SA wil eintlik R350 miljoen vir Kuba gee

Kuba se vlag. (Foto bloot ter illustrasie: Yamil Lage / AFP)

Die hofrekord in AfriForum se aansoek teen die regering se beplande R50 miljoen-skenking aan Kuba wys dat die algehele bedrag van die skenking eintlik R350 miljoen beloop.

Dít het aan die lig gekom nadat die burgerregtegroep se regspan dié hofrekord as deel van sy hersieningsaansoek aangevra het. Volgens die rekord het die regering ingestem tot ʼn ooreenkoms met Kuba waarvolgens die R50 miljoen slegs as die eerste betaling sou dien in ʼn skenking wat eindelik meer as ʼn kwartmiljard rand sal beloop.

Die regering is vroeër vanjaar hof toe gesleep oor sy planne om ʼn reusebedrag aan Kuba te skenk. Die Pretoriase hooggeregshof het ʼn interdik teen die skenking toegestaan en later die regering se aansoek om verlof tot appèl daarteen van die hand gewys.

Reiner Duvenage, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum, sê weens die jongste bevindinge sal AfriForum se regspan nou ʼn aanvullende beëdigde verklaring opstel.

“Hierdie kontrak om R350 miljoen te skenk strook nie met die wette van Suid-Afrika nie en dit is heeltemal irrasioneel om só ʼn buitensporige skenking in hierdie moeilike tye te maak,” sê Duvenage.

“Ondanks hierdie verregaande nuus is AfriForum meer optimisties as ooit tevore dat ons hierdie skenking sal stuit.”

Naledi Pandor, minister van internasionale betrekkinge en samewerking, het tydens haar departement se begrotingsrede gesê Suid-Afrika is daartoe verbind om “in solidariteit met ons broers en susters in Kuba op te tree” aangesien dié land vroeër “skouer aan skouer saam met ons vegters gestaan het in die stryd om vryheid en ons dus moet help as ons kan”.

Die skenking sal onder meer aangewend word om voedseltekorte in Kuba te help verlig.

Die aankondiging daaroor is egter wyd gekritiseer, gegewe die stygende werkloosheidsyfer en armoede in Suid-Afrika.

Lening onder vergrootglas

Die DA dring nou ook daarop aan dat die ouditeur-generaal (OG), Tsakani Maluleke, ʼn dringende oudit van ʼn destydse lening wat aan Kuba toegestaan is, moet doen.

Die versoek volg nadat dit aan die lig gekom het dat die regering sedert 2018 reeds meer as R147 miljoen aan Kuba geleen het.

Volgens Willem Faber, DA-lid van die portefeuljekomitee oor internasionale betrekkinge en samewerking, het pres. Cyril Ramaphosa in antwoord op ʼn geskrewe parlementêre vraag onthul dat oudpres. Jacob Zuma in 2010 ʼn leningsooreenkoms met Kuba aangegaan het nadat hy dié land besoek het.

In hierdie ooreenkoms het die regering onderneem om miljoene rande aan Kuba te skenk. R63 miljoen hiervan is reeds aan Suid-Afrika terugbetaal.

Die DA is nietemin ernstig bekommerd oor die lening, aangesien dit “baie onverantwoordelik is van Suid-Afrika om geld aan enige land te leen”.

“Ons het een van die hoogste werkloosheidsyfers ter wêreld, ons ekonomie is aan flarde ná die wanbestuur van die Covid-19-pandemie en ons gaan gebuk onder jare lange staatskaping en korrupsie deur die regerende party,” sê Faber.

“Die ANC-regering se regverdiging van die lening, asook sy voorneme om ʼn verdere R50 miljoen aan Kuba te skenk, is laakbaar.”

Die DA sal die OG ook vra om te bepaal of die jongste skenking nie moontlik deel is van ʼn geldwasseryskema waar die geld net weer by korrupte amptenare beland nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

32 Kommentare

Roebs ·

Wat de hel. Ons land het nie eers genoeg geld nie nou wil hulle dit skenk? Maak ons land reg voor jy vir ander lande geld skenk? Nee man hoe werk dit?

Jack ·

Nee wat mense.Ons is in uitgelewer aan onbekwame,onbevoeg en net uiters moedswillige ministers.Hulle leef so ver weg van die realiteite in die land- dit is net skokkend.Gee geld vir Kuba en more moet die weste weer kos voorsien aan ‘n kripperende land met miljoene wat bakhand staan.

