SA vullisterreine steeds vrot – oudit

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: Pixabay)

Die jongste oudit van munisipale vullisterreine toon dat slegs 17% van die vullisterreine regoor die land in dié stadium voldoen aan die minimum vereistes van die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur vir Vullis.

Dit blyk dus dat munisipaliteite die afgelope jaar min vordering gemaak het om die toestand van hul vullisterreine te verbeter. Hoewel meer munisipale vullisterreine vanjaar geoudit is, voldoen dieselfde persentasie van terreine vanjaar aan die minimum vereistes, vergeleke met die vorige jaar.

Verskeie munisipale vullisterreine het inderwaarheid die afgelope jaar gesluit, terwyl sommige terreine wat tans nog bedryf word eintlik al volgens hul lisensies gesluit moes gewees het.

Dit is kommerwekkend, omdat dit beteken dat sommige dorpe of stede nie meer vullisterreine het nie wat waarskynlik onwettige storting tot gevolg sal hê, meen Lambert de Klerk, bestuurder van omgewingsake by AfriForum.

Die burgerregteorganisasie het Dinsdag sy jaarlikse vullisterreinouditverslag bekendgestel nadat vullisterreine vroeër vanjaar in die betrokke dorpe en stede waar AfriForum takke het, geoudit is.

Die aantal geouditeerde vullisterreine per provinsie wat nie aan die minimum vereistes voldoen nie. (Grafiek: AfriForum)

Maroela Media het vroeër berig volgens toepaslike wetgewing en regulasies, onder meer die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur vir Vullis, moet ’n vullisterrein aan bepaalde vereistes voldoen. Dit sluit in faktore soos toegangsbeheer, onwettige storting, brandregulasies, omheining en rehabilitasie. Verder mag daar geen mediese afval op enige vullisterrein wees wat as algemene terrein geklassifiseer word nie. AfriForum verwerk elke jaar dié vereistes in 33 vrae wat dan gebruik word om die vullisterreinoudit te doen.

Luidens die verslag voldoen slegs 27 van die 153 vullisterreine regoor die land in dié stadium aan die minimum vereistes. Die Vrystaat het die meeste vullisterreine wat nie aan die vereistes voldoen nie (24) gevolg deur Mpumalanga (20).

Só het vullisterreine per provinsie gevaar ten opsigte van die minimum vereistes:  

Provinsie Aantal vullisterreine geoudit Aantal vullisterreine wat aan meer as 80% van die minimum vereistes voldoen Aantal vullisterreine wat nié aan die minimum vereistes voldoen nie 
 2021 2021 2021 
Gauteng 17 
KwaZulu-Natal  
Limpopo 11 10 
Mpumalanga 21 20 
Noord-Kaap 16 15 
Noordwes 21 19 
Oos-Kaap 
Vrystaat 24 24 
Wes-Kaap 27 12 15 
Nasionale totaal  153 27 126 

De Klerk sê die power uitslae kan toegeskryf word aan verskeie probleme wat by munisipaliteite ondervind word, wat lei tot die swak en onwettige bestuur van vullisterreine. Dit sluit onder meer in die wanbesteding van fondse, swak instandhouding en ’n gebrek aan bekwame personeel.

Hy sê die grootste uitdaging is dat munisipale amptenare nie aanspreeklik gehou word vir hul swak bestuur nie. “Dit is kommerwekkend om te weet die meerderheid vullisterreine in Suid-Afrika nie eens voldoen aan die minimum vereistes nie, maar terselfdertyd is dit verstaanbaar aangesien geen munisipaliteite tot verantwoording gebring word vir dié wanbestuur nie.”

AfriForum gaan nou sy verslag met Barbara Creecy, minister van omgewing, bosbou en visserye, bespreek as deel van ’n deurlopende gesprek rondom omgewingsake wat reeds in 2019 begin het. AfriForum sal ook die verslag aan die Groen Skerpioene oorhandig vir verdere ondersoek.

Persentasie van geouditeerde vullisterreine wat nie voldoen aan die minimum vereistes nie. (Grafiek: AfriForum)

Dít terwyl gemeenskappe aangemoedig word om self hul hande vuil te maak en hul dorp se vullisterrein te red.

Herstel van vullisterreine

Volgens De Klerk vergader AfriForum sedert 2019 se vullisterreinoudit met Creecy. “Daar is nou ses terreine geïdentifiseer wat ons poog om te herstel. In Mei 2021 is daar besluit om daadwerklik saam te werk en besoeke af te lê by die ses terreine en te werk aan oplossings vir die terreine se uitdagings. Een van die opsies is om ’n openbare-gemeenskapvennootskap (OGV) te vestig.”

De Klerk meen dit is belangrik om afvalmoniteringskomitees vir vullisterreine te stig om munisipale amptenare verantwoordbaar te hou. Gemeenskappe sal egter druk op munisipaliteite moet plaas om die komitees te stig.

Dit sal ook beteken dat ’n vergadering een keer per maand belê word waartydens die toestand van die vullisterrein bespreek en doelwitte met haalbare tydperke gestel word.

“Dring aan op die aanstelling van ’n betroubare diensverskaffer wat bevoeg is om die werk te doen.

Pas volhoubare druk toe via die afvalmoniteringskomitee om seker te maak dat die doelwitte wat gestel is, bereik word. “Neem heeltyds deel aan die gemeenskapsontwikkelingsplan (GOP) en lys die kwessies rondom die terreine,” is De Klerk se raad.

AfriForum glo dit is tyd dat die regering op munisipale vlak toetree om oplossings soos die OGV na vore te bring voordat munisipale infrastrukture totaal in duie stort. “Die regering en munisipaliteite kan nie eers hulle eie planne soos die geïntegreerde vullisbestuurplan (IWMP) toepas nie en dit is waar plaaslike gemeenskappe hulle kan bystaan om deel van die oplossing te wees.”

Sien die volledige verslag hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Johan ·

Wie gee om…die hele land is n vullishoop. Regtig waar oudit die skoon plekke daar is minder van hulle. Met die covid het mense gedemonstreer hoe hul enige twak sal glo, glo seker nog ons bly in “so mooi land”. SA is sekerlik een van die top 3 vuilste lande in Afrika. Skandelik, maar 99% gee nie n hel om nie.

Hennie ·

Wat verwag julle? Die swartgallige ANC parasiete kan net vasklou en suig, het nie verstand vir enige iets anders nie! As jy iets wil breek, gee dit vir hulle! Bobaas afbrekers van formaat!

Nico ·

Maak soos in Duitsland ‘n sak vir enige plastiek, ‘n sak vir enige soort glas, ‘n sak vir papier en melk houers. Al wat weg gegooi word is bederfbare vullis. In Duitsland kry ‘n deposito terug vir elke glas of plastiek houer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.