SA vroue vereer vir veldtog teen kernkragplanne

LizMakoma-goldman-2018-01

Liziwe McDaid en Makoma Lekalakala het die Goldman-omgewingsprys ontvang vir hulle pogings om Suid-Afrikaners suksesvol te mobiliseer teen die regering se planne om R1 biljoen (trillion) aan ʼn ooreenkoms met Rusland te bestee om kernkragstasies te bou. Foto: Verskaf.

Twee vroue wat die dryfkrag was agter die hofsaak om die Suid-Afrikaanse regering se kernkragooreenkoms tersyde te stel, is Sondag met ʼn gesogte omgewingstoekenning in San Francisco in die VSA vereer.

Makoma Lekalakala van Earthlife Africa se Johannesburg-tak (ELA-JHB) en Liziwe McDaid van die Suider-Afrikaanse Geloofsgemeenskappe se Omgewingsinstituut (Safcei) het die Goldman-omgewingsprys ontvang vir hulle pogings om Suid-Afrikaners suksesvol te mobiliseer teen die regering se planne om R1 biljoen (trillion) aan ʼn ooreenkoms met Rusland te bestee om kernkragstasies te bou.

ELA en Safcei het in Oktober 2015 die Wes-Kaapse hooggeregshof genader nadat dit aan die lig gekom het dat die regering stil-stil ʼn ooreenkoms gesluit het om kernkragstasies te bou wat 9 600 megawatt elektrisiteit aan die plaaslike elektrisiteitsnetwerk sou lewer. Dié hof het verlede jaar die kernkragooreenkomste tersyde gestel en die verkrygingsprosesse onwettig en ongrondwetlik verklaar.

Die Goldman-omgewingstigting het Lekalakala en McDaid geloof vir hulle passie vir geregtigheid, die omgewing en Suid-Afrika. “Die aktiviste het ʼn wye koalisie van burgers en nieregeringsorganisasies gelei om die regering se onwettige en ongrondwetlike ooreenkoms met Rusland suksesvol aan die lig te bring.

“In ʼn tyd toe die regering se korrupsie op ʼn hoogtepunt was, het hierdie regsoorwinning nie net Suid-Afrikaners se lewe van kernafval beskerm nie, maar ook die geloof herstel dat geregtigheid steeds in Suid-Afrika moontlik is,” het Natasha Adonis namens die stigting in ʼn mediaverklaring gesê.

“Die kernkragooreenkoms was en is potensieel nog steeds ʼn groot bedreiging vir Suid-Afrikaanse burgers en ons lewensgehalte. Daar is ander maniere om energie op te wek, maniere wat skoner en bekostigbaar is en dit plaas boonop die krag terug in die hande van die mense.

“Vir ons volhoubaarheid is dit belangrik dat ons anders begin dink oor hoe ons die land se energiebehoeftes aanraak. Dit is nie sinvol om te dink dat die resep wat altyd gewerk het steeds geld nie, veral omdat daar oorweldigende bewyse is teen kernkragtegnologie en fossielbrandstowwe,” het Lekalakala, direkteur van ELA-JHB, gesê.

Lekalakala verdeel tans haar tyd tussen haar huis in Johannesburg en die ELA-satellietkantoor in Limpopo waar kragstasies en steenkoolmyne die plaaslike gemeenskappe so besoedel het dat sommige boere nie meer gewasse op ʼn veilige manier kan verbou nie.

“Die risiko’s met kernkrag is net te hoog. Ek glo as mense die feite weet, sal hulle ander keuses maak. Dit is wat ons deur ons veldtog gedoen het.

“Daar is byvoorbeeld baie min wat ons weet oor die toekomstige uitwerking van kernafval, wat elke jaar toeneem. Koeberg alleen vervaardig ongeveer 30 ton hoëvlakafval per jaar en dit word tans by die kernkragstasie self geberg. Dan is daar nog die Tsjernobil-ramp van 39 jaar gelede en Foekoesjima wat voorbeelde is van die enorme risiko’s van kernkrag,” het McDaid, leier van omgewingsgeregtigheid by Safcei, gesê.

