SA wapenaankope, verkope onthul

(Argieffoto: pixabay)

Suid-Afrika se wapenaankope die afgelope twee jaar, en die wapens wat die Suid-Afrikaanse wapenbedryf aan ander lande verkoop het oor dieselfde tydperk, is geopenbaar in dokumente wat hierdie week in die parlement ter tafel gelê is.

Die verslag word ter nakoming van die tersaaklike wetgewing uitgereik deur die Nasionale Konvensionele Wapentuig-beheerkomitee.

Verlede jaar het die Suid-Afrikaanse wapenbedryf R4,7 miljard se wapens na ander lande uitgevoer, en sowat R128,3 miljoen se wapens uit ander lande ingevoer.

Nie minder nie as 137 pantservoertuie ter waarde van byna R1 miljard is uitgevoer na Egipte, Burkina Faso, Nepal, Nigerië, Jordanië, Saoedi-Arabië, Kongo, Guinee, Malawi, Mali, Niger, Senegal, Uganda, Thailand, die Verenigde Arabiese Emirate, Somalië (onder VN-beheer) en die VSA.

Grootkaliber-artillerie, ʼn aanvalsvliegtuig (aan die VSA), missiele, ligte wapentuig, kleiner wapens, bomme en vuurpyle (waarskynlik veral mortiere), ammunisie, brandbestrydingsapparaat, elektroniese toerusting, observasie-toerusting, sagteware en ook tegnologie is verlede jaar deur Suid-Afrika aan ander lande verkoop.

Op sy beurt het Suid-Afrika verskeie wapens as geskenke ontvang en aankope gedoen by onder meer Finland (ʼn gepantserde voertuig se romp), Frankryk (missiele), Italië (ʼn missiellanseerder), Brittanje en die VSA (ligte wapens) en Brasilië (bomme/mortiere).

Suid-Afrika het in 2018 onder meer ammunisie ingevoer uit Brasilië, Serwië en die VSA, brandbestrydingstoerusting uit Duitsland, China en die VSA, elektroniese toerusting uit Frankryk, Duitsland, Brittanje en die VSA en sagteware uit Swede.

Die enigste stuk wapentuig wat verlede jaar oor Suid-Afrikaanse grondgebied vervoer is, was ammunisie na Botswana.

Vanjaar toon ʼn skerp afname in wapenuitvoere. In die eerste drie kwartale was die totale uitvoere slegs R2,5 miljard werd. Die rede hiervoor, sê Kobus Marais, DA-LP en lid van die parlementêre portefeuljekomitee oor verdediging, is die strenger afdwing van ʼn regulasie op Suid-Afrikaanse uitvoerpermitte dat die wapens by hul finale bestemming geïnspekteer moet kan word deur Suid-Afrikaanse wapeninspekteurs.

Dit het tot ʼn dramatiese afname in bestellings uit sommige lande gelei, spesifiek Saoedi-Arabië en die Verenigde Arabiese Emirate.

“Die situasie sal eers regkom wanneer Suid-Afrika bilaterale ooreenkomste aangaan met uiteindelike gebruikslande,” het Marais gesê.

In die eerste drie kwartale van die jaar het Suid-Afrika wapens ter waarde van R106 miljoen ingevoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Kobus ·

Die 128,3 miljoen was vir 2018 en die 106 miljoen vir die eerste drie kwartale van 2019.

Karel Komposhoop ·

Tweedehands of nuut….?
So verkoop ons die SAWeermag …vir geld vir huise in Dubai….dan voer ons bullet-proof motors in vir ons politici.

Dis soos n yard-sale wat jou ouma hou met al jou eiendom wat sy in die garage kry…playstation,harley-davidson,grassnyer,brushcutter,mountainbike etc…..alles gaan vir minder as n R100 per item want sy weet nie wat is dit werd nie…met daai R5000 koop sy vir haar n bedlamp by Woolworths vir R40….geen benul nie…..

pieter ·

En daar gaan al die wapens wat vanaf burgers afgeneem word na polisiestasie toe, wat veronderstel is om kastig vernietig te word ,verkoop vir regerings eiegewin

gert ·

vertel jul nou vir my
wat wil ons met daai klas wapens maak.
ons word gesien as die alfa en omega van Afrika
Kom na ons toe…hier is alles in oorvloed.
gee vir die narre ketties en albasters ingesluit opleiding hoe om dit te gebruik.
Dis alles geldmors

Waar gebou ·

Waar was die wapens gebou en war word hulle tans in SA gebou. Dalk is ek stupid.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.