SA waaghals beseer op Resident Evil-stel

Olivia Jackson (Foto: Olivia Jackson, Facebook)

Olivia Jackson (Foto: Olivia Jackson, Facebook)

Olivia Jackson (32), ʼn bekende Hollywood-waaghals wat in Suid-Afrika gebore is, veg vir haar lewe ná ʼn fratsongeluk in Johannesburg op die stel vir die fliek Resident Evil: The Final Chapter.

Jackson was op 5 September besig om ʼn hoëspoed-motorfietsjaagtog te verfilm toe sy ʼn metaal kamera-arm getref het.

Sy woon tans in Buckinghamshire in Engeland saam met haar Britse man, David Grant, wat ook ʼn waaghals is.

Jackson het glo nie ʼn valhelm aangehad toe die ongeluk gebeur het nie.

ʼn Bron het aan The Sun gesê dit was nie ʼn baie gevaarlike toertjie nie. “Sy het in ʼn reguit lyn gery, maar weens die verfilming het sy nie ʼn valhelm of beskermingsdrag aangehad nie. Daar is ʼn metaal arm waarop die kamera vasgemaak is, maar dit het onklaar geraak en het nie opgelig nie. Dit was buite haar beheer.”

Milla Jovovich, die ster van die Resident Evil-flieks, het op Facebook haar ontsteltenis uitgespreek oor die ongeluk op die stel. “Ons verstaan sy is stabiel en word gemonitor deur baie ervare Suid-Afrikaanse dokters.” Sy het gesê die hele span hou hul asem op vir enige nuus. “Dit is ʼn wonderwerk dat sy oorleef het. Ek het haar nie baie goed geken nie, maar die paar keer wat ons saam voorberei het, het ek baie respek vir haar gehad. Sy het deur die choreografie gedans, dit was pragtig en grasieus.” Jovovich het gesê hulle bid elke dag vir Jackson se gesondheid en haar familie.

Jackson is binnekort te sien in die agtste Star Wars-fliek, Star Wars VIII: The Force Awakens, wat in Desember vrygestel word.

Sy was ook al ʼn waaghals vir Charlize Theron en Rosie Huntington-Whiteley in Mad Max: Fury Road en vir Karen Gillan in Guardians of the Galaxy. Lees haar volledige biografie op IMDb.

Kyk gerus na hierdie video, ‘n Dag in die lewe van Olivia Jackson:
https://youtu.be/v2049BqVk8s

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Bleek Sannie ·

Bart. Miskien moet jy ‘n leesles neem voor jy sulke ondeurdagte, onsensitiewe, ruggraatlose ‘kommin’taar braak. Die metaal-arm waaraan die kamera vasgemaak was het onklaar geraak. Dus was dit ‘n tragiese ongeluk! Voorspoed aan haar en haar vriende en familie vir die moeilike tyd wat voorlê.

Hilsky Klinkert ·

Sulke Suid-Afrikaners maak ons trots, hoop sy herstel spoedig!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.