SA Weerdiens sê oor tropiese storm

Die tropiese storm, Ava, oor Madagaskar (3 Januarie 2018). Grafika: Die Suid-Afrikaanse Weerdiens

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) het Woensdagoggend bevestig ʼn storm oor Madagaskar, die eiland suidoos van Afrika, is tot ʼn tropiese storm, Ava, geklassifiseer.

Volgens Accuweather kan die tropiese storm lewensbedreigend wees aangesien dit met swaar reënval en stormsterk winde gepaard sal gaan. Ava sal na verwagting al sterker word namate dit in ʼn westelike rigting beweeg. Daar word verwag dat tot soveel as 600 mm reën op plekke oor die eiland kan uitsak.

ʼn Waarskuwing is uitgereik vir moontlike kitsvloede dié naweek in Antananarivo, die hoofstad van Madagaskar, asook modderstortings wat op plekke kan voorkom.

Puseletso Mofokeng, ʼn voorspeller by die SAWD, het Woensdag aan Maroela Media gesê daar word nie in dié stadium verwag dat Ava ʼn effek op Suid-Afrika se weerstoestande sal hê nie. Volgens Mofokeng onderdruk die hoëdrukstelsel wat ʼn tropiese storm voorafgaan die kans op reën en is die kanse vir reënval oor Suid-Afrika oor die volgende paar dae dus klein.

Mofokeng het gesê daar kan wel vandag en môre verspreide buie oor dele van KwaZulu-Natal verwag word, insluitend Pietermaritzburg, Ixopo en Margate. Vanaf Donderdagaand is daar ʼn klein kans op enkele buie in die noordelike dele van die Oos-Kaap en groot dele van die Vrystaat.

Oor die naweek is daar ook ʼn moontlikheid van reënval oor dele van die Noord-Kaap soos Kuruman, Kimberley en Orania, dele van die Vrystaat en oostelike dele van die Oos-Kaap en Maandag ʼn moontlikheid van reën langs die KwaZulu-Natalse kus, het Mofokeng gesê.

Hy het bygevoeg dat daar tans geen aanduiding is dat enige van hierdie storms hewig sal wees nie, maar het gesê die weerdiens sal voortgaan om die situasie te monitor en die publiek ingelig hou van verwikkelinge.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.