SA wéér buite stemming oor Rusland-Oekraïne-konflik

(Foto: Aris Messinis/AFP)

Suid-Afrika is een van 32 lidlande van die Algemene Vergadering van die Verenigde Nasies (VN) wat buite stemming gebly het oor die resolusie dat Rusland al sy troepe onmiddellik, heeltemal en onvoorwaardelik aan Oekraïne moet onttrek.

Saam met Suid-Afrika het China en Indië ook buite stemming gebly en voer aan dat hulle neutraal in die oorlog wil bly. Suid-Afrika bly sedert verlede jaar buite stemming oor die resolusie en wil kwansuis nie standpunt oor die oorlog inneem nie.

Altesaam 141 lande het ten gunste van die resolusie gestem en sewe daarteen. Dié sewe nasies is Rusland, Belarus, Sirië, Noord-Korea, Mali, Nicaragua en Eritrea.

Die getal stemme ten gunste van die einde van die oorlog bly onveranderd sedert Maart verlede jaar.

Nietemin meen Josep Borrell, hoof van buitelandse beleid van die Europese Unie, die getal stemme ten gunste van die resolusie wys dat die internasionale gemeenskap agter Oekraïne staan.

 ‘SA nie werklik neutraal’

Die Russiese minister van buitelandse sake Sergei Lavrov saam met Naledi Pandor, minister van samewerkende regering en internasionale betrekkinge (Foto: Phill Magakoe/AFP)

Die Suid-Afrikaanse regering het met sy besluit om buite stemming te bly aangedui dat hy neutraal wil bly om steeds goeie bande met albei lande te kan handhaaf, maar volgens Jaco Kleynhans, hoof van internasionale skakeling by die Solidariteit Beweging, is die regering nie werklik neutraal nie.

“Dit sou veel wyser wees om standpunt teen die oorlog in te neem as ʼn morele beginsel; om dit duidelik te maak dat Suid-Afrika oorlog veroordeel en hom heeltemal van die oorlog te verwyder,” sê Kleynhans.

“Dit is duidelik dat Suid-Afrika vir Rusland diplomaties beter hanteer.”

Die Suid-Afrikaanse regering het in Januarie die rooi tapyt vir Rusland se minister van buitelandse sake, Sergei Lavrov, uitgerol en is tans besig met ʼn gesamentlike militêre oefening saam met China en Rusland.

“Dit is begrypbaar dat Suid-Afrika sy handelsbetrekkinge met Rusland wil behou, maar dié handel is inderwaarheid weglaatbaar klein en nie só belangrik vir Suid-Afrika nie. Die handelsbetrekkinge met die westerse lande is veel belangriker,” sê Kleynhans.

(Foto: Guillem SARTORIO/AFP)

Op die vraag waarom Suid-Afrika so aan Rusland se rokspante vasklou, antwoord Kleyhans dat dit ʼn “ideologiese en historiese saak” is.

“Suid-Afrika is ideologies aangetrokke tot Rusland en het ʼn historiese en romantiese beeld van die Sowiëtunie se kommunistiese en sosialistiese uitkyke. Wat die regering egter nie begryp nie, is dat Rusland nie meer ʼn kommunistiese land is nie.”

Volgens Kleynhans het Suid-Afrika ook ’n “historiese lojaliteit” teenoor Rusland, ʼn land wat Suid-Afrika tydens die apartheidsjare ondersteun het.

“Indien die regering sy besluit oor die Rusland-Oekraïne-oorlog hierop baseer, tree hy glad nie in belang van die land en sy burgers op nie.”

Sterk steun vir Oekraïne

Oekraïense soldate met hul nasionale vlag op 4 Oktober 2022 (Foto: Anatolii Stepanov / AFP)

Die VN-stemming het gekom ná twee dae van debatvoering waartydens Oekraïne se minister van buitelandse sake, Dmytro Kuleba, die internasionale gemeenskap aangemoedig het om “tussen reg en verkeerd” te kies.

Hy het die idee verwerp dat Kiëf slegs die steun van die westerse lande, die Europese Unie, die Verenigde State en hul sleutelbondgenote het.

“Die stemming weerspreek die argument dat die suidelike lande nie aan Oekraïne se kant staan nie, omdat baie lande in Suid-Amerika, Afrika en Asië vandag ten gunste van die oorlog gestem het,” sê Kuleba.

Andriy Yermak, stafhoof van die kantoor van die Oekraïense president, het sy dankbaarheid uitgespreek teenoor almal “wat vir Oekraïne opgestaan het op die eenjaarherdenking van die [uitbreek van die] oorlog”.

“Die wêreld verstaan aan wie se kant die waarheid is,” het hy gesê.

Die resolusie het die steun vir Oekraïne se “soewereiniteit” en “territoriale integriteit” weer bevestig deur enige Russiese aansprake op die dele van die land wat dit beset te verwerp.

“Hopelik is daar nie volgende jaar ʼn tweede herdenking van hierdie sinnelose oorlog nie,” het die Japanse minister van buitelandse sake, Yoshimasa Hayashi, gesê.

“Rusland kan en moet gestop word,” het die Franse minister van buitelandse sake, Catherine Colonna, gesê.

Rusland het die resolusie verwerp, met sy VN-verteenwoordiger, Vasily Nebenzya, wat Oekraïne ʼn “nieu-Nazi” genoem het en die Weste daarvan beskuldig het dat hulle die land en die ontwikkelende wêreld opoffer in hul begeerte om Rusland te wen.

“Hulle is bereid om die hele wêreld in die afgrond van oorlog te dompel om hul eie hegemonie te handhaaf,” het Nebenzya gesê.

Bykomende bron: AFP

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

VaalDonkie ·

Ons het nie nodig om ons neuse in daai bynes in te steek nie.

jou gewete ·

niemand vra dit nie, dievraag is om te stem teen wat verkeerd is maar die regering kan nie teen iets wat verkeerd is stem nie, hulle is self te verkeerd en onwettig

George ·

Dis nie verbasend nie. Ons sal nie stem in so konflik nie omdat ons “vriendelike lande is” eenvoudig.

George ·

Ja dis die lande waarmee ons n venootskap het, en sal nie teen hul gaan nie.

Republikein in die Wes Kaap ·

Oekraïne gaan binnekort op ‘n posseël pas.

Jr ·

Hou op asseblief om te sê Suid Afrika het daarteen gestem en skryf liewerste, THE cANCer HET DAARTEEN GESTEM.

George ·

en miljoene mense. Julle kyk op socials wat gebeur en kies net so die Ukraine, hulle glad nie so onskuldig soos daai akteur president wil voorgee nie.

Harley Davidson ·

Soort soek soort is die Afrikaanse gesegde maar hier is dit ware feite ,ek hoop die weste isoleer hierdie piesang Republiek.

George ·

Ek dink nie jy het enigens n idee wat dan sal gebeur nie. Niks fout om uit stem te bly nie, die ou NP het destyds ook. Niks nuuts nie.

Ronel ·

Ons regering is ruggraatlose draadsitters – nie die oorgrootte meerderheid van die land se burgers nie!

Republikein in die Wes Kaap ·

Rusland en China sal die ANC faal net soos wat Amerika en sy bondgenote die Afrikaners gefaal het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.