SA weermag se ontplooiing in DRK verleng

Miljoene mense het reeds in die konflik in die DRK gesterf of moes landuit vlug weens die geweld. (Foto: Omotola Akindipe/UNHCR)

Die ontplooiing van Suid-Afrikaanse weermaglede in die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) gaan vir nog ʼn jaar verleng word as deel van die Verenigde Nasies (VN) se magte (Monusco) in dié land.

Dié inligting word bevestig in ʼn brief wat pres. Cyril Ramaphosa op 22 Maart gestuur het en wat verlede week deur die gesamentlike staande komitee oor verdediging in die parlement bespreek is. In die brief lig Ramaphosa die parlement in dat 1 165 Suid-Afrikaanse soldate van 1 April tot 31 Maart volgende jaar in die DRK ontplooi word.

Monusca is in Julie 2010 gevestig met die doel om burgerlikes, humanitêre werkers en menseregte-aktiviste teen die dreigement van geweld deur gewapende rebellegroepe te verdedig en om die DRK-regering in sy vredespogings te ondersteun.

Volgens die webwerf DefenceWeb vorm die soldate deel van Monusco en sy ingrypingsbrigade in die DRK. Die brigade bestaan uit lede van Malawi, Suid-Afrika en Tanzanië en is tans die enigste VN-vredeskomponent wat aanvalle mag loods terwyl hy burgerlikes beskerm.

Vlugtelinge uit die DRK skuil in ‘n tydelike kamp. (Foto: Natalia Micevic/UNHCR)

Mamagase Ellech Nchabeleng, voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee, het gesê die komitee steun die ontplooiing in die DRK. ANC-LP Thabo Nelson Mmutle het die verlenging verwelkom, maar ook uitgewys dat daar voorheen probleme was met die onttrekking van Rooivalk-aanvalshelikopters uit die DRK.

Die DA se woordvoerder oor verdediging, Kobus Marais, het gesê die party steun ook die besluit en meen die streeksontplooiing van Suid-Afrikaanse magte is belangrik. Hy het gesê troepe in die DRK het Suid-Afrika tot dusver uitstekend verteenwoordig.

Die konflik en geweld in die DRK – en ook die nagevolge daarvan – het reeds miljoene lewens geëis.

Maj. Clint van Jaarsveld, verbonde aan die Suid-Afrikaanse mag in die DRK, het verlede maand gesê die DRK is ʼn plofbare land waar ʼn situasie vinnig kan verander. Dreigende aanvalle op burgerlikes is ʼn werklikheid en talle gewone Kongolese glo nie die VN doen genoeg om hulle te beskerm nie, veral weens sommige groepe se voortgesette pogings om die VN en sy werk te diskrediteer.

Volgens die BBC is een van die VN se grootste magte ter wêreld in die DRK ontplooi.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Michael 1 ·

En die SA grense le oop vir enigeen om vrylik heen en weer te beweeg terwyl hulle weermag in die DRK rond lê en ons belasting betaal.

Brett ·

Wat soek julle daar……. Soek julle ‘n pleimpie…….. Beskerm die mense huise wat geroof word, skole wat geplunder word, mense wat aan geval word in jou eie land….. Jou eie “huis” val plat en jou families vord vermoor, verkrag en geroof……. Maar dus ok dus als reg……. Ek het het my wets toe passers getuur om ander te haan help….. Hello WORD WAKKER……. Help jou eie land………

Scalla ·

Wat soek hulle daar, die nood op grense en townships is baie groter, bring hul terug

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.