SA-wetenskaplikes ontdek komeetdiamante

Ontploffende komeet

‘n Ontploffende komeet. Grafika: Terry Bakker

Suid-Afrikaanse wetenskaplikes het die eerste noemenswaardige oorblyfsel van ‘n komeet op aarde ooit gevind, en dié brokstukkie bevat boonop verskeie mikroskopiese diamantjies.

Die ontdekking is in Egipte gedoen in ‘n area waar ‘n komeet 28 miljoen jaar gelede in die atmosfeer ontplof het, en sand op die aardoppervlak gesmelt het. Een van hierdie gesmelte sandsteentjies is as juweel in ‘n kunswerk aangebring wat in 1922 in Tutankhamun se grafkelder gevind is.

In hierdie area het ‘n Egiptiese geoloog jare gelede ‘n vreemde swart klippie ontdek. Prof. Jan Kramers van Wits en kollegas het die swart steentjie ontleed, en vasgestel dat dit die eerste beduidende stukkie van ‘n komeet is wat ooit op aarde ontdek is. Ander oorblyfsels tot dusver was meestal stofdeeltjies in die atmosfeer, en koolstofneerslae in Arktiese ys.

Boonop bevat die steentjie mikroskopiese diamantjies. Diamante vorm gewoonlik diep onder die aarde onder hoë druk, maar die druk kan ook veroorsaak word deur die skokgolf van ‘n komeet wat in die atmosfeer ontplof.

Die bevindinge word binnekort in die  Earth and Planetary Science Letters gepubliseer. Onder die ander Suid-Afrikaanse medewerkers van prof. Kramers is prof. David Block (Wits), dr Marco Andreoli van die Suid-Afrikaanse Atoomenergiekorporasie en Chris Harris van die Universiteit van Kaapstad.

Bron: meer besonderhede kan hier gelees word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jasper ·

Daars hy. Nou het die Egiptenare nog iets gekry om oor te baklei.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.