heelwat gestorwenes moes net so gelos word.

Louisa ·

Dit is baie hartseer dat so iets moet gebeur. R I V Marisa, jy het jou wedloop voltooi op die aarde

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.