SA weer op vlak 2

Pres. Cyril Ramaphosa (Foto: The Presidency/Twitter)

Pres. Cyril Ramaphosa het Sondagaand aangekondig dat Suid-Afrika Maandag vanaf ’n aangepaste vlak 1 van die afsonderingstydperk na ’n strenger vlak 2 van die afsonderingstydperk skuif.

Die besluit is geneem in die lig van ’n beduidende toename in nuwe Covid-19-gevalle die afgelope vier weke.

Van die ingrypendste maatreëls sluit in:

  • die landwye aandklokreël geld nou van 23:00 saans tot 04:00 soggens. Alle nie-noodsaaklike instellings, waaronder restaurante, kroeë en gimnasiums, moet teen 22:00 sluit om te verseker dat personeel en klante voor die aandklokreël tuis is;
  • godsdienstige, sosiale, politieke, en kulturele byeenkomste word weer beperk tot 100 mense binnenshuis en 250 mense in die buitelug. Kleiner lokale wat nie die hoeveelheid kan akkommodeer nie, mag nie meer as 50% van hul kapasiteit oorskry nie;
  • begrafnisse word beperk tot 100 roubeklaers. Nagwake en byeenkomste voor en na begrafnisse word steeds nie toegelaat nie; en
  • die dra van maskers in die openbaar is steeds verpligtend. Diegene wat nie ʼn masker dra wat die mond en neus bedek nie, begaan volgens Ramaphosa ʼn kriminele oortreding.

Pasiënte wat positief vir Covid-19 toets, word steeds verplig om tien dae vanaf hul eerste simptome te isoleer. Diegene wat in kontak gekom het met ’n persoon wat positief getoets het, word ook verplig om tien dae vanaf blootstelling te isoleer.

Toename in gevalle

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Ramaphosa het vanaand gesê die Vrystaat, die Noord-Kaap, Noordwes en Gauteng beleef reeds hul derde vlaag Covid-19-gevalle terwyl dit “net ’n kwessie van tyd is” voordat die hele land die derde virusgolf sal beleef gaan.

’n Gemiddeld van 3 745 daaglikse nuwe gevalle is die afgelope week aangemeld. Dit dui op ’n toename van 31% vergeleke met die vorige week en ’n toename van 66% teenoor die week voor dit.

Die aantal positiewe Covid-19-toetse het intussen die afgelope maand verdubbel van 4% tot meer as 11%. ’n Koers bo 5% is volgens kenners kommerwekkend.

’n Toename in hospitalisasies weens Covid-19 is ook in al die provinsies aangemeld.

Die president het gesê dit is veral nou belangrik om die verspreiding van Covid-19 te vertraag om soveel moontlik mense te laat inent voordat die derde virusgolf sy hoogtepunt bereik.

Inentings

(Foto ter illustrasie: Diana Polekhina/Unsplash)

Volgens Ramaphosa is meer as 67% van die land se openbare gesondheidswerkers met Johnson & Johnson se entstof ingeënt.

Meer as 480 000 mense het die afgelope twee weke ook die eerste dosis van Pfizer se entstof teen Covid-19 ontvang. Hulle sal hul tweede dosis 42 dae ná hul eerste moet ontvang.

In totaal het meer as 960 000 mense in Suid-Afrika reeds een entstofdosis ontvang.

Die president het verder gesê meer as ’n miljoen van die land se mees kwesbare burgers sal binne die volgende paar dae teen Covid-19 ingeënt wees.

Dít terwyl meer as 3 miljoen Suid-Afrikaners reeds geregistreer het om die entstof te ontvang.

Daar is tans meer as 400 inentingspersele reg oor die land en die regering het reeds genoeg dosisse vir sowat 40 miljoen burgers bekom.

Ongeveer 1,3 miljoen Pfizer-dosisse is reeds na inentingspersele versprei en byna 500 000 is toegedien.

Die volgende 636 000 dosisse kom vanaand in Suid-Afrika aan waarna dieselfde hoeveelheid weekliks tot einde Junie die land sal binnekom. Die land sal op daardie tydstip reeds 2,5 miljoen dosisse ontvang het.

Deel van: SA-nuus

Koronanuusbrief

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Teken in op die nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

12 Kommentare

jongste oudste gewildste
annie

Pfizer, wat skynbaar nie gewild in die VSA is nie, word nou in groot maat na SA gepos. Kry ons dit verniet? Dit hoef glo ook nie meer teen -80° geberg te word nie (?). Skynbaar word mense wat registreer met die entstof-vir-die-dag ingespuit. Watter entstof hoop CR om in SA te vervaardig? Alles baie verwarrende inligting.

Renier johannes

Wie gaan my betaal as ek moet isoleer die regering my maatskapy betaal nie

Dirk Mostert

Die maatreels verander niks vir my nie, afhangende van die definisie van “openbaar”.

donsie

Hoekom het hy nie die provinies wat so baie infeksies nie toegemaak nie, sodat die mense daar moet bly en nie die ander provinsies aansteek nie

B-Man

Teen hierdie tempo kan ek, ‘n 34 jarige, seker nou al registreer om my inenting ook te kry wanneer ek 60 is.