SA vroue ook hof toe oor maasinplantings

Duisende vroue sê hulle het langtermynskade opgedoen en ondervind pyn nadat die maas ingeplant is. Dit het tot verskeie hofsake teen verskillende maatskappye gelei. (Foto: pixabay)

Verskeie Suid-Afrikaanse vroue volg hul eweknieë in ander lande en sleep farmaseutiese maatskappye hof toe vir die chroniese skade wat hulle glo opgedoen het weens inplantings wat ontwerp is om inkontinensie en ander kwale te behandel.

Die polipropileentoestel, genaamd ʼn transvaginale maas (TVM), is ontwerp om interne steun te bied om blaasinkontinensie en die verplasing van bekkenorgane – genaamd uitsakking – te behandel. Dit gebeur gewoonlik ná kindergeboorte.

Duisende vroue sê egter hulle het langtermynskade opgedoen en ondervind pyn nadat die maas ingeplant is. Dit het tot verskeie hofsake teen verskillende maatskappye gelei.

Die Suid-Afrikaanse groep voer ʼn groepsgeding teen die Deense mediese vervaardiger Coloplast en Ethicon, ʼn filiaal van die Amerikaanse farmaseutiese reus Johnson & Johnson.

Hulle verteenwoordigers het Maandag gesê hulle beoog om die saak – die eerste van sy soort teen TVM in Afrika – teen Augustus aanhangig te maak.

“Verskeie vroue het ons genader wat inplantings ontvang het van wat volgens hulle foutiewe transvaginale maasinplantings is wat deur die twee maatskappye vervaardig is,” sê Zain Lundell, ʼn kenner in groepsgedinge wat by die saak betrokke is.

Die firmas word ook daarvan beskuldig dat hulle kortpaaie gekies het tydens toetse en versuim het om gevare verbonde aan die gebruik van die toestel deur te gee.

Indien dit slaag, kan die hofsaak die grondslag lê vir vergoedingseise vir honderde ander Suid-Afrikaanse vroue.

“Die beserings is ernstig en veroorsaak afmatting,” sê Lundell.

“Ons glo talle vroue se eise kan miljoene rande beloop.”

J&J het reeds groepsgedinge in Australië en die VSA verloor vir beserings wat deur sy toestelle veroorsaak is.

In Januarie verlede jaar het ʼn Amerikaanse regter die maatskappye beveel om R5,1 miljard te betaal vir vals en misleidende bemarking van bekkenmaasprodukte wat deur duisende vroue in Kalifornië gebruik is.

Iets ‘nie reg nie’

Een van die klaers, Suzette Roodt, hoop dat vergoeding sal help om ʼn peperduur operasie te finansier om haar eie maasinplanting te laat verwyder.

Die toestel word so ingeplant dat die verwydering daarvan lasertegnologie benodig wat nie in staatshospitale beskikbaar is nie. Die 57-jarige vrou was in 2015 hoopvol nadat haar nuwe werk beteken het sy sou ʼn toestel kon bekostig om haar lang stryd teen inkontinensie eindelik te wen.

Kort nadat sy in 2015 uit die hospitaal ontslaan is, het sy dadelik geweet “iets is nie reg nie”, sê Roodt.

Die inplanting het hard geword. Dit het die algehele versperring van haar blaas veroorsaak, asook gereelde bloeding en nierinfeksies.

“Ons is nooit ingelig oor die gevare of ʼn ander uitweg gebied nie,” sê Roodt wat nou permanent van ʼn kateter gebruik moet maak.

“Ek het permanente skade opgedoen.”

Anders as in Suid-Afrika, het die VSA in 2016 die maas wat gebruik word vir bekkenorgaanuitsakking as ʼn “hoërisikotoestel” geklassifiseer en in 2019 die verkoop daarvan verbied.

Volgens ʼn studie van BioMed Research International ondervind tot ʼn kwart van vroue komplikasies weens die gebruik van die toestel.

Ondervind steeds blaaspyn

Chantall Bothma sê egter sy het geensins dié inligting ontvang nie.

Die 41-jarige vrou is die inplanting in 2016 aangebied om uitsakking te behandel nadat sy geboorte gegee het aan haar eerste kind.

Die maas het weggekalwe en met haar weefsel saamgesmelt en Botha het geen ander keuse gehad as om dit vier jaar later te laat verwyder nie. Steeds ondervind sy blaaspyn.

“Ek was vantevore baie aktief. As ek nou met my seuntjie speel, moet ek eers gaan rus.”

Bothma is onlangs in die hospitaal opgeneem vir ʼn onverwante toestand en het ʼn ander vrou ontmoet wat ʼn soortgelyke inplanting ontvang het.

Die ontmoeting het haar aangespoor om met regstappe te begin.

Ethicon sê bekkenmaas “het die lewensgehalte van miljoene vroue help verbeter”.

“Ons het empatie met diegene wat komplikasies ondervind. Ethicon het eties en verantwoordelik opgetree.”

Coloplast het nie gereageer op versoeke om kommentaar nie.

Die saak kan binne die volgende drie jaar afgehandel wees, sê Lundell.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Elinette ·

My Ma het die bekken-maas inplanting ontvang en is dood, verskeie JARE nadat dit gedoen is, sonder ‘n dag se probleme.

piet ·

En die miljoene wat gehelp is en ‘n beter lewe het? Enige mediese prosedure dra risiko’s.

VaalDonkie ·

Is maklik om te praat as jy nie self iets oorgekom het nie.

Bonita ·

Dankie dat julle opstaan vir iets waaroor meeste vrouens te skaam is om oor te praat. Ek hoop julle saak is suksesvol.

Adrian ·

Maar het hulle nie toestemming gegee vir die operasies nie?? Enige operasie het sy risikos…

loddertjie ·

Ek voel ons as publiek ken nie die produk nie en as dit deur ‘n dokter voorgestel word, moes dié produk deeglik getoets wees en alle voor en nadele moet uitgewys word. Mens wil ‘n kwalteit lewe kan voer na enige operasie, so as dit nie werk nie of verharding intree, moet die vervaardiger die verantwoordelikheid aanvaar en opdok, stel jouself in daardie vroue se plek, en klink my daar is baie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.