SA waterstof-monstertrok wêreld se grootste

Dié monster is die eerste waterstof-aangedrewe vragmotor in Anglo American se vloot. (Foto: Anglo American)

Die mynreus Anglo American het die wêreld se grootste waterstofaangedrewe vragmotor, ʼn monster wat op sy eie 220 ton weeg, by een van sy platinummyne in die noorde van Suid-Afrika bekend gestel.

Die bielie is die eerste van ʼn vloot wat die maatskappy se dieselaangedrewe vragmotors sal vervang en gebruik 2 MW waterstofbrandstofselle om tot 290 ton erts rond te karwei.

“Wat ons bekend stel is nie net ʼn indrukwekkende stuk masjinerie nie, dit is die begin van ʼn algehele ekostelsel wat deur waterstof aangedryf word,” het pres. Cyril Ramaphosa die naweek by die bekendstelling gesê.

Pres. Cyril Ramaphosa lyk erg in sy noppies in die kajuit van die reusevragmotor. (Foto: Jairus Mmutle/GCIS)

Die vragmotor is maklik so groot soos ʼn klein huis en is by die Mogalakwena-myn naby Mokopane in Limpopo in gebruik geneem.

“Dit is reusestap vir Suid-Afrika se waterstof toekomsekonomie,” het die president gesê.

Anglo America sê hy hoop om teen 2040 koolstofneutraal te wees.

Light on emissions. Light on the environment. And fuelled by the lightest element on earth – hydrogen.Learn more: https://bit.ly/3w9hIWK #JustTransition #ClimateAction #GreenHydrogen #AngloAmericanZA #nuPossibilities

Posted by Anglo American on Friday, May 6, 2022

Die maatskappy gaan sonkrag gebruik om die brandstof te verskaf en gaan die energie gebruik om die water in atome bestaande uit waterstof en suurstof te deel. Die verbranding van waterstof laat slegs water vry, nie koolstofdioksied soos in die geval van fossielbrandstowwe nie.

“Oor die volgende paar jaar voorsien ons dat ons die hele bestaande vloot dieselaangedrewe vragmotors met hierdie zero-uitlaatgas-vragvervoerstelsel gaan vervang, aangedryf deur groen waterstof,” het Duncan Wanblad, hoof van Anglo American se raad, gesê.

Die vragmotor is maklik so groot soos ʼn klein huis en is by die Mogalakwena-myn naby Mokopane in Limpopo in gebruik geneem. (Foto:Jairus Mmutle/GCIS)

“Indien die aanvoorprojek suksesvol is, kan ons tot 80% van diesel-uitlaatgasse by ons oopgroefmyne verwyder deur die tegnologie regdeur ons internasionale vloot te gebruik.”

In November verlede jaar het verskeie ryk lande, waaronder Frankryk, Duitsland, Brittanje en die VSA, minstens $8,5 miljard (sowat R137 miljard) en tegniese hulp beloof om Suid-Afrika te help om na ʼn laekoolstofekonomie oor te skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Miena ·

Wat n pragtige masjien. Ek het my loopbaan in AngloAmerican SA by Mogalakwena Platinum begin. Dit is voorwaar n trotse oomblik. #angloamerican, #womeninmining

Marius ·

As dit kom by sa is geldsake ‘n bodemlose put. Hulle kan niks vir hulself doen nie en wil alles verniet hê.

Misky ·

Hoop die drywer word behoorlik opgelei anders staan hy ook kort voor lank en stof opgaar erens in ‘n verlate stoor.

Miena ·

Ek kan jou verseker dat 1) alle L&D masjien operateurs is ten volle opgelei vir die masjien waarmee hulle werk, 2) die meeste (+-58%) van die operateurs op Mogalakwena Platinum Myn is vrouens, 3) hulle word deur streng toetse geplaas voordat hulle n masjien in die “open pit” op die “haul roads” mag gaan bestuur deur in ‘n “simulator” opgelei te word en dan op n “mock mine” waar ware kondisies is, 4) die masjien sal nie sommer gaan staan en stof opgaar nie. Alle masjiene werk 100%. Mogalakwena Myn is die vlagskip status van die AngloAmerican Platinum SA Groep. Werknemers van ander “operations” – soos Rustenburg, Ellisras, Musina (De Beers Venetia myn), Sishen myn staan behoorlik in tou om oorgeplaas te word en op hierdie myn indiens geneem te kan word wanneer die kans hom voordoen. Daar word altyd gespot en gese dat MOG print hulle eie geld. Gaan kyk gerus op hulle werbwerf. MOG is die grootste Platinum oopgroef myn en hulle beplan om n skag te sink vir ondergrond myn.

