SA weermaglede vas vir korrupsie

Die Valke het ses Suid-Afrikaanse weermaglede tussen 30 en 51 jaar oud vir beweerde korrupsie in hegtenis geneem. (Argieffoto ter illustrasie)

Die Valke het Dinsdag altesaam ses Suid-Afrikaanse weermaglede tussen 30 en 51 jaar oud vir beweerde korrupsie in die Noord-Kaap, Vrystaat en Noordwes in hegtenis geneem.

Dié operasie is in samewerking met die polisie se misdaadintelligensie-eenheid, die nasionale ingrypingseenheid (NIU) en die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) uitgevoer.

Volgens kapt. Matimba Maluleke, polisiewoordvoerder, was dié weermaglede tussen 2017 en 2019 by die Beitbrug-grenspos ontplooi om die gebiedsintegriteit van Suid-Afrika te beskerm.

“In plaas daarvan om hulle grondwetlike mandaat uit te voer en nasionale sekuriteit by grensposte te verseker, het hulle glo met sindikate gekonkel om gesteelde motors in ruil vir geld oor die Limpoporivier te smokkel.

“Daar word verder beweer dat die verdagtes R15 000 per voertuig geëis het, wat dan tussen die ses van hulle verdeel sou word. Hulle het gevolglik ook hulle eerlike kollegas in gevaar gestel.”

Volgens Maluleke is ’n projek met die naam “Night Vigil” van stapel gestuur om dieper ondersoek in te stel.

“Die verdagtes, wie se militêre range van gewone soldaat tot onderkorporaal wissel, was tot hul inhegtenisneming op die polisie se radar.”

Lt.genl. Godfrey Lebeya, die nasionale hoof van die Valke, het die gesamentlike pogings van die betrokke spanne geloof.

“Ons hoop werklik dat dít vertroue in regeringsinstellings en die breë Suid-Afrikaanse gemeenskap sal inspireer. Diegene wat met die verantwoordelikheid vertrou word om te dien en te beskerm moet nooit deur ‘vuil geld’ in die versoeking gebring word nie. Lesse sal gevolglik op die harde manier geleer word.”

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Rian ·

Die absolute gierigheid onder hierdie mense is skrikwekkend!

Nie Verbaas ·

Nou ja, n bewys van integriteit. Niks skok ons meer nie. Korrupsie is n daaglikse norm. Lekker ou Suid Afrika.

Snowball ·

Cry the beloved country.
Wie sou OOIT kon dink ons sou daal tot so ‘n moeras van korrupsie en boewery?

Francois ·

Daar sal niks van kom. More kry hulle opgeskorte vonnis en is hulle terug om hulle pos om verder saam sindikate te werk

Kokerboom ·

Hierdie is net oortjies van seekoei!Die hele stelsel is inherent bankrot/korrup.. Dieselfde is oorheersend in buurlande. Afrika is sistemies verrot!!!

Persheks Adri ·

Vertroue in die regeringsinstellings sal inspireer? Nee toe nie ons vertrou beslis nie dié instellings nie! Van waar gehasie?

Belinda ·

vertel ons iets wat ons nie weet… niemand in die gereg afdeling is betroubaar nie. almal soek iets uit iets….

Alleen Wolf ·

Glad nie verras nie, kan maar net nie skelm wees vermy nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.