Porseleintjie ·

Die gate word groter en die paychecks kleiner maar die regering wil miljoene skenk. Liewe vy. Wil Elon Musk nie SA koop nie??

Nie Verbaas ·

Naledi Pandor is ver verwyderd van die realiteit af. Bewys net weereens dat alles in order is vir ministers solank hulle in duur huise bly, duur motors ry en whiskey suip. Kuba is geen broer of sister van my nie. Dit lyk of Kuba nie eers hulle eie land behoorlik kan bestuur nie maar dan bring die regering nog hulle “spesialis” dokters en ingenieurs Suid Afrika toe. Onnosel verby.

Andries ·

Ek het geen broers of susters in Kuba nie. Ook nie Suid-Afrika nie – net die ANC …

Dries

Ilze ·

Kuba eis nou sy pond vleis van SA. Het die ANC gedink Kuba help hulle vir mahala

Twallie ·

Dis tien teen een hoe hulle fondse uit die land wil funnel.

Ek ruik ‘n groot rot.

groenboer ·

Die ANC hou Kuba voor as voorbeeld en model van hoe om ‘n land suksesvol te bestuur. As dit so is dat Kuba so ‘n wonderlike utopie is, wonder mens waarom hulle dan skenkings nodig het…

piet ·

Hulle is slinks. Hierdie geld gaan nie vir Kuba se mense nie. Dis ‘n komplot tussen ons ministers en hulle ministers. Ons klomp weet dis net ‘n kwessie van tyd tot die hele ANC ineenstort. Skep en maak plannetjies terwyl hulle kan. Ek kan sien hoe ‘n paar van hierdie korruptes eendag Kuba toe gaan vlug. So terloops – het julle gesien hoe lyk van Kuba se strande? Absoluut ongelooflik, asemrowend.

Alfred E Neuman ·

Kuba is totaal bankrot. Jy kan slegs kos koop as jy Euros het, anders lewe jy van rys en water. En ja, hulle strande is ongelooflik. Was self daar n paar jaar gelede.

Wondermaarnet ·

Dit is ‘n skande. Hoeveel gaan die kaders nog wil weggee? Waar kom die fondse vandaan? Gebruik seker ons belastingbetalers se geld vir ander lande. Ek werk vir my en my familie en nie vir ander lande se burgers nie!

Manie ·

En so gaan die plundering van ons fondse voort, begin deur Zuma en gevolg deur Ramaphosa.

Deon ·

Begin julle ondersoeke sommer by die minister wat die wol so voor ons oee wil draai, en kla haar aan

Jacobus ·

Hierdie is niks anders as vere vir Kader nessies. Bevestig net weer die ANC se totale gebrek aan respek vir sy eie landgenote.

Manie ·

Bietjie backpay uit die ou dae, nuttelose Kubaanse entstof wat deur die weermag aangekoop is, Kubaanse ingenieurs wat in SA werk en wie se grootste gedeelte salaris aan die Kubaanse regering betaal word, die lysie word lank.

Misky ·

Seker gedink ons gaan nou twee tree terug gee en sê die R50 miljoen is nou okay. Nee wat mede SA’ners, ons is in GROOOOOT moelikheid met die onbevoegde regering van ons. Meer as wat ons gedink het.

Tokkel ·

Ek ruik ‘n rot, ‘n groot rot! Seker “pay backtime” vir gunsies gelewer….en Kuba soek nou hul geld.
Sies aan die ANC regering om nie sy eie mense deur armoede te help nie. Eskom pryse, Petrolpryse en kospryse gaan net op en op. Ek glo as hulle hierdie R350 miljoen inwerk in SA se nood sal dit baie meer van waarde wees……Ek sê weer, ek ruik ‘n VROT ROT!!

ReneD ·

Belaglik as daar in ag geneem word regering het nie eers kapasiteit om die honger werklose miljoene in ons eie land te voer nie. CHARITY BEGINS AT HOME

Riaan ·

In ‘n land waar 90% van die belastingbetalers NIE vir die ANC gestem het nie is dit dalk net die vonk vat nodig is vir ‘n volskaalse Tax Revolt. Ons moet iewers begin om die plunder beursie toe te maak

Alfred E Neuman ·

Hoe gouer, hoe beter. Maar wie sal so n aksie lei? Ons wag, en ons wag, en ons wag…….

Jack ·

Sonder Afriforum se intervensie sou die land al lankal op die vlak van kuba gewees het. Welgedaan Afriforum.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.