SjN ·

Daar is al verskeie alternatiewe energie ontwikkel, soos bv n motor wat sonder brandstof loop en voordat dit gepatenteer kan word, koop groot mpye dit en word in die kiem gesmoor.

Deon ·

Lees weer die proses, water bestaan uit waterstof en suurstof, as dit geskei word en een word gebruik dan bly die ander oor.. Maw, as die waterstof verbrand is dan bly suurstof oor.. Of het ek dit verkeerd? Daar was n soortgelyke proses waar die suurstof gebruik sou word met hulp vir die ontbranding. “suurstof, hitte en brandstof” drie bene van n vuur. Dit is baie gevaarlike tegnologie hierdie.

Ou Baardbek ·

Deon, inderdaad is nie-tegnies ingestelde mense baie opgewonde, maar waarskynlik omdat hulle nie die risiko’s besef nie. Dit is moontlik om ‘n bom van waterstof te maak, maar nie almal besef dit nie.

Phumba ·

“Lees weer die proses, water bestaan uit waterstof en suurstof, as dit geskei word en een word gebruik dan bly die ander oor” Die suurstof en waterstof word saam gebrand – daar bly nie suurtof oor nie.
Die suurstof en waterstof word apart gestoor – solank veiligheids maatreels gevolg word kan daar nie n ontploffing wees nie (die mengsel is baie energiek maar geskei is hulle skadeloos)

Miena ·

Ons het intense veiligheid en risiko analises toegepas met die risiko analisering van die hele proses asook die tipe bande wat mag gebruik word op die “hauler”. n “Operation” soos Mogalakwena sal nie onnodige kanse neem net om in die nuus te wees oor n eerste in SA of mynbedrywigheid nie. Ja – soos met alle tipes risiko wat nie voorsien / voorspel kan word nie sal daar seker n tandpyn of 2 hier en daar kop uitsteek – maar dan sal dit voorwaar geadresseer word d.m.v. “change management” en “risk analysis” prosedures. Ons is voorwaar trots op die groot masjien – hier op SA bodem – en kan nou saam met oorsese myne soos Chile, Brazil en Portugal praat oor die tipe vervoer (LHD) op n myn.

Mundus ·

Songedrewe elektrolise van water skei die watermolekule (oorvereenvoudig: 2H2O + 4e := 2H2 + O2.) 4 elektrons by 2 watermolekules maak 2 diwaterstof molekule en 1 suurstof molekule. Die energie (elektries) word gestoor in gasvorm totdat dit weer verbrand word vir hitte. Daar is ook ander prosesse om energie vanaf waterstof en suurstof te verkry, soos bv ‘n PEM fuel cell. Dis jammer dat die artikel nie duidelik is watter proses hier gebruik word nie.

JM ·

En wie het hierdie tegnologie geïnisieer en gebou? “Our people”? Laasgenoemde kry seker weer al die erkenning.

Miena ·

Nee glad nie – ons in SA is net baie ver agter die res van die wereld se myn tegnologie. Chile, Brazil en Portugal maak alreeds van die tipe LHD masjiene gebruik vir die afgelope 3 tot 5+ jaar. Ons het nou eers “wakker geword” en op die golf gespring om saam te ry met internasionale myne. Asook dit vorm deel van sekere “guidelines” wat uitgereik is om die “carbon footprint” te verminder by n sekere jaar en dan ook om niks skadelike emissies te he teen nog n jaar nie. DMRE stuur gereeld hulle inspekteurs na ons myne toe – onverwags – om te kom seker maak ons voldoen aan sekere regulasies. Daar is ook gereeld gesprekke tusen verskillende mynhuise om bymekaar te leer wat hulle tandekry prosesse was met sekere dinge.

Windhond ·

Ek sien n positiewe punt van die voertuig – as mens sukkel met taxis op die pad

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.