Sy woon tans in Kaapstad en veg al dekades lank teen planne om Suid-Afrika se kernkragbedryf uit te brei.

Albei vroue meen dit is die vennootskap tussen nieregeringsorganisasies en die burgerlike samelewing wat gelei het tot die oorwinning in die hofsaak in die Wes-Kaapse hooggeregshof in 2017.

Die teenkernkragveldtog is maar net ʼn gedeelte van die werk wat Lekalakala en McDaid doen. Lekalakala werk ook aan die Life After Coal-veldtog, wat die gebruik van steenkool vir elektrisiteitsopwekking ontmoedig en oorgang na hernubare energiestelsels aanmoedig. McDaid is ook die medestigter van The Green Connection, ʼn nieregeringsorganisasie wat mense bemagtig om deel te neem om volhoubare ontwikkeling in hulle omgewing te bevorder.

“Safcei is uiters trots op Liz en Makoma en die erkenning wat hulle vir hulle werk met dié toekenning ontvang het. Danksy hulle vasberadenheid en toewyding is die geheime rakende die kernkragooreenkoms onthul. Dit is ʼn ooreenkoms wat Suid-Afrika bankrot sou gemaak het en ons generasies in terme van ontwikkeling sou terugsit,” het Francesca de Gasparis, Safcei se uitvoerende direkteur, gesê.

“Safcei en ELA-JHB is klein omgewingsorganisasies en die hofuitspraak was ʼn oorwinning van Dawid-en-Goliat-omvang. Die boodskap wat ons met die wêreld wil deel, is dat Afrika nie kernkragenergie nodig het nie,” het De Gasparis bygevoeg.

Rodrigue Katembo van die Demokratiese Republiek van die Kongo is die Afrikaan wat verlede jaar die omgewingsprys ontvang het. Katembo het sy lewe op die spel geplaas om inligting van omkopery en korrupsie te dokumenteer in die soeke na olie in die Virunga Nasionale Park in die DRK. Die bekendmaking van die inligting het die maatskappy gedwing om aan die projek in die nasionale park te onttrek.

Nog twee Suid-Afrikaners het ook al die omgewingsprys ontvang. Jonathan Deal, die stigter van die Treasure the Karoo Action Group (TKAG) het die Goldman-prys in 2013 ontvang vir sy veldtog teen Shell se planne om skaliegas in die Karoo te ontgin, terwyl Bobby Peek, direkteur van groundWork, die prys in 1998 gekry het vir sy veldtog teen besoedeling in die suide van Durban.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Piet Pompies ·

Die antie weet glad nie die feite oor moderne kernenergie nie. Belaglik, wie gee haar die reg om ‘n opinie te lewer? Al wag verkeerd was is die manier hoe die regering dit wou bekom. Niks fout met moderne reaktora nie. Dis die skoonste veiligste energiebrin op aarde na hidroelektrisiteit.

Willem ·

Net so, Piet! As sulke passie en moeite maar net wetenskaplik ondersteun was. “En die prys vir die beste oogklappe gaan aan…”

Dis natuurlik goed dat die korrupsie ontbloot was, en daarom moes die ooreenkoms gekanselleer word, maar laat ons nie die baba met die badwater uitgooi nie. Afrika is juis die kontinent wat kernkrag nodig het!

