SA wik en weeg oor onttrekking aan strafhof

Lindiwe Sisulu, minister van internasionale betrekkinge en samewerking. Foto: Sibonelo Ngcobo/ANA

Die Suid-Afrikaanse regering heroorweeg tans sy omstrede besluit om aan die Internasionale Strafhof (ISH) te onttrek.

Lindiwe Sisulu, minister van openbare betrekkinge en samewerking, het Woensdag tydens ʼn media-inligtingsessie gesê “ʼn finale besluit oor Suid-Afrika se onttrekking aan die strafhof is nog nie geneem nie”.

Dié aankondiging word beskou as ʼn skielike ommeswaai van die regering se vroeëre vasbeslotenheid om wel aan die hof te onttrek. EWN berig Sisulu het Woensdag gesê die “vorige administrasie” het gedink voortgesette lidmaatskap aan die ISH is onhoudbaar, maar daar is nou kabinetslede wat glo dat dié hof steeds ʼn belangrike instrument in die handhawing van menseregte is.

Die regering se besluit om aan die ISH te onttrek het gevolg op ʼn dispuut in 2015 oor ʼn besoek van die Soedannese president, Omar al-Basjir, wat deur die hof van oorlogsmisdade, misdade teen die mensdom en volksmoord aangekla word.

Al-Basjir het in Junie 2015 die Afrika-unie se beraad in Johannesburg bygewoon, toe die Suider-Afrikaanse Litigasiesentrum (SALC) ʼn hofaansoek ingedien het om Al-Basjir in hegtenis te laat neem op grond van die ISH se lasbrief vir sy inhegtenisneming.

Die regering het hom egter nie in hegtenis geneem nie en ʼn Suid-Afrikaanse hof het Al-Basjir opdrag gegee om in die land te bly totdat oor sy inhegtenisneming besluit kan word. Nadat die hof beveel het Al-Basjir moet wel in hegtenis geneem word, is vasgestel hy het reeds die land verlaat.

Suid-Afrika het daarna gekla dat die ISH hom nie ʼn regverdige verhoor gegee het nie en dat daar verwarring in die hof self is oor die verpligtinge van sy lidlande om hoofde van lande, wat nie deel is van die ISH nie, in hegtenis te neem. Die regering het ook aangevoer dat die hof Afrikalande eensydig teiken.

Michael Masutha, minister van justisie, het gevolglik in Oktober verlede jaar aangekondig dat die Suid-Afrikaanse regering kennis gegee het van sy onttrekking aan die ISH.

Sisulu het Woensdag gesê “noudat die gemoedere bedaar het”, word die besluit weer heroorweeg.

Alana Bailey, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum verantwoordelik vir internasionale skakeling, het gesê die regering se uitsprake sedert verlede jaar ten gunste van onttrekking aan die ISH, asook die onsekerheid daaroor of die proses gaan voortgaan al dan nie, berokken Suid-Afrika se internasionale beeld groot skade.

“In gesprekke in Europa en Brittanje die afgelope maand het senior parlementslede van die Europese Unie (EU), België, Nederland en Brittanje hul kommer oor Suid-Afrika se verbintenis tot die handhawing van die oppergesag van die reg en die beskerming van menseregte uitgespreek. Die moontlike onttrekking aan die ISH en die regering se gebrek aan leierskap wat deur die voortslepende kwessie getoon word, vererger beslis hierdie kommer en is herhaaldelik in gesprekke beklemtoon,” het Bailey gesê.

Bailey het onlangs besoek aan Europa en Brittanje afgelê as deel van AfriForum se internasionale veldtog teen onteiening sonder vergoeding.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

HPV ·

Die regime vrees self die ISH, dit is die enigste rede vir onttrekking.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.