SA vrou wen Comrades-marathon

Ann Ashworth, eerste vrou oor die wenstreep by Comrades 2018 (Foto: Skermgreep uit regstreekse uitsending)

Die Suid-Afrikaner Ann Ashworth (34) was Sondagoggend die eerste vrou oor die wenstreep by die Comrades-marathon.

Sy het die wedloop, van 90.184 km van Pietermaritzburg na Durban, binne ses ure, 10 minute en 4 sekondes voltooi.

Gerda Steyn, ook van Suid-Afrika, is die tweede vrou oor die wenstreep in ʼn tyd van ses ure, 15 minute en 34 sekondes, en Alexandra Morozova van Rusland, wat lank voorgeloop het, is derde in ʼn tyd van ses ure, 20 minute en 35 sekondes.

Die atlete het by die Moses Mabhida-stadion aangekom, die nuwe eindstreep van die Comrades-marathon. Die eindstreep was vorige jare by Kingsmead-krieketstadion.

Die verdedigende kampioen Camille Herron van Amerika, en Caroline Wostmann van Suid-Afrika, wat in 2015 die kampioen was, het albei aan die einde van Mei uit die wedloop onttrek as gevolg van beserings.

Charne Bosman, wat die wedloop vir vroue in 2016 gewen het, is tans in die vyfde plek.

Die Suid-Afrikaner Bongmusa Mthembu (34) het die Comrades-marathon vir die derde keer gewen. Hy het die uitmergelende wedloop in ʼn amptelike tyd van vyf ure, 26 minute en 39 sekondes voltooi. Mthembu was in 2017 en 2014 ook eerste oor die wenstreep. Hy is die eerste Suid-Afrikaner sedert Bruce Fordyce wat die wedloop twee jaar ná mekaar kon wen.

Hiermee die lys van die top-10 mans:
1. Bongmusa Mthembu (Suid-Afrika) (5:26:39)
2. Joseph Mphuthi (Suid-Afrika) (5:35:14)
3. Steven Way (Engeland) (5:35:31)
4. Edward Mothibi (Suid-Afrika) (5:36:36)
5. Marko Mambo (Zimbabwe) (5:37:53)
6. Gordon Lesetedi (Suid-Afrika) 5:39:37
7. Teboho Sello (Lesotho) (5:42:25)
8. David Gatebe (Suid-Afrika) (5:42:48)
9. Gift Kelehe (Suid-Afrika) (5:46:54)
10. Nkosinathi Duma (Suid-Afrika) (5:47:13)

Volg die wedloop regstreeks:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Ver links ·

Congratulations and well done Ann. Thank you for making SA proud.

Houtoog ·

‘Wostmann”. Dalk ‘n umlaut op die ‘o’? ‘Wöstmann’ ?

E.K. die eerste ·

So bly dit was SA vrou EN SA man wat eerste gekom het! Oor die algemeen het ons atlete baie goed gedoen! Geluk aan elke liewe persoon wat kon klaarmaak. Die storie van die man met een been en kruk – jinne Maroela jul kan gerus iets oor dit skryf. Hy was ‘n straathoekbedelaar, aan drank en verdowingsmiddels verslaaf en ‘n wit man het hom onder hande geneem en die twee het die Comrades saam aangepak. Wat ‘n inspirasie – ek voel skoon sleg dat ek die Comrades sit en kyk op tv en nie saamhol nie!

Cherokee ·

My ouboet het gebel terwyl die wenners ingehardloop het, en ‘n storie vertel wat ek maar moeilik aan sluk, maar dit is ouboet en…. ek het dit maar aanvaar want hy’s nie ‘n ou wat sommer net sal lieg nie. Dàn sê hy het ook gehardloop maar verkeerd gelees en gedink die hardloop is vanaf Durban na Pietermaritzburg. Gedink hy is so ver voor dat hy niemand agter hom sien nie maar sowat halfway toe sien hy hulle van vooraf aankom! Hy sê toe hou hy maar op met hardloop. (moes hom gevra het waarom hy nie toe maar omdraai en terughardloop want dan het hy ‘n voorsprong gehad!)

Niel ·

So gehoop Steyn vat hom dat sy die double het van die 2 Oceans en Comrades. Maar well done anyway!

rollie ·

Ek wonder of hulle ooit Frith van der Merwe se rekord sal slaan. Sy’t die afstandjie afgedraf in ‘n tyd wat 15 minute vinniger is as die wenner vanjaar. Sy het ook algeheel 15de gekom, ‘n merkwardige prestasie.

Roland ·

Ek betwyfel dit baie sterk! Sal interesant wees om te sien of die “Op” se rekords sal hou.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.