Michael von Mallinckrodt ·

Geagte Piet Pompies,
hoe weet jy dat die antie ( wit of swart ) geen idee het van moderne kernenergie? Het jy met hulle gesels? Wat weet jy van moderne kernenergie ? Ons lewe in ´n vrye wereld. Net soos jy die reg het om hier op maroela nuus jou se te se, het hulle die reg om te gaan demonstreer .
As jy kyk na die die energie/ elektrisiteit maak dit nie saak of dit van steenkool, kernkrag, sonlig of water kom. Die elektrisiteit is suiwer. Die punt is wat is die mees effektive aard om elektrisiteit te produseer. En as jy kom by ontgining en die afvallstowwe is kernenergie nie meer suiwer nie. Tschernobiel en Fukuushima het gewys hoe suiwer kernenergie kan wees. In duitsland moet hulle nou die dromme waarin die afvalprodukte van die kernreaktors 30 jaar gelede gebere was, hernuie want daardie dromme is vrot gevreet en die gevaar bestaan dat daardie afvalstowwe die grondwater besmet. Nou, hoe suiwer is die elektrisiteit wat ons van kernenergie kry ?
Op die politieke vlak stem ek saam met jou.
En dan is daar nog ´n punt wat jy moet waardeer. Die twee vroumense het ten minste daarteen gedemonstreer. Hulle will iets beweeg. En ek dink dit is ´n baie belangrike punt. Dink ´n bietjie daaroor.

Groete Mike

Vraagteken ·

Piet Pompies, as daar ‘n ‘like’ funksie was, dan het ek jou kommentaar ge’like’.

Oor ‘n 25 jaar siklus van solar en kern, is kern baie skoner as solar (i.t.v. CO2). Wat baie mense nie besef nie, SA benodig die elektrisiteit wat kern kan verskaf (op tye wat ons dit benodig soos bv. vroeg oggend of laat middag). As ons nie die kern kry nie, dan het ons nie elektrisiteit nie, en dus nie ‘n groeiende ekonomie nie.

Die enigste basis vir die veldtog is die manier waarop ons dit sou bekom het.

Marie ·

En wie gaan die reaktor diens, dieselfde ouens wat nie eers n slaggat kan regmaak nie? Nee dankie vir kernkrag,ons het genoeg sonskyn vir sonkrag.

Albaster ·

Dit wys julle wat individue kan doen om die buiteland bewus te maak van die skandes van ons regering. Laat diue vroue n inspirasie wees vir ons almal om op te staan teen die onderdrukking van ons armes, weerloses en die omgewing deur n korrupte regering. Laat ons almal hulle voorbeelde volg.

Michael von Mallinckrodt ·

Geagte Piet Pompies,
hoe weet jy dat die antie ( wit of swart ) geen idee het van moderne kernenergie? Het jy met hulle gesels? Wat weet jy van moderne kernenergie ? Ons lewe in ´n vrye wereld. Net soos jy die reg het om hier op maroela nuus jou se te se, het hulle die reg om te gaan demonstreer .

As jy kyk na die die energie/ elektrisiteit maak dit nie saak of dit van steenkool, kernkrag, sonlig of water kom. Die elektrisiteit is suiwer. Die punt is wat is die mees effektive aard om elektrisiteit te produseer. En as jy kom by ontgining en die afvallstowwe is kernenergie nie meer suiwer nie. Tschernobiel en Fukuushima het gewys hoe suiwer kernenergie kan wees. In duitsland moet hulle nou die dromme waarin die afvalprodukte van die kernreaktors 30 jaar gelede gebere was, hernuie want daardie dromme is vrot gevreet en die gevaar bestaan dat daardie afvalstowwe die grondwater besmet. Nou, hoe suiwer is die elektrisiteit wat ons van kernenergie kry ?
Op die politieke vlak stem ek saam met jou.
En dan is daar nog ´n punt wat jy moet waardeer. Die twee vroumense het ten minste daarteen gedemonstreer. Hulle will iets beweeg. En ek dink dit is ´n baie belangrike punt. Dink ´n bietjie daaroor.

Groete Mike

ek sê maar ·

Kernkrag self mag “skoon” wees maar want van die berging van die kernafval – dis beslis nie so veilig? Al daaroor gedink? Dis ‘n groter probleem as wat party mense wat kommentaar lewer DINK.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.